Taxistaking: Twee vroue in hospitaal opgeneem

ʼn Gedeelte van die N2 in Kaapstad is Maandagoggend (18 September 2017) tydelik gesluit weens die taxistaking en gepaardgaande gewelddadige protesaksies. Foto: Twitter via @CapeTownFreeway

Minstens twee mense is beseer tydens die taxistaking en gepaardgaande gewelddadige protesaksies in Kaapstad wat duisende pendelaars Maandagoggend gestrand gelaat het.

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling, het in ʼn verklaring gesê twee vrouens is beseer nadat betogers ʼn MyCiTi-bus in Khayelitsha met klippe bestook het. “Een van die pendelaars is met ʼn klip in die gesig getref, terwyl nog ʼn swanger vrou geval het tydens die gewelddadige aanval naby die Kuyasa-stop. Albei vroue is erg getraumatiseerd en in die hospitaal opgeneem,” het Herron gesê.

Hy het gesê vier MyCiTi-busse is met klippe bestook, onderskeidelik in Dunoon, Mfuleni en Khayelitsha, en nog ʼn bus is aan die brand gesteek. Vier MyCiTi-busstasies moes tot verdere kennisgewing heeltemal gesluit word.

ʼn Foto wat op sosiale media versprei word van ʼn bebloede vrou nadat sy vermoedelik met ʼn klip in die gesig getref is. Foto: Twitter

“Behalwe vir die geweld, het sommige van die taxibestuurders ook die busbestuurders in Imizamo Yethu, Dunoon, Khayelitsha en Mitchells Plain gedreig. Stakende taxibestuurders het ook die MyCiTi-personeel by die Woodbridge-stasie in Milnerton opdrag gegee om die stasie te sluit en het gedreig om later terug te kom,” het Herron gesê.

Hy het gesê MyCiTi-personeel is in Khayelitsha uit hul voertuig gedwing, terwyl ʼn skofvoertuig vroeg vanoggend in Philippi gekaap is.

Verskeie MyCiTi-busroetes moes vanoggend opgeskort word, insluitend die N2 Express-roete tussen die Mitchells Plain-, Khayelitsha- en Burgersentrum-stasies. Die roete tussen Dunoon, Table View, die Burgersentrum en die V&A Waterfront is ook deur die staking geaffekteer, terwyl roetes in Hout Bay en Imizamo Yethu en die roete tussen Omuramba, Maitland en Soutrivier herlei moes word.

“Ek is verstom deur die geweld en intimidasie wat met hierdie stakingsaksie gepaardgaan. Daar is absoluut geen regverdiging vir hierdie kriminele gedrag deur mense wat klippe, dreigemente en brande bo vreedsame betoging en onderhandeling verkies nie,” het Herron gesê.

ʼn Bus wat op die N2 is naby die R300-afrit in Delft, Kaapstad tydens ʼn taxistaking aan die brand gesteek is (18 September 2017). Foto: African News Agency

Hy het gesê die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad moet verantwoordelikheid neem vir sy lede se optrede, terwyl die SAPD moet verseker dat die betrokkenes aangekeer en vervolg word.

“Dit blyk dat die aanvalle op ons openbare vervoerdienste vooruit beplan is en dat sommige taxibestuurders begin staak het met die uitsluitlike voorneme om ons pendelaars, personeel, busse en infrastruktuur te teiken.”

Herron het gesê gemeenskappe wat afhanklik is van openbare vervoer ly die meeste onder dié tipe gewelddadige betogings. “Lae-inkomste-families spandeer gemiddeld 43% van hul maandelikse inkomste op vervoer, en in sommige dele van Kaapstad tot 60%.

“Ons werk dag en nag om die koste van openbare vervoer in Kaapstad af te bring sodat dit billik en toeganklik is vir dié wat dit nodig het. Diegene wat lukraak ons openbare vervoerinfrastruktuur verwoes, ontneem wetsgehoorsame burgers van hul reg tot bekostigbare en veilige openbare vervoer.”

Hy het gesê die stad sal voortgaan om die MyCiTi-roetes te monitor en opskorting van dienste sal tot verdere kennisgewing in plek bly ter wille van pendelaars se veiligheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

christa ·

waar is die polisie?????? Ek dog hulle gaan skiet om dood te skiet?????

Swannie ·

Met wat moet hulle skiet ??

Omtrent al hul vuurwapens is dan gesteel of net weggeraak !!

Irene ·

Ag tog so laat hulle die onopgevoede mense net doen wat hulle wil hulle weet niemand sal terug baklei nie onnodige mense moet alryd daaronder ly

johnny_walker ·

liewe mense julle beter wakker skrik , die staat het die onluste beheer fasiliteit by meeste polisie stasies weggeneem , die paar onluste eenhede wat oor is , is te min om grootskaalse wyd verspryde onluste te beheer , jy is verantwoordelik vir jou eie veiligheid , neem die nodige stappe , ek hoop nie ek hoef dit vir julle uit te spel nie

Ouvrou ·

Brand af, verwoes alles, breek alles af, gooi klippe en saai anargie. In 23 jr is niks opgebou, onderhou of uitgebrei nie. Net mooi nul. Hele Afrika lyk so. Gaan kyk hier langs ons na mozambiek. Daar is nie eers meer teerpad nie. Daars niks. Ons kan net kop in die sand steek en oorleef so goed ons kan I rest my case.

Theresa ·

Dankie Mnr. Herron – ware woorde. Dis als beplan. Intimidasie en die res. Dis met afsku dat mens sien hoe sulke dade toegelaat word. Skade veroorsaak en mense wat normaal wil aangaan met daaglikse take en lewens, negatief beïnvloed word. Dis tyd dat die Taxi Ass. tot verantwoording geroep word. Wie kan hul aankla? Wat is die procedure en waarom was dit nie al lankal gedoen nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.