Taxibestuurder doodgeskiet tydens busbetogings in Kaapstad

Foto: @VelempiniN op Twitter.

Busse is tydens gewelddadige betogings in Nyanga aan die brand gesteek (1 September 2014) Foto: @VelempiniN op Twitter.

‘n 39-jarige taxibestuurder is Maandagoggend tydens gewelddadige betogings in Nyanga in Kaapstad doodgeskiet en verskeie busse is aan die brand gesteek.

Die taxibestuurder van Zwelitsha is glo op pad werk toe doodgeskiet, het kapt. Frederick van Wyk, woordvoerder van die polisie, gesê. Ooggetuies het net ná 06:00 al skote gehoor. Die man se vuurwapen is glo ook gesteel. Die motief vir die skietery is nie bekend nie. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die skietery het plaasgevind te midde van ‘n gewelddadige betoging in die gebied. Maroela Media het Maandag berig sewe busse is aan die brand gesteek en vier is baie erg beskadig. Bronwen Dyke, woordvoerder van Golden Arrow-busdienste het gesê 11 busbestuurders is aangerand. Die vermoede bestaan dat dit taxibestuurders is wat teen die busdiens betoog het.

‘n MyCiTi-bus onderweg van Khayelitsha na die middestad wat op die N2-snelweg naby Borchards Quarry gery het, is ook met klippe bestook, het Brett Herron, burgemeesterskomiteelid van vervoer, gesê. Hy het gesê niemand is beseer nie, maar die bus is uit die diens onttrek omdat die vensters baie erg beskadig is.

Herron het gesê ‘n groep het ongeveer drie ure later ook ‘n MiCiTi-bus in Mewweg afgetrek. “Die passasiers is gedwing om af te klim, maar die busbestuurder kon wegjaag voordat sy bus aan die brand gesteek is,” het hy bygevoeg.

Die MyCiTi-busdiens op die N2 na Khayelitsha het Maandagmiddag hervat ná die voorval. Golden Arrow het aanvanklik sy diens in Nyanga opgeskort en van twee nabygeleë liggings af sy dienste beskikbaar gestel. Dyke het Maandagmiddag gesê busse sal op die buitewyke van Delft, Mfuleni en Nyanga beskikbaar wees weens veiligheidsmaatreëls.

Burgemeester Patricia de Lille en Donald Grant, LUR vir vervoer in die Wes-Kaap, het die geweld veroordeel. “Die aanvalle op die openbarevervoerstelsel word duidelik baie goed beplan en word gedryf deur die begeerte om die stad onregeerbaar te maak,” het De Lille gesê. Sy sê dit is “duidelik” die optrede word polities gedryf en is deel van ‘n veldtog om die stad onregeerbaar te maak voor die munisipale verkiesing in 2016. Sy het gesê die stad sal die situasie fyn dophou en dit saam met die polisie hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.