Taxigeweld ontlont ná weermag intree

Die SANW is Dinsdag in Kaapstad ontplooi. (Foto: SA National Defence Force/Twitter)

Owerhede het Woensdag bevestig dat geen nuwe gevalle van taxigeweld sedert Dinsdagaand in Kaapstad aangemeld is nie. Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) onlangs in dié stad ontplooi is.

Maroela Media het vroeër berig dat verskeie mense óf dood óf gewond is nadat taxi-verwante misdade in die Moederstad sedert verlede week die hoogte ingeskiet het.

Lede van die SANW se Gonnema-eenheid, voorheen bekend as die Kaapse Highlanders, is na Nyanga, Khayelitsha en Samora Machel ontplooi en het Dinsdag kontrolepunte in Delft opgestel in ʼn poging om die taxigeweld hok te slaan.

“Ons verwelkom die kalmte in die stad sedert meer polisiebeamptes en die weermag ontplooi is,” het Albert Fritz, die minister van gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, gesê.

(Foto: SA National Defence Force/Twitter)

Volgens Fritz het die voortdurende taxigeweld nie net mense se lewens in gevaar gestel nie, maar ook hul lewensbestaan.

“Ek het met ʼn petroljoggie gesels wat die aand alleen aan diens was. Hy het gesê dat al sy kollegas te bang is om na die vulstasie toe te reis. Dit is duidelik dat hierdie struweling tussen taxi-eienaars ernstige gevolge vir die inwoners van dié stad het, daarom moet dit nou end kry.

“Ons gaan nie hierdie soort geweld, wat die afgelope paar weke ons gemeenskappe geterroriseer het, verder duld nie,” het Fritz gesê.

Beamptes het reeds talle inhegtenisnemings gemaak sedert die geweld uitgebreek het en ondersoek steeds verskeie sake van moord en poging tot moord.

(Foto: SA National Defence Force/Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frederik C ·

Al gewonder wat maak ‘n hedendaagse weermaglid met ‘n geweer ????

Persheks Adri ·

Asof die taxibestuurders bang is vir hulle asb moet nie dat ek lag nie! Hulle is bang vir niemand nie punt

Tiptol ·

Die weermag word vinnig ontplooi vie taxi geweld. Maar nie toe R17 Miljard se skade aangerig is nie.

Excalibur ·

Weermag in naam klink baie goed MAAR ‘n voeltjie het gefluit dat die SANW glad nie profesioneel opgelei en gekwalifiseer is om Binnelandse Onstabiliteit soos Oproer/Onluste/Groepsmarse/Vandalisme/Kriminaliteit & Geweld te “ontlont” of in bedwang te bring of te beheer nie. Soldate word hoofsaaklik konvensioneel opgelei om te dood of gesag sonder handskoene/vrees af te dwing wat 100% reg is; nie soos die wetstoepassers (SAPD) om sake deur stappe van optrede grade te bereg of op die sagte wyse te ontlont nie…Jy kan nie ‘n Rotweiler leer om vreesloos te veg tot die dood en dan hom tergelyke tyd aanwend as kinderoppasser nie…iets gaan bloei /breek/dood.
Verder moet Jan Publiek ge-akrediteerde wapenbehendigheid & “FACA” opleiding ontvang om enige handwapen/haelgeweer/jaggeweer/semi-outomatiese vuurwapen te besit/beveilig en te hanteer vir eie veiligheid of die van ander MAAR is ons ‘SOLDATE’ op dieselfde vlak en kwalifikasie ge-akrediteer…skokkend NEE!

Prikkie ·

Stem saam, dit is nie eintlik hulle rol waarvoor hulle opgelei is (indien enigsins opgelei is) wat daar nou van hulle verwag word om te vervul nie.

Wanneer ek daardie soldate so sien loop (op die televisie) dan wonder ek altyd wanneer/waarvoor/onder watter omstandighede mag hulle skiet.

Moeilikheid ·

Die weermag is maar net deploy om mooi te lyk op strate dit is al wat hulle doen”Niks”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.