Taxibestuurders maak amok in polisiestasie

(Argieffoto: SA Polisie)

Philippi in Kaapstad was verlede Donderdag in rep en roer toe 40 taxibestuurders ʼn polisiestasie in dié omgewing binnegestorm en chaos veroorsaak het.

Dié reaksie volg ná verkeersbeamptes ʼn taxibestuurder vir valse dokumente in hegtenis geneem het.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die Stad Kaapstad is die bestuurder na die Philippi-Oos-polisiestasie geneem. Die taxi-eienaar is na die stasie ontbied waar hy erken het die nommerplaat en lisensieskyf van dié betrokke taxi behoort eintlik aan een van sy ander taxi’s. Die eienaar is net daar en dan ook in hegtenis geneem omdat hy die bestuurder toegelaat het om die taxi met die bedrieglike dokumente te bestuur.

“Tydens die ondervraging van die verdagtes het die taxi-eienaar sy vrou laat weet om hul besittings by die stasie te kom haal. Sy het egter nie daar aangekom nie, maar eerder ʼn groep van sowat 40 taxibestuurders en -eienaars,” lui die verklaring.

“Die groep het die stasie bestorm en geëis dat albei verdagtes onmiddellik vrygelaat word. Toe die groep sien dat daar nie aan hul eise voldoen word nie, het hulle die verdagtes gegryp en ʼn verkeersbeampte teen een van die tafels gedruk.

“Volgens die stad het twee speurders – wat in die kamer was – ingegryp en die taxibestuurders gekeer om die beampte verder aan te rand.”

Die groep taximanne het toe daarin geslaag om die verdagtes te bevry en het die polisiestasie verlaat.

“Die stasiebevelvoerder het ʼn 72-uur-aksieplan geaktiveer om die verdagtes weer in hegtenis te neem.”

Strafsake vir die besit van bedrieglike dokumente en ontsnapping uit wettige aanhouding is aanhangig gemaak.

Dít is die tweede soortgelyke voorval in ʼn kwessie van dae waar wetstoepassers verhoed is om hul werk te doen. In ʼn voorval die volgende dag in Lotusrivier het ʼn menigte mense wetstoepassers verhoed om ʼn verdagte op dwelmverwante aanklagte in hegtenis te neem.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê dit is betreurenswaardig om te sien hoe mense verdagtes help en hardhandig teen die polisie optree. Hy moedig gemeenskappe aan om die polisie eerder te help in die bestryding van misdaad.

Metropolisiebeamptes het die afgelope week altesaam 149 verdagtes in hegtenis geneem en 5 673 boetes uitgereik, terwyl die polisie altesaam 155 inhegtenisnemings gedoen en 4 427 boetes uitgereik het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jr ·

Aagh asb julle 40 mooi mense, sal julle asb nou soet wees en die polisie kantore verlaat. Ons sal julle elkeen n suigstokkie gee. My magtag en hulle wil hulself polisie noem. GLORYFIED CARGUARDS. NIKS MEER NIE. NET IN SA

Nie Verbaas ·

Bedank die ANC en hopelose Cele spesifiek dat publiek nie meer respek vir ons korrupte BEE belaaide gereg het nie.

Christiaan Johannes ·

Daar staan geskrywe “Good will become evil and evil will become good”. Ons sien dit al hoe meer sedert mense al hoe meer regte opeien. Die probleem is dat vandag se mense wat inbeheer is van die land en hul volgelinge nie die vermoë besit om tussen reg en verkeerd te onderskei nie. Ongelukkig moet ons wie daardie vermoë besit, daarmee saamleef. Laat jy net jouself uitspreek teen hierdie tipe van gedrag, dan word jy uitgekryt as ‘n rassis. Ons is nou die “good” wat “evil” geword het.

Mallie ·

Dis hoe ons land regeer word. Met geweld en eie geregtigheid.

Flip ·

Ek wonder hoe vêr sou daai 40 gekom het in n ander land? In sommige ander lande sou nie een van hulle eers n gedagte gekry het om op te ruk na die polisie se kantore nie……

Lillian ·

Nou hoe laat die polisie toe dat hul geintimideer word deur ‘n klomp taxi drywers? Dis pateties verby

ronel ·

Die is nou n tipiese teken van die vrugte pluk van die boom wat geplant is, mense is geleer om teen geregtigheid op te staan terwille van ” freedom” so hulle het net aangehou met die mentaliteit, en dan het Beke Cele die polisie as geheel afgebreek tot n beeld van wanbestuur en korrupsie, en nou huil hy omdat mense nie respek het vir autoriteit nie, miskien as die polisie minder mense op strande rond gejaag het en meer kriminele gevang het sou die gemiddelde mens ag geslaan het op gesag. Jy kan nie n hele geslag leer om gesag te ondermyn en dan huil omdat hulle dit doe nie! In Julie 2021 se ” rampage” het die polisie agter geslote deure weg gekruip en taxi drywers het besighede beskerm, die balans is totaal en al uit, en dit sou ‘n ” nuwe” polisiemag dekades vat om weer respek te bou.

Gert ·

Hoekom het die polisie nie die minimum geweld gebruik om die 40 te arresteer soos die wetboek aandui nie? Hulle kan nie want dan skep hulle weer minder langs die pad.

Gert ·

Ek het ook nie baie hoop dat die boettes wat aan die taxis uitgereik word betaal gaan word nie. Hier is die bewys dat hulle geen respek het vir die gesag nie.

Waarnemer ·

Dit gaan oral in die land so….die taxi brdryf beheer die wetstoepassers.

Di ·

Die korrupte ANC Regering het hierdie monster geskep, nou maar hulle hom maar voer! Taxi drywers het meer mag in die land as die Regering self

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.