Taxibestuurder vas ná fietsryer se dood

Die nooddienste op die toneel waar die fietsryers getref is. (Foto: Netcare 911)

Die taxibestuurder wat Sondag twee fietsryers in Johannesburg getref en een van hulle meer as ’n halwe kilometer ver gesleep het, is in hegtenis geneem.

Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie (JMPD), het vanmiddag aan Maroela Media gesê die taxibestuurder was glo onder die invloed van alkohol en het ná die voorval op die vlug probeer slaan.

Hy is egter deur veiligheidswagte in die omgewing voorgekeer en met die owerhede se aankoms op die toneel in hegtenis geneem op aanklagte van dronkbestuur en strafbare manslag.

Volgens Minnaar is die oorlede fietsryer 690 m ver gesleep voordat die taxi eindelik tot stilstand gekom het.

Die fietsryer is meer as ’n halwe kilometer ver onder die taxi gesleep. (Foto: Netcare 911)

Maroela Media het vroeër berig paramedici is vroeg vanoggend na Bowlinglaan naby Kelvinrylaan in Gallo Manor ontbied waar ’n fietsryer onder die taxi aangetref is.

Die fietsryer, vermoedelik 50 jaar oud, moes van onder die voertuig bevry word en is op die toneel dood verklaar.

Die ander fietsryer is op die toneel behandel voordat hy na ’n hospitaal gehaas is vir verdere mediese behandeling.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die toneel was van so ’n gruwelike aard dat selfs nooddienswerkers geskok was oor die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Persheks Adri

Mag hy baie lank sit! Verdomde dronkaard en dan ry hy nog weg óók. Kan iemand so dronk wees en nie besef jy’t mense raak gery nie en die arme man so vêr sleep?

cccp

Hoekom “strafbare manslag”? Dit is niks anders as moord nie.

Frederik C

‘n Fietsryer, wat in daai smal straatjie gaan fietsry, speel met die dood.

Eugene

Dis moord uit en klaar

JohanR

My gooiste hoe weet jy nie dat daar ‘n liggaam en ‘n fiets onder jou taxi is nie, en dan ry hy nog weg van die ongeluk sodat jy nie getoets word vir dronkskap. Sal interseerd wees Maroela wat gebeur met die dronklap?