Taxi-staking: Skoliere versoek om tuis te bly

Taxi’s ry in ‘n konvooi op die R80 buite Pretoria. Foto: TMPD

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het Donderdag ʼn beroep op ouers gedoen om leerders in die provinsie vir die dag by die huis te laat bly te midde van ʼn grootskaalse minibustaxistaking wat erge verkeersopeenhopings reg oor die provinsie tot gevolg het.

“Die veiligheid van ons leerders kom eerste. Geen leerder sal benadeel word deur die taxistaking nie en ons versoek skoolhoofde en beheerliggame om eksamens wat vir vandag geskeduleer is te herskeduleer. Ons doen ʼn beroep op skole om die situasie te evalueer sodat geen leerder geraak word nie,” het Lesufi gesê.

Die Gautengse departement het Lesufi se beroep in ʼn persverklaring herhaal.

“Die departement doen ʼn beroep op ouers om hul kinders by die huis te hou vir hul eie veiligheid. Die departement is van mening dat alle voorsorgmaatreëls getref moet word om ons kinders veilig te hou,” het Steve Mabona, woordvoerder van die departement, in die verklaring gesê.

“Die departement het reeds skoolhoofde in kennis gestel om leerders wat dit nie vandag na skole kan maak nie, ʼn tweede kans te gun om eksamens te skryf. Ons verstaan baie skole skryf vandag eksamens, maar verseker ouers dat kinders wat nie vandag skool toe gaan nie, ʼn tweede kans gegun sal word.”

Die departement het gesê in gevalle waar leerders dit wel tot by hul skole maak, word die skole versoek om te besluit om met vandag se eksamens voort te gaan, onderworpe aan die voorwaarde dat dit veilig is om dit te doen.

Maroela Media het vroeër berig talle motoriste en pendelaars is Donderdag weer geraak deur stakende taxibestuurders wat die snelweë en hoofroetes in en om Pretoria en Johannesburg versper het.

Dít volg nadat die taxi-organisasie Santaco kennis gegee het dat taxi-pendelaars alternatiewe vervoerreëlings moet tref vir Donderdag weens ʼn grootskaalse betoging teen, onder meer, die “hoë koste van minibustaxi-aankope”.

Taxibestuurders het van vroegoggend uit verskeie rigtings in Gauteng na die kantoor van die South African Taxi Finance in Kerkstraat in Midrand beweeg waar hulle om 10:00 hul beswaar aan die direkteurs van die maatskappy gaan oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Pop ·

Dis baie pateties dat taxi’s ‘n hele stad kan tot stilstand bring. Dis maar ok, so as hulle dit in hul koppe kry kan hulle die hele land “hostage” vat, deur taxi’s. Eks verstom. Kan enigiemand dink dat dit in ‘n ander land sal gebeur. Nee, daar sal baie gou vir hulle gesê word, probeer dit net en ons vat julle uit. Klaar!!!

Ruan Pretorius ·

Onthou die trokke wat ook n ruk gelede die stad tot stilstand gebring het. Ons is magteloos as hulle besluit om sulke strooi aan te jaag. Dit by gese, ek dink ons moet ook almal staak anders gaan ons uit die mode gaan.

Lena ·

As hulle die skole sluit is daar gewoonlik iets groot aan die broei, soos met die WesKaap storm en die brande in Knysna en omgewing wat gevolg het, so hou hierdie spasie dop?

Theresa ·

Die der duisende taxis kan ‘n land lam lê. Die gesindheid wat heers agter daardie stuurwiele is oor en oor bewys en is ‘n krag waarmee rekening gehou moet word. Daar is hopeloos te veel argelose mense agter daardie stuurwiele waarin publiek vervoer word. Sal dit voorstaan as daar baie streng maatreëls vir hierdie manier van publieke vervoer ingestel word. Droom seker van kiewiet eiers in London…

Robert ·

Ons kinders het skool toe gegaan!!! Regte skole, Lesufi, waar die kinders geleer word om vir hulself te dink en eendag volwaardige burgers te wees. En nie eendag ‘n land verwoes met stakings en barbaarse gedrag nie

M ·

Ons het vir hele 2 en ‘n halwe uur as gevolg van taxi’s stil gestaan dit verstom my net dat die polisie en verkeers mense niks doen nie hoekom word ons nie voor die tyd gewaarsku oor die goed nie. hul is ongelukkig oor goed en nou moet die res van die land se mense ook daaronder ly. maak die bussies en versekering nog duurder dalk sal daar minder taxi’s op die pad wees wat ons almal se arm hare laat rys van woede oor hul die padreels so oortree en daarmee wegkom en soveel mense se lewens in gevaar stel.

Jollie ·

Hoekom kan om te “staak” nie ook ‘n kriminele oortreding wees nie, kyk wat gebeur elke keer as daar gestaak word, alles word verwoes en beskadig en die volgende dag word daar gehuil want niemand kan by die werk kom nie omdat treine, bussen ens gebrand of beskadig is. Deur staking kry mense heeltyd hulle sin soos klein kinderjies en hulle kom daarmee weg. Verban staking en sien hoe SA verander…..swak gedrag word heeltyd toegelaat, dit is waarom dit gaan soos dit gaan hier in by ons. Daar is actually mense wat wette aanvaar en daarmee saamleef, realiteit is realiteit, die ander kan dieselfde begin doen!

Anoniem ·

Tegnies gesproke is dit onwettig om paaie te versper maar ons woon is S.A en hier dikteer die alledaagse krimineel die gereg.

Anet ·

Net jammer die minister het die boodskap uitgestuur na die skole reeds begin het vandag, so dag laat sou ek sê! Baie slim.

Jollie ·

Moet sê my pad werk toe vanoggend was heerlik om te ry, geen taxi’s wat almal se lewens in gevaar stel nie, geen taxi’s wat robots en stoptekens “skip” nie, geen taxi’s wat ‘n een baan ‘n ses baan maak en almal uit die pad druk nie! Hulle veroorsaak in elk geval net onveilige paaie met hulle minagting van padreëls. Wat ‘n seën was my pad net nie vanoggend gewees nie……

Michael ·

Onderwys en gesondheidsorg is prioriteit by ontwikkelde lande maar die teenoorgestelde by piesang republieke ,n belaglike staking soos taxi’s wat staak oor voertuie te duur is kry hier prioriteit bo onderwys en dit sê nou alles

Anoniem ·

Hierdie taxi staking probeer die werkersklas afpers wat by die werk wil/moet uitkom… ek voel ‘n veer vir wat ‘n taxi kos, en of jou naam op die swartlys kom omdat jy nie betaal soos jy moet nie.

CL ·

Onnodig dat kinders tuis bly. Ons almal was betyds. Net ompaaie gery. Die media het betyds die storie gedra sodat ons kon plan maak. Eksamentyd.

G ·

Dan wil hul eendag hul kinders in ‘management’ posisies sien, hul moet dokters en prokureurs ens. word. Wie het nou nodig om skool by te woon? Ek wens die belastingbetalers kon ook ‘staak’ en al hul belastinggeld terughou!

Ben ·

As ‘n regdenkende mens n probleem het dan gaan jy en los die probleem op met die persoon of betrokke partye. Met ander woorde in die geval is die PRYS van die Toyota Taxi voertuig die probleem. Wat het hierdie probleem met die Publiek te doen? Hoekom word die publiek altyd ingesleep. Dit is duidelik dat hier iets anderste aan die gebeur is. Hoekom gaan hulle nie na Toyota toe nie en staak daar nie? Wat kan die publiek aan die probleem doen? Sulke optrede getuig van selfsugtige mense met geen verstand nie.

marous ·

Hoop hulle staak so lank dat al hul enjins verroes…as ek nooit weer een sien nie sal dit te kort wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.