Taxi-staking: Skoliere versoek om tuis te bly

Taxi’s ry in ‘n konvooi op die R80 buite Pretoria. Foto: TMPD

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het Donderdag ʼn beroep op ouers gedoen om leerders in die provinsie vir die dag by die huis te laat bly te midde van ʼn grootskaalse minibustaxistaking wat erge verkeersopeenhopings reg oor die provinsie tot gevolg het.

“Die veiligheid van ons leerders kom eerste. Geen leerder sal benadeel word deur die taxistaking nie en ons versoek skoolhoofde en beheerliggame om eksamens wat vir vandag geskeduleer is te herskeduleer. Ons doen ʼn beroep op skole om die situasie te evalueer sodat geen leerder geraak word nie,” het Lesufi gesê.

Die Gautengse departement het Lesufi se beroep in ʼn persverklaring herhaal.

“Die departement doen ʼn beroep op ouers om hul kinders by die huis te hou vir hul eie veiligheid. Die departement is van mening dat alle voorsorgmaatreëls getref moet word om ons kinders veilig te hou,” het Steve Mabona, woordvoerder van die departement, in die verklaring gesê.

“Die departement het reeds skoolhoofde in kennis gestel om leerders wat dit nie vandag na skole kan maak nie, ʼn tweede kans te gun om eksamens te skryf. Ons verstaan baie skole skryf vandag eksamens, maar verseker ouers dat kinders wat nie vandag skool toe gaan nie, ʼn tweede kans gegun sal word.”

Die departement het gesê in gevalle waar leerders dit wel tot by hul skole maak, word die skole versoek om te besluit om met vandag se eksamens voort te gaan, onderworpe aan die voorwaarde dat dit veilig is om dit te doen.

Maroela Media het vroeër berig talle motoriste en pendelaars is Donderdag weer geraak deur stakende taxibestuurders wat die snelweë en hoofroetes in en om Pretoria en Johannesburg versper het.

Dít volg nadat die taxi-organisasie Santaco kennis gegee het dat taxi-pendelaars alternatiewe vervoerreëlings moet tref vir Donderdag weens ʼn grootskaalse betoging teen, onder meer, die “hoë koste van minibustaxi-aankope”.

Taxibestuurders het van vroegoggend uit verskeie rigtings in Gauteng na die kantoor van die South African Taxi Finance in Kerkstraat in Midrand beweeg waar hulle om 10:00 hul beswaar aan die direkteurs van die maatskappy gaan oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pop

Dis baie pateties dat taxi’s ‘n hele stad kan tot stilstand bring. Dis maar ok, so as hulle dit in hul koppe kry kan hulle die hele land “hostage” vat, deur taxi’s. Eks verstom. Kan enigiemand dink dat dit in ‘n ander land sal gebeur. Nee, daar sal baie gou vir hulle gesê word, probeer dit net en ons vat julle uit. Klaar!!!

Lena

As hulle die skole sluit is daar gewoonlik iets groot aan die broei, soos met die WesKaap storm en die brande in Knysna en omgewing wat gevolg het, so hou hierdie spasie dop?

Robert

Ons kinders het skool toe gegaan!!! Regte skole, Lesufi, waar die kinders geleer word om vir hulself te dink en eendag volwaardige burgers te wees. En nie eendag ‘n land verwoes met stakings en barbaarse gedrag nie

M

Ons het vir hele 2 en ‘n halwe uur as gevolg van taxi’s stil gestaan dit verstom my net dat die polisie en verkeers mense niks doen nie hoekom word ons nie voor die tyd gewaarsku oor die goed nie. hul is ongelukkig oor goed en nou moet die res van die land se mense ook daaronder ly. maak die bussies en versekering nog duurder dalk sal daar minder taxi’s op die pad wees wat ons almal se arm hare laat rys van woede oor hul die padreels so oortree en daarmee wegkom en soveel mense se lewens in gevaar… Lees meer »

Jollie

Hoekom kan om te “staak” nie ook ‘n kriminele oortreding wees nie, kyk wat gebeur elke keer as daar gestaak word, alles word verwoes en beskadig en die volgende dag word daar gehuil want niemand kan by die werk kom nie omdat treine, bussen ens gebrand of beskadig is. Deur staking kry mense heeltyd hulle sin soos klein kinderjies en hulle kom daarmee weg. Verban staking en sien hoe SA verander…..swak gedrag word heeltyd toegelaat, dit is waarom dit gaan soos dit gaan hier in by ons. Daar is actually mense wat wette aanvaar en daarmee saamleef, realiteit is realiteit,… Lees meer »