Taxistaking lei tot ontwrigting in Oos-Kaap

Foto: ANA

Die taxistaking in die Oos-Kaap het Woensdagoggend groot ontwrigtings veroorsaak op paaie in dié provinsie.

Kol. Sibongile Soci, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn groep taxibestuurders het in Mdantsane, naby Oos-Londen, buitebande aan die brand gesteek in Qumzaweg naby die NU6-winkelsentrum. Die taxibestuurders was gewapen met pangas en ander skerp instrumente en die polisie moes van rubberkoeëls gebruik maak om die skare te beheer, aldus Soci.

Verskeie paaie in Port Elizabeth is versper. Betogers het in Highfieldweg in Schauderville brandende buitebande op mekaar gestapel en die pad versper. Paaie in Bethelsdorp, Bloemendal en Chatty is ook met brandende buitebande versper. Paaie rondom Volkswagen in Uitenhage is ook gesluit.

Algoa-busdiens en die geïntegreerde openbarevervoerstelsel (IPTS) moes Woensdag sy dienste opskort as ʼn voorkomingsmaatreël.

Skoliere wat eksamen skryf is ook deur die staking geraak en die departement van onderwys het ʼn memorandum uitgereik dat die matrieks volgende week weer hul rekordeksamen kan aflê.

Lede van die SA Nasionale Taxivereniging (Santaco) het met die provinsiale staking begin en pendelaarsdienste tot ʼn stilstand gedwing. Die taxibestuurders betoog oor betalingskwessies oor skoolvervoer wat deur die departement van vervoer in die Oos-Kaap bestuur word onder leiding van LUR Weziwe Tikana. Hulle beskryf haar as “arrogant” en dat sy nie die taxibedryf in ʼn ernstige lig beskou nie.

Betogers het ook buitebande op die R102 naby Berlyn aan die brand gesteek. Buffalo City se brandweer moes die brande blus. Paaie is versper in Ngcobo naby Nyanaga. Taxi’s in Grahamstad het ook die N2 by Peddie versper en buitebande aan die brand gesteek. Motoriste is verhoed om toegang te bekom tot die dorp of dit te verlaat. ʼn Pad na Nompumelelo-hospitaal in Peddie is ook versper. Kenako Mall is ook met brandende buitebande versper en betogers het klippe na motoriste geslinger.

Taxi’s het in Port Alfred hul bedrywighede op die R67 en R72 normaal voortgesit en geen voorvalle is hier aangemeld nie.

Santaco-lede het intussen na die ANC se provinsiale hoofkantoor by Calata House in King William’s Town opgeruk om ʼn memorandum aan die provinsiale voorsitter, Oscar Mabuyane, te oorhandig. Santaco het die ANC in die provinsie sewe dae gegun om hul kwessies met die Oos-Kaapse departement van vervoer aan te roer. Die staking is Woensdag omstreeks 12:00 opgeskort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.