Taxibedryf betaal net R5 miljoen belasting – DA

Die taxibedryf het glo ’n jaarlikse omset van R90 miljard, maar betaal slegs R5 miljoen belasting. (Argieffoto)

Terwyl die taxibedryf in Suid-Afrika subsidies van die regering eis, het dit aan die lig gekom dat dié bedryf slegs R5 miljoen belasting betaal.

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, sê dat Tito Mboweni, minister van finansies, dié syfer in antwoord op ’n parlementêre vraag van die DA verskaf het.

“Die DA doen ’n beroep op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) om teen belastingontduikers in die taxibedryf op te tree en te verseker dat dié winsgewende bedryf sy billike deel betaal.”

Hill-Lewis sê luidens berigte het die taxibedryf in 2019 ’n omset van R90 miljard per jaar gehad.

“Dit beteken dat die oorgrote meerderheid van die taxioperateurs en -eienaars geen korporatiewe belastinginkomste verklaar nie. Dit beteken ook dat hulle nie betaalstaatbelasting vir taxibestuurders en werknemers betaal nie.

“Dit is onwettig om belasting te ontduik en te onderverklaar. Dit is ingevolge die Wysigingswet op Belastingadministrasie ’n strafregtelike oortreding waarvoor skuldiges tot twee jaar tronkstraf opgelê kan word.

“Dit is ook onregverdig teenoor wetsgehoorsame belastingbetalers.”

Hill-Lewis sê die situasie sal mense laat wonder waarom hulle belasting moet betaal terwyl ander met die ontduiking daarvan wegkom.

“Ons sal nie die staat óf regeringsfinansies kan herstel as winsgewende bedrywe belastingbetaling boikot nie. Dit skep ’n gevaarlike presedent vir die toekoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Ek dink hulle lieg steeds en dis minder as 5 miljoen. Skandelik en hulle kom weg daarmee!!!

Kokerboom

Ek beweer dit al baie jare! Tree hul aan dat hul hul regmatige bydrae lewer. Kom DA moenie net praat, volg op en doen iets!!!!

Johann

Hulle betaal JUIS “belasting”. Aan hulle ANC tjomme wat seker maak hulle betaal NIE belasting nie. Vra bv vir Fikile hoe hy oor dit voel? En weet dat jy weet dat as en wanneer die “bedryf” aangevat word verwoes hulle al.rondom hulle.

JM

En word die taxibedryf daaroor aangespreek, weet ons wat sal volg: verwoes en brand.

Misky

Ek so tydjie gelede n gesprek op fb gevolg en was juis oor die taxis wat nie belasting betaal nie. Die een man het vreeslik aangegaan oor hulle doen wel. Toe die persoon hom meer uitvra, sê hy dat hy belasting betaal as hy nuwe bande opsit bv. Hy glo vas dis al belasting wat hy moet betaal en 15% op goedere aankoop. G’n niks anders nie en hulle nie benul van wat betaal moet word nie.