Taxistaking bring Jhb-middestad tot ʼn stilstand

Beamptes van die Johannesburgse metropolisie probeer onderhandel met Nanduwe-taxibestuurders om hul taxi’s te verwyder Foto: Siphelele Dludla / ANA

Die verkeer het Vrydag in die Johannesburgse middestad tot ʼn stilstand gekom toe taxibestuurders van Soweto na die kantoor van die premier opgeruk het.

Die taxibestuurders het hul voertuie in die strate parkeer en geëis om weer op hul roetes toegelaat te word.

Die betoging volg nadat Ismail Vaidi, Gautengse LUR vir paaie en vervoer, verlede week ʼn ultimatum uitgereik het om taxistaanplekke te sluit en roetes van twee mededingende taxiverenigings in Soweto, naamlik die Nancefield-Dube West Taxi Association (Nanduwe) en die Witwatersrand African Taxi Association (Wata) op te skort.

Die voortgesette konflik tussen Nanduwe en Wata duur al vir verskeie maande lank voort en het tot lewensverlies en onderbreking van pendelaarsdienste gelei.

Nanduwe-operateurs beskuldig Wata daarvan dat hulle ʼn hofuitspraak minag wat beslis het dat hulle hul taxi’s van die Dube-roete moet onttrek en wat hulle ook verbied om passasiers in die gebied op te laai. Hulle baklei ook oor vroeë optelpunte in Mofolo en Orlando-Wes.

Lede van Nanduwe het Vrydag die strate in gevaar en het alle kruisings om die premier se kantoor en die LUR se kantoor gesluit en gesê onbekende veiligheidswagte verhoed hulle om op hul roetes te ry.

“Ons kon gister nie eers passasiers op ons roetes optel nie, want gewapende veiligheidswagte is op strategiese plekke geplaas om ons te verhoed. Ons gaan nie hier weggaan totdat die premier ons kom toespreek nie. Die LUR het ons in die steek gelaat, so ons eskaleer nou die saak na die premier,” het ʼn taxibestuurder, wat anoniem wou bly, gesê.

Strate wat hierdeur geraak is, sluit Harrison, Pritchard, Simmonds, President, Jeppe en Sauer in.

Wetstoepassers kon nie die aantal taxibestuurders hanteer nie en een beampte van die Johannesburgse metropolisie het ʼn skoot gevuur en die bestuurders het hom agternagesit.

Vadi bestudeer intussen die geskrewe reaksie en verteenwoordiging van die betrokke partye ná sy kennisgewing om alle Nanduwe- en Wata-roetes en -staanplekke in Soweto te sluit. Die betrokke roetes sal na verwagting tussen 6 Julie en 6 Augustus gesluit bly.

Vadi het gesê hy sal binne die volgende paar dae sy besluit bekend maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

popeye ·

Hierdie is ook duistere politiek wat min mense verstaan….

TDW ·

Hierdie is soos ‘n wilde weste fliek. Ons kort net vir Clint Eastwood en die musiek. Taxis is mos ‘n vervoer besigheid, besighede mag met mekaar kompeteer. Daar is werk vir almal. Sorg dat jou drywers die beste is, jou bussies die gemaklikste en padvaardig is, en lewer goeie diens. Dis hoe besigheid werk. Wat sal met die land gebeur as alle dienslewerende besighede so moet optree? Chaos.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.