[OPVOLG] Altesaam 29 verdagtes is intussen in hegtenis geneem. Lees die opvolgberig hier.
Taxibestuurders het Vrydagoggend chaos buite die OR Tambo Internasionale Lughawe veroorsaak deur die R21 en R24 met hul voertuie te versper.
Kobeli Mokheseng, woordvoerder van die Ekurhuleni Metropolisie (EMPD), het aan Maroela Media gesê die bestuurders het omstreek 03:00 begin deur die R21 in albei rigtings tussen Voortrekker- en Atlasweg te versper. Die R24 in albei rigtings tussen Barbaraweg en die R21 is ook deur die voertuie versper.
Hy het gesê taxibestuurders het hul voertuie in die middel van die paaie getrek, dit gesluit en staan nou aan die kant van die pad en toekyk.
Volgens Mokheseng is dit tans baie moeilik om by die lughawe uit te kom omdat die ander ingangspaaie deur Isando ook deur die taxi’s versper is. ʼn Voertuig is ook in die gebied aan die brand gesteek.
“In dié stadium is ons nie seker waaroor die betoging gaan nie. Dit is óf Uber-taxis óf meter-taxis wat betoog,” het Mokheseng gesê. Hy het gesê die EMPD probeer om met die taxibestuurders te onderhandel, maar hulle wil nie gehoor gee aan versoeke om die paaie oop te stel nie.
Die vermoede bestaan dat die betoging verband hou met die voortslepende konflik tussen Uber-bestuurders en taxibestuurders.
“Ons het nou insleepvragmotors ontplooi om die voertuie daar te verwyder. Twee voertuie is reeds weggesleep en nog vragmotors is op pad na die gebied sodat ons die paaie so vinnig as moontlik oopgestel kan kry.”
Mokheseng het gesê geen geweld of beserings is aangemeld nie en niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.