Taxistaanplek gesluit ná vier in skietery sterf

Die toneel in Brakpan waar die skietery plaasgevind het (23 Mei 2018). Foto: Twitter

Die taxistaanplek in Tsakane aan die Oos-rand is gesluit nadat ʼn wilde skietery in Brakpan Woensdag die lewens van vier mense geëis het.

Vier mense is doodgeskiet en sewe gewond tydens die voorval wat spruit uit die voortgesette konflik oor taxiroetes in die provinsie.

Kapt. Pearl van Staad, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê taxibestuurders het Woensdagmiddag ʼn vergadering in Tsakane bygewoon waar hulle met taxibase oor die roetes-kwessie sou vergader.

Die taxibase was egter nie by die vergadering nie en daar is aan die taxibestuurders gesê om na die Brakpan-taxivereniging se kantoor op die hoek van Wendonstraat en Highweg in Brakpan te gaan om die base daar te ontmoet.

Die taxibestuurders het daarna in hul taxi’s na Brakpan gery vir die vergadering.

“Toe hulle daar aankom, het lede van ʼn veiligheidsmaatskappy glo op hulle losgebrand. Vier mense het gesterf en sewe is gewond,” het Van Staad gesê. Drie van die oorledenes het op die toneel gesterf terwyl die vierde op pad na die hospitaal aan sy skietwonde beswyk het.

Volgens Van Staad was die taxibestuurders ongewapen en het hulle dus nie teruggeskiet toe daar op hulle geskiet is nie.

“Agt verdagtes is in hegtenis geneem en daar is op tien vuurwapens beslag gelê. Die veiligheidswagte het tydens die polisie se ondervraging vir ons gesê hulle is deel van BBP-beskerming en daar is glo aan hulle opdrag gegee dat as daar enige taxi’s hulle agtervolg, moet hulle skiet. Dit is nie tans duidelik wie hierdie opdrag gegee het nie.”

Die toneel in Brakpan waar die skietery plaasgevind het (23 Mei 2018). Foto: Twitter

Ismail Vadi, Gautengse LUR vir paaie en vervoer, het in reaksie op die voorval die Tsakane-taxistaanplek in Ekurhuleni met onmiddellik inwerkingtreding gesluit. “Geen taxi’s sal toegelaat word om vanaf die Tsakane-staanplek pendelaars te vervoer nie en wetstoepassingspersoneel is deur die nag by die staanplek ontplooi,” het Vadi gesê.

Hy het gesê die staanplek sal gesluit bly totdat die konflik in die taxibedryf gestabiliseer het. Hy het pendelaars aangeraai om intussen van alternatiewe vervoer gebruik te maak.

“Hierdie ongekende en drastiese administratiewe maatreël is nodig om die lewens van ons pendelaars en taxibestuurders te beskerm. Dit word ter wille van openbare veiligheid gedoen.”

Vadi het die inhegtenisneming van die agt verdagtes verwelkom en die voorval ten sterkste veroordeel. “Ons betreur hierdie sinnelose moorde en betuig ons innige medelye aan die naasbestaandes van die oorledenes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

mooi ·

Mooi land skoon land met geen geweld gaan mos rus en vrede dit is mos niks om oorbekommerd oor tewees nie me Zulle is dit nog veilig hier in ZAR

Amelia ·

Ek wonder of is dai veiligheidswagte geregtig om vuurwapens te dra? En dan ook, n taxi ry na n gebou en die veiligheidswagte se hul was agtervolg? Hier is iets nie pluis nie. Hier gaan n nes oopgekrap word.

No prob ·

Gewone misdaad, geen probleem in SA nie. Geen rede om vir jou lewe te vrees nie .. me. Sisulu. Sou graag wou sien dat die regering ook hulle SIMPATIE betoon met die SINNELOSE plaasmoorde. EN NEE ons sal nie ophou praat daaroor voordat dit nie OPHOU nie!

Hanna Hoekom ·

Ek vermoed taxi-verwante moorde het lankal die sogenaamde Apartheids moorde verby gevat! Gelukkig het niemand rede om vir sy/ haar lewe in Suid-Afrika te vrees nie, ne minister Sisulu?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.