Taxi-staking: Paaie reeds vroeg al afgesper

Paaie word afgesper in aanloop tot die protesoptog deur die Nasionale Taxi-alliansie. Foto: Twitter

Taxibestuurders het Woensdag reeds van vroegoggend begin om paaie af te sper in aanloop tot ʼn protesoptog wat vandag deur die Nasionale Taxi-alliansie (NTA) in Pretoria gehou sal word.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het op sy amptelike Twitter-profiel gesê ongeveer 20 taxi’s het Soutpanweg in Soshanguve afgesper, terwyl nog taxi’s op die Mabopane-snelweg saamtrek. Op die R573-Molotopad het taxi’s ook die pad afgesper. Verkeer in Mamelodi en East Lynne is ook ontwrig.

Sosialemediagebruikers het foto’s gedeel van taxi’s wat oor ʼn pad in Soshanguve staan met brandende voorwerpe wat op die pad gesien kan word. Volgens die SAPD is ʼn aantal polisielede van verskillende eenhede reeds ontplooi om die situasie te monitor.

Paaie word afgesper in aanloop tot die protesoptog deur die Nasionale Taxi-alliansie. Foto: Twitter via @ewkaboga

Die Tshwane-busdienste het Dinsdagaand op sy amptelike Twitter-profiel bevestig dat sy bestuurders nie deelneem aan die taxi-staking nie, maar het gewaarsku dat hy tydens vorige stakings gesien het dat busbestuurders en busse met klippe bestook is. “Ons sal pendelaars ingelig hou van enige verwikkelinge,” lui die twiet.

Teen Woensdagoggend het verskeie sosialemediagebruikers beweer dat die busdienste wel geraak is en dat pendelaars noodgedwonge van treindienste gebruik moet maak. Die busdienste het teen 05:30 gesê sommige roetes is afgesper en vertragings en ontwrigtings word verwag, maar in dié stadium het alle busse op hul roetes vertrek soos beplan.

Paaie word afgesper in aanloop tot die protesoptog deur die Nasionale Taxi-alliansie. Foto: Twitter via @ewkaboga

Maroela Media het vroeër berig die NTA-optog sal vanaf 09:00 by die ou Putco-busdepot in Marabastad begin. Optoggangers sal om 11:30 via Strubenstraat begin beweeg na die minister van vervoer se kantoor op die hoek van Bosman- en Strubenstraat waar hulle om 12:00 ʼn memorandum sal oorhandig. Van daar af sal hulle regs draai in Nelson Mandela-straat en dan links in Madibastraat waar hulle om 13:00 ʼn memorandum by die Uniegebou sal oorhandig.

Die optog sal deur Madibastraat, Nelson Mandela-straat en Johannes Ramokgoase-straat terugbeweeg na die busdepot in Marabastad.

Motoriste word aangeraai om die genoemde strate te vermy en eerder van Nana Sita-, Francis Baard- en Boomstraat as alternatiewe roetes gebruik te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Anoniem ·

Nou wonder ek of Julius (Ceaser) Malema sy groot mond nou gaan rek. Kyk Julius nie net ontwrig jou eie mense die verkeer en vehinder hulle ander om by hul werk uit te kom nie maar hulle saai venietiging en beskadig alles wat voorkom.

jan_alleman ·

nou waar is die metro polisie wat so vinnig was om nou die dag die boere te arresteer nou ?
as hulle nie vandag n klomp taxi bestuurders arresteer nie moet hulle weet wat gaan gebeur as hulle my probeer arresteer die 25ste want daan gaan ek hulle bietjie reghelp soos ons in die ou dae gemaak het

Afrikaner ·

Ek neem aan hulle gaan ook gearresteer word vir paaie blok…..o ja vergeet dis mos nie boere nie.

Meraai ·

Ek het vanoggend wakker geword met die reuk van iets wat brand en soos rubber ruik. Besef toe dis die taxis wat weer tyres brand. Bly naby die Moloto pad. Gelukkig was my pad oop werk toe. Net vreeslik baie metro en polisie op die R21 gekry.

Padverbruiker ·

Gedurende die Swart Maandagoptog is GEEN strate hoegenaamd versper nie en het die verkeer bly beweeg. Vandag word weer voorwerpe op die paaie gebrand en paaie/hoofweê versper – EN DIS MAAR REG? Lekker dubbele standaarden nê? Nou kan mens maar reguit sê die boere word geteiken.

Dawie ·

Heeltemal reg Danie, ek wil verder ook weet of mense wat paaie afsper ook vervolg gaan word.

Johan. H. ·

Plaas daaie maer ding met die mop op die kop voorloop ,dan weet ons mos waar is hy as ons met hom wil gesels,,,,,,

THEA SWART ·

dis meestal hulle eie mense wat sukkel om ander vervoer te kry so eintlik straf hulle hulle eie mense dis so onnodig maar stem maar weer anc – geen simpatie nie

Rooikop ·

In my omgewing was die paaie heerlik stil met al die broodblikkies wat elders moeilikheid maak.

Opleiding ·

Miskien moet ons gaan kyk hoé dit gedoen word, vir opleiding!

Elke van Rensburg ·

Vra is vry: Ek wonder hoeveel onskuldige matriekulante gaan vandag ook nie hulle eksamens kan aflê omdat hulle laat is nie?

Sputnik ·

Ek dink die taxibestuurders kan die lewe vir hulself baie makliker maak. In plaas daarvan om al die pad tot by die uniegebou te loop, neem net ‘n taxi! :-))

Chris Ws ·

En die polisie ”monitor” weereens die situasie!Hulle beskadig die paaie met brandende voorwerpe en kom NIKS oor nie.Dis duidelik die polisie doen nie hul werk nie!Mbalula,maak jou oge oop vir ‘n slag!

Willie ·

Hulle sal niks doen nie, ek dink ons skrik as ons moet hoeveel Taxi’s behoort aan SAPD en Metro Polisie lede..

NIKS ·

Niks sal gebeur met hulle nie, net met die blanke boere, die MEDIA is mal daaroor, want hulle plaas net Malema se snert, en geen kritiek teen Malema nie. Die Media was altyd nog die witman se grootste vyand, moenie dat ‘n blad wat voorgee hy is onpartydig of selfs regs julle flous nie, hulle speel nogsteeds die politieke korrekte spel.

CaseIH ·

Weet hulle hoe moeilik skuif jy ń 600 quad met ń 5 ry ripper?

A Mac ·

Sê wat julle wil, maar die paaie het nie so gelyk op “Swart Maandag” nie.

FM ·

Nou sal ons hoor wat Fikile, julius en die anc te sê het oor die chaos. Hoeveel matrikulante word nou verhinder om eksamen te skryf. Swart Maandag het nie tyres gebrand, voertuie aan die brand gesteek of enige ander skade veroorsaak nie. Nou sal ons sien wie word in hegtenis geneem. Watch nou die dubbele standaarde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.