Taxibaas se moord stuit busdiensplanne in Kaapstad

Een van die MyCiTi-busse. (Foto: MyCiTi Bus/Facebook)

Die Stad Kaapstad se planne om weer ʼn snelbusroete tussen Mitchells Plain en Khayelitsha van stapel te stuur is in gedrang gebring nadat een van die minibustaxibase, wat deel van die onderhandelinge van ʼn ooreenkoms met die stad was, glo doodgeskiet is.

Boonop is die stad bekommerd dat dié beweerde sluipmoord kan lei tot hernieude konflik tussen die minibustaxi-verenigings wat in Kaapstad bedrywig is.

Ao. Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, sê die polisie is Maandag om 15:00 na die Monwabisi-strand ontbied ná gerugte van ʼn skietvoorval.

“By die polisie se aankoms is die liggaam van ʼn man met skietwonde aan sy kop langs die pad aangetref. Die slagoffer is op die toneel dood verklaar,” sê hy.

“Die motief hou moontlik met taxigeweld verband.”

Rob Quintas, burgemeesterskomiteelid vir stedelike vervoer, het die slagoffer intussen as Mzoxolo Cecil Dibela geïdentifiseer. Hy was die jarelange leier van die Congress of Democratic Taxi Associations (Codeta).

Die Stad Kaapstad sou vandeesweek met verskeie taxibase en direkteure van die N2-maatskappy vergader om ʼn ooreenkoms te onderteken wat die MyCiTi N2-snelbusroete in staat sou stel om op die Khayelitsha- en Mitchells Plain-roetes sake te doen. Dié roete is in 2019 weens groot ontevredenheid skielik onttrek.

Ná Dibela se moord heers daar groot onsekerheid of die ooreenkoms wel nog vandeesweek onderteken sal word.

Quintas is ook bekommerd dat geweld onder verskeie taxi-verenigings weer sal opvlam.

“Ek pleit by alle partye om kalm te bly en saam te werk tot voordeel van ons pendelaars en diegene wat in die bedryf werk.”

Taxi-geweld het in Julie verlede jaar in die Moederstad weer kop uitgesteek en verskeie taxi-verwante moorde en misdade is aangemeld. Die geweld is eindelik beëindig toe die weermag ʼn week later ontplooi is.

“Die Stad Kaapstad doen ʼn beroep op die polisie om so gou moontlik diegene wat verantwoordelik is vir die sinnelose moord, vas te trek,” sê Quintas.

Volgens Swartbooi is niemand nog in verband met die jongste moord aangekeer nie. Die polisie se ondersoek duur voort.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius ·

Wie is in beheer van kaapstad, die taxi bestuurders of die kaapse munisipaliteit ? Laat mens wonder. Dit lyk of die stert nou die hond swaai.

Hennie J ·

Welkom in piesangland waar die regering eintlik in die agtergrond besig is om die oes in te bring. Van wanneer af word die kriminele taxibedryf die mag toegese om te bepaal hoe stedelike vervoer beplan word?
Die piesanglanders is openlik bang vir die gepeupel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.