Taxi’s verhoed familie om Intercape-begrafnis by te woon

Argieffoto van ‘n Intercape-bus (Foto: Intercape, Facebook)

ʼn Bus met familielede van die Intercape-busbestuurder wat verlede week in Kaapstad doodgeskiet is, is Vrydagoggend deur taxi-operateurs voorgekeer. Hulle is verhoed om sy tuisdorp Idutywa in die Oos-Kaap binne te gaan vir sy begrafnis.

Die jongste voorval het gelei tot hernude versoeke vir pres. Cyril Ramaphosa en die ministers van polisie en vervoer om op die krisis te reageer wat die langafstand busbedryf teister.

Bangikhaya Machana (35) is op 25 April buite die Intercape-depot in Kaapstad geskiet. Hy het drie dae later in die Tygerberg-hospitaal aan sy beserings beswyk.

ʼn Gedenkdiens is Dinsdag vir Machana gehou by die maatskappy se depot in Airport Industria. Hy laat ʼn vrou en twee dogters, onderskeidelik drie en ses jaar oud, agter.

“Intercape het een van sy busse beskikbaar gemaak om meer as 50 lede van Machana se familie en vriende van Kaapstad na Idutywa te vervoer vir die begrafnis wat Saterdag sou plaasvind,” sê Johann Ferreira, uitvoerende hoof van Intercape. “Die bus is Vrydagoggend deur taxi-operateurs voorgekeer en weggejaag. Die bus het na die naaste polisiestasie gery om van die mense daar af te laai. Die taxi’s het hulle agtervolg en een van die busbestuurders het in die polisiestasie ingegaan om hulp te soek. Die polisiebeamptes wou nie uitkom om te help nie.”

Die bus het in daardie stadium geen ander keuse gehad nie en het na Mthatha gery, meer as 80 km daarvandaan uit vrees vir die welstand en veiligheid van die familielede.

“Die bus het uiteindelik Vrydagmiddag na Idutywa teruggekeer onder polisie-begeleiding ná Intercape ʼn beroep op senior provinsiale polisiebeamptes gedoen het om in te gryp.”

Ferreira sê die taxi-operateurs het geen skaamte nie. “Hulle wou die hartseer familie voorkeer en verhoed dat hulle hul seun ter ruste kon lê, ʼn man en pa wat só wreed van hulle af weggeneem is.”

Ferreira wou weet hoe die plaaslike polisie “bloot kon staan en toekyk hoe die booswigte die reg in eie hande neem”. “Dit kom neer op ʼn mafiastaat en die outoriteit van die staat word heeltemal ondermyn en is oorgegee aan kriminele ondernemings.”

Hy sê Ramaphosa het nog nie ʼn enkele woord geuiter nie, ondanks versoeke vir dringende ingryping. Die minister van polisie en die minister van vervoer het ook nog nie reageer op die voortgesette aanvalle en intimidasie teen Intercape en die langafstand busbedryf nie.

“Dit wil voorkom of hulle glad nie omgee nie of bang is om teen hierdie wettelose elemente op te tree,” voeg hy by. “Wanneer onskuldige en hartseer mense nie eens toegelaat word om die beplande begrafnis van hul vermoorde geliefde vreedsaam by te woon nie, het ons ʼn nuwe laagtepunt bereik as ʼn land.”

Die langafstand busbedryf beleef ongekende vlakke van geweld insluitend skietvoorvalle en voorvalle waar busse met klippe bestook word deur elemente in die minibustaxibedryf. “In slegs 13 maande het ons meer as 150 gewelddadige aanvalle beleef. Verskeie werknemers en passasiers het ernstige beserings opgedoen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.