Taxibestuurder by N1-vulstasie doodgeskiet

(Foto: SAPD)

Die polisie in Limpopo is op die spoor van twee verdagtes nadat ’n taxibestuurder koelbloedig by ’n vulstasie langs die N1 naby Modimolle (Nylstroom) doodgeskiet is. Een van sy passasiers is in die skietery gewond.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, sê die voorval het Dinsdag omstreeks 10:30 by die One Stop-vulstasie naby die Kranskop-tolhek plaasgevind.

Die taxibestuurder het passasiers van Polokwane na Gauteng vervoer toe hulle by die vulstasie gestop het. Die bestuurder en die passasiers het by die winkel van die vulstasie ingegaan. Met hul terugkeer na die voertuig het twee verdagtes skote op die taxibestuurder afgevuur.

Die verdagtes het in ’n rooi voertuig op die vlug geslaan en die taxibestuurder is op die toneel dood verklaar. ’n Vrou is in die voorval gewond en op die toneel behandel.

Die motief vir die moord is steeds onduidelik. Die moontlikheid bestaan dat dit verband hou met taxi-verwante konflik.

Enigiemand met inligting rakende die voorval word versoek om lt.kol. Richard Boshomane by 079 894 5501 of die misdaadstopnommer by 08600 10111 te kontak. Die polisie se ondersoek duur voort.

Nóg ’n taxibestuurder is Dinsdag doodgeskiet – dié keer in KwaZulu-Natal.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, sê die betrokke taxibestuurder het Dinsdagaand by sy vriendin se huis in ’n woonkompleks in Verulam, noord van Durban, uit sy voertuig geklim toe hy vyf keer geskiet is.

Die taxibestuurder (40) het ’n skietwond in die kop en vier skietwonde aan sy bors opgedoen en is in die parkeerterrein van die woonkompleks dood verklaar.

’n Verdagte het in ’n wit Volkswagen Polo op die vlug geslaan en is sedertdien ook soek.

Altesaam 73 taxi-verwante moorde is reeds vanjaar in KwaZulu-Natal gepleeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Misky ·

Sekerlik het die vulstasie kameras en kan hulle meer besonderhede oor die wegkom motor kry. Maar ook dan weer soveel vervalste nommerplate en ook motors sonder enige nommerplate. In SA kan jy mos doen wat jy wil en owerhede meer gepla om agter n bos te sit en wag dat jy 110km/h ry in n 100km/h sone. Dan soek hulle snoepiegeld vir KFC

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.