Tazné van Wyk se moordenaar gevonnis

Tazné van Wyk (8).

Die man wat tereg gestaan het vir die moord op die agtjarige Tazné van Wyk is Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof nege lewenslange vonnisse opgelê.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê Moyhdian Pangkaeker (57) is nege lewenslange vonnisse, 28 jaar en ses maande tronkstraf opgelê.

Waarnemende regter Alan Maher het Pangkaeker vroeër skuldig bevind op 21 van die 27 aanklagte teen hom. Dit sluit agt aanklagte van die verkragting van kinders, seksuele aanranding, seksuele uitbuiting van kinders, verskeie aanrandings van kinders, ontvoering, lykskending en dat hy tydens parool gedros het.

Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum, verwelkom vonnisoplegging.

“Die straf vergoed egter nie daarvoor dat die moordenaar op parool was ten tyde van sy monsteragtige aanval op die agtjarige Tazné nie. Die staat moet hiervoor verantwoordelikheid aanvaar.”

Wyngaard sê Tazné se dood moet ook ’n wekroep wees teenoor politici dat polisiëring nie ’n speelbal is om stemme te werf nie. “Polisiëring moet die veiligheid van veral kinders waarborg, en dit gebeur nie tans nie. Die beste waarop ons kan hoop, is dat polisiëringsmagte uit die beheer van minister Bheki Cele na die Wes-Kaap afgewentel word, ’n saak waarvoor die Kaapse Forum hom beywer.”

Kaylynn Palm, aksiesentrum-koördineerder by Action Society, het ook die vonnisoplegging verwelkom – drie jaar en een week ná Tazné verdwyn het.

“Gevaarlike mense soos hierdie misdadigers moet nooit toegelaat word om in kontak te kom met enige kind of vrou nie. Hy is ʼn skande vir die mensdom.”

Tazné het op 7 Februarie 2020 van Elsiesrivier in die Wes-Kaap verdwyn. Haar liggaam is twee weke later in ʼn stormwaterpyp buite Worcester gevind. Pangkaeker is op 17 Februarie 2020 in hegtenis geneem.

Voor Tazné se moord is die man 10 jaar tronkstraf opgelê vir strafbare manslag in 2008. Hy is in Oktober 2016 op parool vrygelaat.

Regter Alan Maher het Dinsdag gesê Pangkaeker is “duidelik verby enige hoop op rehabilitasie” en “het ʼn hart gevul met donkerte”.

“Ons is tevrede met die vonnisoplegging, maar dit is jammer dat dit drie jaar lank geduur het om tot op hierdie punt te kom, as mens in ag neem hy is kort ná Tazné se moord in hegtenis geneem,” voeg Palm by. “Die strafregstelsel moet baie vinniger beweeg sodat slagoffers die geregtigheid kry wat hulle verdien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Magda G ·

Die doodstraf moet heringestel word. Sy optrede bring nie berusting nie, net bitter hartseer

GeloofInGodNieMense ·

Ongelukkig sal hulle rede soek om ons te hang. Ek vertrou d spul GLAD nie. God sal met diesulkes afreken. Dis waaraan ek my troos.

Lila ·

Ek is so ongelooflik jammer vir haar ouers, maar ek is meer jammer vir die klein lyfie wat al die seer en wrede goed moes deurmaak… Ek hoop jy vind vrede meisiekind.

Janet ·

Hoekom hoekom hoekom moes ‘n weerlose kind nou weer boet vir hierdie moordenaar. SA jou regstelsel stink. Bring terug die doodstraf!!!!!!!!!!!

Nierkie ·

“Nege lewenslange vonnisse, 28 jaar en ses maande tronkstraf” beteken 1 lewenslange vonnis van 25 jaar. Dit kan ‘n 100 lewenslange vonnisse wees, dit bly 25 jaar – wat te min is vir die vark.

Danie ·

En so ploeter die regering en dept justisie voort wat doen hulle eintlik.? Misdade teen vrouens en kinders? Praat net en doen niks.Met so n perfekte resep wie kan kla.

TruthDealer ·

Ek voel so hartseer elke keer wanneer ek Tazné se dierbare ou gesiggie sien. En omdat ek weet soveel het al, en sal nog, in haar pad volg. Die lewe is brutaal, maar in hierdie land met hierdie regering, soveel te meer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.