Taxibedryf gemaan om aan Covid-19-reëls te voldoen

Argieffoto

Mosebenzi Zwane, die voorsitter van die portefeuljekomitee oor vervoer, het ʼn beroep op leiers in die taxibedryf gedoen om met die regering saam te werk om die Covid-19-reëls toe te pas.

Zwane het gesê dit is kommerwekkend dat ʼn getal taxi’s van die Wes-Kaap steeds voortgaan met bedrywighede ondanks duidelike kommunikasie en riglyne van die regering dat almal tuis moet bly.

“Die komitee wil die regering se opdrag, dat almal by die huis moet bly, benadruk. Ons begryp dat daar ʼn behoefte is dat mense oor die Paasnaweek wil reis, maar dit is nie in hierdie stadium moontlik nie. Die prioriteit vir alle bedrywe moet wees om die kurwe van die infeksiekoers af te plat.”

Talle minibustaxi’s van Kaapstad is in Aberdeen in die Karoo voorgekeer. Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag ʼn twee weke lange verlenging van die algehele afsonderingstydperk aangekondig.

Zwane het gesê die prioriteit moet wees om mense se lewens te red, maak nie saak watter dringende besigheid in die Oos-Kaap moet plaasvind nie.

“Die president het herhaal dat dit belangrik is om by die huis te bly en die gevolge is duidelik omdat die land ʼn afname gesien het in die getal positiewe uitslae van toetse sedert die afsonderingsperiode begin het,” het Zwane bygevoeg.

Hy het gesê indien nakoming met die afsonderingsreëls beteken dat permitte gekonfiskeer moet word, moet dit gedoen word solank die afsonderingsperiode voortduur.

“Die regering het ʼn noodverligtingsfonds vir die taxibedryf beskikbaar gemaak. Die situasie is slegs ʼn tydelike maatreël en leiers in die bedryf moet die regering se boodskap duidelik oordra. Om die infeksiekoers hok te slaan, moet mense by die huis bly en hul beweging beperk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Michael 1 ·

My ondervinding met taxi’s is hulle steur hulle aan geen reels of wette nie in hierdie geval weet ek nie of dit n goeie of slegte ding is nie.

marius ·

Waarom ‘ n beroep ? Sluit die leiers toe , want hulle gee die opdrag . Maar hulle is mos verhewe bo alles en almal….

msp ·

Dis waar die toets vir die regering inkom om te sien of hulle die kriminele en taxibedryf onder beheer kan bring, sovêr het hulle nog nie daarin geslag nie.

Janc ·

Ek sê nog steeds, laat besigheid aangaan met streng maatreels in plek. Taxi’s was nog nooit gehoorsaam aan enige vorm van wetgewing nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.