Taxibaas in Centurion vermoor

Verskeie skote is op die motor gevuur. (Foto: verskaf)

ʼn Man van Centurion is Donderdag helder oordag in sy motor in Lyttelton doodgeskiet.

Die 52-jarige is op die toneel op die hoek van Theron- en Krugerstraat dood nadat drie mans op hom losgebrand het, sê kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder.

Dlamini sê die man het kort tevore ʼn vergadering bygewoon. Die man was glo ʼn taxibaas verbonde aan die Centurion Taxivereniging.

Volgens omstanders het die aanvallers verskeie skote op die man in sy motor gevuur.

Hy het klaarblyklik probeer wegjaag, maar beheer oor die voertuig verloor, deur ʼn palissadeheining gebars en uiteindelik teen ʼn stapel voertuigbande tot stilstand gekom. Die perseel behoort aan ʼn maatskappy wat grondverskuiwingsmasjinerie verhuur.

Paramedici en polisielede was blitsig op die toneel, maar die man het kort ná die skietery gesterf.

Die polisie wou nie bespiegeling bevestig dat die man se dood met sy werk in die taxibedryf verband hou nie.

“In hierdie stadium is die motief (vir die aanval) nog nie bekend nie,” sê Dlamini.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

In Desember 2017 is John Mashaba, die destydse voorsitter van die vereniging, in KwaMhlanga in Mpumalanga doodgeskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pieter ·

Daar bestaan ook nie iets soos taxi moorde nie, dieselfde as wat hulle beweer dat plaasaanvalle nie bestaan nie.

Asjas ·

Meskien kwaai familielede van die slagoffers van Taxi “ongelukke”??

Cherokee ·

Onlangs, enkele weke gelede, ‘n sakeman wat ondermeer taxis besit het, by die Gateway Mall geskiet net na hy by ‘n gym uitgestap het.

Gert van Wierdapark ·

Die gerug loop dat taxis nou hul eie begrafnisonderneming wil begin! Hul slagspreuk is glo: “Ons weet van jou, so jou kissie wag hier vir jou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.