Taxi-staking: Minister ‘sal nog spyt wees’

Protesaksie deur die Nasionale Taxi-alliansie in Pretoria (8 November 2017). Foto: ANA

Joe Maswanganyi, die minister van vervoer, is Woensdag daarvan beskuldig dat hy met die lewens van miljoene Suid-Afrikaners speel wat direk deur die land se taxi-bedryf geraak word.

Francis Matsitsa, president van die Nasionale Taxi-alliansie (NTA), het meer as ʼn duisend taxi-bestuurders en operateurs toegespreek wat by die departement van vervoer in Pretoria bymekaargekom het. Matsitsa het aan die skare gesê Maswanganyi se dae as minister is getel, nes sy voorgangers.

“Jy moet ophou speletjies speel met die taxi-bedryf. Ons is die taxi-bedryf en ons gaan nêrens heen nie. Jy kan hoop en wens dat die taxi-bedryf sal verdwyn, maar dit sal nooit verdwyn nie. Ons het verskeie ministers gesien wat in jou amp gedien het,” het Matsitsa gesê.

“Jy sal nog eendag spyt wees jy het die NTA geïgnoreer. Almal van hulle [vorige ministers van vervoer] is op ʼn streep afgedank en jy gaan dieselfde ding oorkom. Ons verseker jou, jy sal ons nie weer in dieselfde lig sien nie. Wees gerus, daar kom nog baie ministers ná jou.”

Protesaksie deur die Nasionale Taxi-alliansie in Pretoria (8 November 2017). Foto: ANA

Theo Malele, die NTA se nasionale woordvoerder, het vroeër gesê die taxi-bedryf gaan gebuk onder probleme wat die regering nie aanspreek nie, ten spyte daarvan dat die industrie elke dag 70% van Suid-Afrika se pendelaars bedien. Malele het gesê hulle het hul besware al telkemale met die regering opgeneem, maar kry geen reaksie nie.

“Toe daar ʼn kabinetskommeling was en ons gehoor het Dipuo Peter is deur Joe Maswanganyi vervang, het ons onmiddellik aan hom geskryf om hom geluk te wens met sy aanstelling, maar hy het nie die hoflikheid gehad om dit te waardeer nie,” het Malele gesê.

Protesaksie deur die Nasionale Taxi-alliansie in Pretoria (8 November 2017). Foto: ANA

“Ons het daarna nog ʼn brief vir hom gestuur om te versoek dat ons vergader sodat ons ons besware met hom kan bespreek. Hy het nie positief daarop reageer nie. Hy het glad nie daarop reageer nie. Ons moes dit op onsself en ons lede neem om aansoek te doen vir ʼn protesoptog sodat ons ons besware aan die minister kan gaan voorlê.”

Malele het gesê die assosiasie het besluit om ook na die Uniegebou te stap, omdat dit die presidensie is “wat hierdie ministers in dié posisies sit”.

Malele het gesê van die kwessies waaroor die NTA ontevrede is, is onder meer onwerkbare taxi-herkapitalisering, die nie-subsidiëring van die taxi-bedryf en bedryfslisensies wat nie aan verdienstelike taxi-operateurs uitgereik word nie.

Die taxi-betoging Woensdag is ontsier met die intimidasie van motoriste, afsperring van hoofroetes deur taxi-bestuurders en erge ontwrigting van verkeer. Malele het gesê die betoging was veronderstel om “vreedsaam” te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Estelle ·

Hoe vergelyk dit met die werklike vreedsame betogings op Swart Maandag vir slagoffers van plaasaanvalle ? Om 12:30 was helfte van die winkels by Woodlands nog toe omdat personeel nie by werk kon uitkom nie. Hoeveel mense moes omdraai by toe winkels en wonder wat se verliese is gelei? Gaan 1 haan ooit daarna kraai?

Johann ·

Né? So ewe spreek hy die minister aan en sê hom wie en wat en wanneer? Whahahhaaa….lekker byt die ANC se arrogansie hom in die gat! Dis wat gebeur as jy als en almal toelaat.om.te doen wat hulle wil…solank hulle jou aan bewind hou. En dan…eendag…kom vra hulle NOG ansurdhede en dreig en brand en breek en verwoes…all in the name of Afrika Demokrasie.

Cecile ·

So ia daar ook wat nou aangekla gaan word ivm die staking soos die boere wat rustig was.

Frikkie Geld en huis ·

Nou wonder ek waar is superintendent kolonel Isaac Mahamba dan nou?? Laasweek wou hy mos die betogers in die voorste linie laat arresteer, omdat hul die skoliere sou verhoed om eksamen te skryf. Wel, die eksamen is nog nie klaar nie, en tog is daar geen dreigende arrestasies oor vandag se betoging nie.

Gert ·

Sluit toe. Haha. Sal nooit gebeur. Boeties. Besighede eies verlies aan inkomste.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.