Taxistaking in Durban opgeskort

Argieffoto

Argieffoto

Die taxibedryf en die munisipaliteit het ʼn ooreenkoms in Durban bereik en ʼn vier dag lange staking is opgeskort.

Thembisa Duma, woordvoerder van die Nasionale Taxivereniging in eThekwini, het Donderdagaand gesê hy is baie tevrede. “Ek is baie bly. Ek kan nie eers praat nie, so bly is ek. Die staking is verby. Ons het ʼn ooreenkoms met die munisipaliteit bereik. Ons sal van hier af alle ander uitstaande kwessies bespreek. Die staking is opgeskort.”

Hy kon nie kommentaar lewer oor die ooreenkoms nie, aangesien dit “deur prokureurs opgestel is” en dit skaars vyf minute vroeër onderteken is voordat hy met ANA gepraat het. Hy het verduidelik dit is ʼn ooreenkoms wat sorg dat die munisipaliteit en die taxibedryf albei “hul foute regmaak”.

Die munisipaliteit en provinsiale departement van vervoer kon nie dadelik kommentaar lewer nie.

Maroela Media het vroeër berig die taxibedryf het begin staak nadat meer as 300 voertuie geskut is omdat hulle nie die korrekte roete-permitte gehad het nie.

Die bedryf het aangevoer die provinsiale departement van vervoer het nie in die verlede betyds nuwe permitte uitgereik nie, veral wanneer permitte hernu of oorgedra moes word.

Duisende pendelaars was gestrand en verskeie ondernemings het aangemeld dat hul werknemers afwesig is omdat hulle nie alternatiewe vervoer kon vind nie.

Die munisipaliteit en departement het vroeër in die dag [Donderdag] ʼn verklaring uitgereik om te bevestig dat ʼn ooreenkoms, om 85 taxi’s teen Vrydag beskikbaar te stel, deur die mat geval het. Volgens die verklaring is 81 minibustaxi’s beskikbaar gestel nadat die eienaars ʼn boete betaal het. Eienaars wat ʼn geldige roetepermit kon toon, is met R1 500 beboet en diegene wat nie ʼn permit gehad het nie, moes ʼn boete van R3 000 betaal.

Volgens dieselfde verklaring is ʼn versoek ingedien dat daar meer treine beskikbaar gemaak moet word en dat die munisipaliteit die aantal busse sal vermeerder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Landie ·

Ek kan nie glo dat die taxi-bedryf die land se vervoerstelsel ondermyn nie!! Die regering moes lankal ordentlike openbare vervoer beskikbaar stel aan werknemers sodat almal betyds by die werk kan kom. Nou moet die arme belastingbetaler tolgeld betaal en daar is nie eers ‘n ordentlike vervoerstelsel as alternatief nie!!

Johann Marx ·

Landie, jy verstaan nie….Hoe meer die regering en die owerhede die inwoners van ons land kan kry om alles SELF te doen…..terwyl ons aanhou belasting betaal…hoe meer geld is daar vir hulle beskikbaar om te steel en te spandeer op luukshede en internasionale reise en partytjies.

Dee ·

Johann, jy verstaan nie….. afgesien daarvan dat die regering besig is met selfveryking weet hulle ook nie hòe om dit te doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.