Taxidrywer red man se lewe tydens kaping

Louis Fourie en sy kleindogter. Foto: Facebook

Louis Fourie en sy kleindogter. Foto: Facebook

Louis Fourie van Empangeni in KwaZulu-Natal se lewe is deur ʼn taxibestuurder gered nadat twee mans probeer het om sy motor te kaap.

Fourie (53), ʼn DA-raadslid en lid van die provinsiale uitvoerende bestuur, het aan Maroela Media vertel hy het net ná 17:00 in swaar verkeer gesit net voor die M13 vanaf Pinetown. “Een van my agterste vensters was ʼn paar sentimeter oop en ek het uit my motor geklim om die venster op te draai,” het hy gesê. “Ek het terug in my motor geklim en my veiligheidsgordel vasgemaak toe ek skielik voel hoe die koue lem van ʼn mes teen my keel gedruk word.”

Twee mans met messe het langs sy motor gestaan en geëis dat hy sy selfoon oorhandig. Fourie het gesê hy het sy selfoon oorhandig en hulle het toe geëis dat hy sy beursie ook aan hulle gee. “Ek het gesê ek het niks geld by my nie en hulle het die motor se deur oopgeruk en my uit die voertuig probeer trek. Omdat my veiligheidsgordel vas was, kon hulle nie daarin slaag nie en daar was ʼn stoeiery. Hulle het heeltyd vir my in Zoeloe gesê ‘Ons sal jou slag’.”

Die volgende oomblik het Fourie gesien hoe ʼn man met ʼn vuurwapen uit ʼn minibustaxi klim en nader hardloop. “Op daardie oomblik… ek het nie geweet wat gaan gebeur nie. Ek het nie geweet of hierdie man my gaan skiet of nie. ʼn Mens se hele lewe flits voor jou oë verby,” het ʼn emosionele Fourie gesê. “Ek het aan my kleindogter [wat nou drie maande oud is] gedink. Al wat ek kon dink, is dat ek nie sal sien hoe sy grootword nie.”

Die vermeende kapers het die taxibestuurder sien aankom en op die vlug geslaan. Nog twee mans het uit die taxi geklim en Fourie te hulp gesnel. “Hulle het my gehelp om die voertuig van die pad af te trek en by my gesit totdat ek tot verhaal gekom het,” het hy gesê.

Volgens Fourie het die realiteit van wat gebeur het hom eers later getref en oorweeg hy om berading te ontvang ná die traumatiese ervaring. “Een ding wat ek net weereens besef het, is dat daar goeie mense en slegte mense is. Daardie dag was daar twee slegtes en drie goeies. Daardie taxibestuurder het sy lewe gewaag om op daardie kapers af te storm en dit net om sy medemens te help. Ek is ongelooflik dankbaar.”

Hierdie voorval was die vierde keer wat Fourie deur misdadigers aangeval is. Na ʼn vorige kaping in 1994 het hy in die waakeenheid van die hospitaal opgeëindig, in 2000 is hy met ʼn mes gesteek tydens ʼn roof by ʼn OTM en in 2010 was hy weer ʼn slagoffer van ʼn gewapende roof by sy kantoor.

“Die lewe moet maar net aangaan. Jy kan nie op ʼn hopie gaan sit en vergaan nie. Maar ons leef in Suid-Afrika en ʼn mens moet te alle tye waaksaam wees. Moet nie dink dit is net goed wat met ander mense gebeur nie, dit kan enige tyd met jou gebeur,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jo ·

Alle respek aan daardie dapper taxi bestuurder en die ander twee mans wat kom help het. Dit wys net weer hoe verkeerd en onregverdig dit is om te veralgemeen. Ek is so dankbaar dat hierdie storie n gelukkige einde gehad het.

Landie ·

Baie dankie aan die taxi bestuurder en sy makkers wat mnr Fourie gehelp het. BARBARE, wat met mense wil steek, dis julle wat van ons land ‘n lelike plek maak. Gaan weg, gaan terug na julle eie land toe of verdwyn net, en los ons wat hard werk vir ons goed in vred!!!

Poppie ·

Hoop hy het dam die taxibestuurder se naam en nommer gevat. So iets kry mens nie alddag nie. Ek sal so persoon behoorlik bedank met ‘n klein geskenkie. Die idee wat tel…

anet ·

Mnr Fourie, ek is so dankbaar dat jy veilig en ongedeerd is na hierdie traumatiese aanval.
Ek wil dankie se aan die drie goeie ordentlike mans wat nog bereid is om hulle medemens te help as daar gevaar dreig.

Peet Schabort ·

Dit wys net dat daar by velkleur verby gekyk kan word. Dit het ook met my gebeur toe ‘n taxi agter my gerol het, ek omgedraai het en hulle te hulp gesnel het.
NOOD KEN NIE VELKLEUR !!

Winston ·

In hierdie geval was daar gelukkig die regte mense in die omgewing. Hulle verdien aanprysing. En nogal met n vuurwapen gereed wees om n ander te HELP nie te beroof nie. Puik. Louis waar is jou vuurwapen?

Simone ·

Sien, saam kan ons n verskil maak, ons moet net die mentaliteit van “ons” en “hulle” laat vaar, en saam staan teen misdaad.. selfs n taxi drywer met n skietding is nie noodwendig sleg nie..

Nico ·

Ek kan self ‘n paar stories vertel van waar Taxi bestuurders baie goeie dade verrig het nie. (Ek kan meer slegte stories vertel, maar tog.) Mens kan nooit veralgemeen nie.

Renah ·

Dis wonderlik dat daar nog mense is wat vir hul medemens omgee, mens verwag dit mos nie van veral n “taxi bestuurder” nie……. Maar ek dink hulle raak ook nou moeg vir die geweld in ons land. En as ek so na die laaste paar plaasaanvalle kyk, blyk dit asof ons boere besluit het om terug te veg, want mens hoor dat die boer teruggeskiet en die aanvaller dood is, of dat die boer terugbaklei het en die aanvaller versuip het in die swembad, of dat die boere tannies losbrand met die geweer op die aanvallers wat besig is om haar man buite aan te rand. Dis al hoe ons gaan oorleef, ons moet net hard terugbaklei .

Yvonne ·

WELL DONE!
So lekker om vir ‘n slag iets goeds en mooi’s te lees
Dankie aan die Taxi bestuurder, jy is een uit ‘n miljoen!

Nikolaas Pienaar ·

Dis net die skelms wat moet skrik as verantwoordelike burgers wapens het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.