Taxi’s staak oor boetes, petrolprys

Argieffoto: ANA

Duisende pendelaars is Maandagoggend in Johannesburg gestrand gelaat toe taxibestuurders uit protes teen die skut van hul voertuie en die duur brandstofprys begin staak het.

Rdl. Michael Sun, die Johannesburg-metro se burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid, het die staking veroordeel en gesê die Johannesburg-metropolisie (JMPD) sal nie deur taxiverenigings “geboelie” word om wetteloosheid toe te laat nie.

“Dit is met spyt dat ons kennis neem van die eerste dag van die staking wat deur ʼn taxivereniging in Alexandra van stapel gestuur is om die JMPD se wetstoepassingspogings teen te staan,” het Sun gesê.

Sun het gesê sedert die begin van die jaar het die JMPD met sy Buya Mthetho-operasie meer as 500 onpadwaardige, onwettige en ongelisensieerde minibustaxi’s oor die hele stad heen geskut.

“Ons sal ons nie aan wetteloosheid oorgee nie. Onwettige, onvoldoende en onverantwoordelike diensverskaffers kan nie verwag dat ons wegkyk terwyl hulle met die lewe van pendelaars en ander motoriste speel nie. Ons sal beslis nie geboelie word deur enkelinge wat wettelose optrede wil bevorder nie,” het hy gesê.

Hy het gesê die JMPD sal voortgaan met sy wetstoepassingspogings en om voertuie te skut wat nie aan wetgewing voldoen nie.

Die metropolisie is in hoë gereedheid gebring en na die probleemgebied ontplooi om die situasie te monitor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

sandra ·

Dis nou die ideale tyd om die onpadwaardige, ongelisensieerde taxi’s in te trek, hulle staan in elk geval, so niemand verloor geld hierdeur nie. Sorg net dat julle wel die boetes invorder… en o ja, moenie vergeet van die vele uistaande boetes nie.

Snowball ·

Dis ‘n nuwe, vars benadering tot verkeersoortredings en wetstoepassing! Jy staak, want jy wil jou eie reëls maak, jy moet oorgesien en verskoon word, want die samelewing skuld jou! Regdenkende mense kan net kopskuddend wonder of hulle ‘n siek komedie aanskou want soveel arrogansie en tekort aan verstand in een kooi saam met anargie is verbysterend!

Keelvol ·

Mooi so Johannesburg-metropolisie. Staan vas en moet julle nie laat boelie nie.
My voertuigmoet gelisensieër en padwaardig wees. Die taxies ook. Die reël geld vir alle padgebruikers.
Maak net seker die taxi word nie met omkoopgeld uit die skud gelaat en beland terug op die pad nie.

Vryheid ·

Lagwekkend staak oor boetes en petrol prys. Hulle leef darem in n vakuum van onkunde.

Chris Ws ·

Skut sommer die’ wat verkeer ontwrig met hul stakery ook!Mooi so JMPD hou so aan!

Johanna Botha ·

Betaal nie boetes nie , betaal nie belasting nie, betaal nie toll gelde nie ……ry nie paaie gedaan volg nie padreels nie, ontwrig verkeer en en ….kom met alles weg ! !

Wilma ·

Oe en taxis wil maak en breek soos dit hul pas. Ai laat ek liewer nix se ni want more is doodstraf trug vi onskuldiges

Chivago ·

Net in SA – staak omdat wetteloosheid kortgevat word. Ek het nie woorde nie…..

André ·

Ek sien gereeld onpadwaardige taxis op die pad en nie een volg padreëls nie.

Hansie ·

Iewers is daar n slang in die gras. Vroeer as die petrolprys met n paar sente opgegaan het was daar gestaak, toe skielik vir lank niks, en nou skielik weer? was die subsidie nie aangepas nie

Colleen ·

As daar niks fout is met jou taxi nie en jy het nie uitstaande boetes nie, waarom aangaan as hulle wil skud? Almal moet maar aa en betaal vir petrol. Ek kry GEEN subsidie nie en geen petrol toelae nie. Voel hoe dit voel as jy moet betaal vir alles!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.