Taxibestuurder wat advokaat glo sleep terug in hof

Kim McCusker en haar man, Lourens Grobler Foto: Facebook

Kim McCusker en haar man, Lourens Grobler Foto: Facebook

Die taxibestuurder wat Kim McCusker glo omgery en etlike meters ver gesleep het nadat sy onder die taxi beland het, sal na verwagting Vrydag in die Randburg-landdroshof verskyn.

Matome Thamage word van poging tot moord en roekelose of nalatige bestuur aangekla nadat hy McCusker in September 2011 glo omgery en sowat 700 m ver gesleep het. Hy is vroeër op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Die voorval het plaasgevind nadat Thamage se taxi teen McCusker en haar man, Lourens Grobler, se bakkie gebots het. Hulle het glo uitgeklim om die taxibestuurder se besonderhede te kry toe hy weggejaag en McCusker glo meegesleep het. Sy het ernstige beserings opgedoen en moes talle operasies en veloorplantings ondergaan. Thamage het beweer dat hy van die toneel af probeer vlug het nadat Grobler hom glo aangerand het.

Kim se suster, Julia McCusker, het op ʼn Facebook-ondersteuningsgroep gesê dat die hof Vrydag nog getuienis sal aanhoor. Volgens Julia is haar suster ook in ʼn siviele saak met die Padongelukkefonds betrokke wat die bedrag wat sy eis, betwis. Die siviele saak sal volgende week in die hooggeregshof in Johannesburg aangehoor word. “Ons hoop dat daar verdere vordering met die wetlike aspekte van hierdie saak sal wees sodat Kim en almal kan aanbeweeg,” het Julia gesê.

Volgens Julia sukkel haar suster steeds met haar knie en sal moontlik nog ʼn operasie moet ondergaan indien die probleem nie met behulp van terapie reggestel kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theresa ·

…….net om weer uitgestel te word. En en en en en en en en

Jo ·

Man as mens slim is, is jy slim. Jy maak net baie seker dat `n saak maksimaal uitgestel word sodat niemand later meer presiese detail kan onthou nie, en dan ten einde laaste teenstrydige getuienis tydens verhoor probeer uitlok om te verseker dat die saak uitgegooi word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.