Taxibaas sit agter Mihalik moord, bespiegel media

Die vermoorde adv. Pete Mihalik (middel). Foto: ANA

Kaapse polisie het nog niemand in verband met die teregstelling van adv. Pete Mihalik in hegtenis geneem nie, maar ondervra nou ook ʼn tweede persoon.

Sers. Noloyiso Rwexana, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê die eerste verdagte is enkele ure ná die moord aangekeer en die tweede die middag. Sy het gesê die polisie sal ʼn verklaring uitreik indien dié twee van moord aangekla word, berig African News Agency.

Die 50-jarige advokaat, wat bekend was daarvoor dat hy onderwêreldse karakters in die hof verdedig het, is buite sy kinders se private skool, Reddam House in Groenpunt, geskiet terwyl hy hulle Dinsdagoggend omstreeks 07:30 by die skool afgelaai het.

Rwexana het Woensdagoggend aan Maroela Media gesê sy kan nie die gerugte bevestig of ontken dat die baasbrein agter die moord op Mihalik ʼn taxibaas van Khayelitsha is nie. “Ons is nie bewus van sulke bewerings nie, en soos ek in die amptelike verklaring gesê het, is niemand nog aangekla nie.”

Netwerk24 het Woensdagoggend berig die man wat die moord beplan het, besit taxi’s op die Kaapse Vlakte. Dié webwerf het beweer sy naam is aan hulle bekend, maar kon nie vir seker sê waarom hy huurmoordenaars sou kry om Mihalik tereg te stel nie.

Hulle het bespiegel die moord hou verband met Mihalik se verskyning die afgelope maand vir die beskuldiges in die moordverhoor van Nkosithandile Cekasayo, ʼn taxibestuurder, twee van sy broers en nog ʼn man in die hooggeregshof.

Volgens die skade aan Mihalik se swart Mercedes-Benz is hy ʼn enkele skoot deur die venter aan die bestuurderskant toegedien, maar bure het ná die voorval gesê hulle het twee skote gehoor.

Sy agtjarige seun, Daniel, is in die aanval gewond en na ʼn hospitaal gehaas, waar die koeël wat in sy kakebeen vassit, nog nie verwyder is nie. Mihalik se 16-jarige dogter wat op die agtersitplek gesit het, is ongedeerd.

Mihalik was ʼn wewenaar nadat sy vrou haar stryd teen depressie verloor het toe sy drie jaar gelede haar eie lewe geneem het.

Misdaadtoneelondersoekers en forensiese deskundiges het Dinsdag amper heeldag die toneel gefynkam, terwyl Cavalcadeweg, waarin die skietery plaasgevind het, vir verkeer gesluit was. Dis ʼn hanetree van die Kaapstad-stadion en Mahilik se woonplek in die eksklusiewe kuswoonbuurt Mouillepunt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Verwarrend ·

Wat is die verskil tussen ondervra, in hegtenis neem en aankla. Al drie word genoem en dit skep verwarring. Het sy vrou verlede jaar selfmoord gepleeg of 3 jaar terug? Die berig sê 3 jaar terug, maar ander mediaberigte sê verlede jaar.

Stripes ·

Verwarrend ek sal probeer verduidelik: Ondervraging word in die kantoor gedoen, of by jou huis en op die stadium is nog net ‘n verdagte persoon. Sou dit uit die ondervraging blyk dat jy wel op die een of ander manier verantwoordelik of betrokke was, word jy in hegtenis geneem. Verdere ondersoek word gedoen en as daar die moontlikheid bestaan dat jy met die getuienis/getuies/ondersoek kan inmeng of as daar die moontlikheid is dat jy landuit kan vlug, bly jy in hegtenis. Sodra die ondersoek afgehandel is en daar bevind word dat daar voldoende bewyse teen jou is, word jy aangekla vir die misdaad en verskyn jy dan dus in die hof. As daar tydens die ondersoek gevind word dat jy nie sal inmeng of probeer vlug nie kan jy op eie verantwoordelikheid vrygelaat word tot die hofdatum. Dit is normaalweg onderhewig aan die tipe misdaad wat gepleeg is. Ek hoop dit help jou so bietjie beter verstaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.