Tazné: Verdagte van talle ander misdade aangekla

Tazné van Wyk (8).

Die verdagte in Tazné van Wyk se moordsaak is Maandag van 20 aanklagte in die Goodwood-landdroshof aangekla.

Moehydien Pangaker (54) staan buiten die moord op die agtjarige Tazné nou tereg op 11 aanklagte van verkragting, drie aanklagte van algemene aanranding, twee aanklagte van ontvoering asook gevalle van bloedskande, seksuele aanranding en lykskending.

Dié aanklagte hou verband met die beweerde herhaaldelike verkragting en aanranding van sommige van sy familielede. Pangaker, ʼn vorige oortreder, is in 2001 tronkstraf opgelê vir die moord op sy seun. Hy was ten tye van Tazné se moord uit op parool.

Moehydien Pangaker (Foto verskaf)

Tazné se moordsaak sal nou na die Wes-Kaapse hooggeregshof oorgeplaas word en Pangaker sal tydens sy voorverhoor pleit.

Dít nadat Tazné se liggaam in Februarie vanjaar in ’n stormwaterpyp buite Worcester aangetref is.

Maroela Media het vroeër berig Tazné het op 7 Februarie weggeraak toe sy na ʼn winkel oorkant hulle huis in Clarestraat in Ravensmead gestap het.

Pangaker het ten tyde van haar verdwyning tydelik by sy niggie Abigail Adams gewoon, oorkant Tazné se ouerhuis. Die kafee waar Tazné die middag nog ʼn ysie gekoop het, is reg langsaan die Adams-woning.

Die staat voer nou aan dat Pangaker vir Tazné na die treinstasie in Parow gelok het waarna hy haar na bewering na Worcester geneem het voordat hy haar eindelik verkrag en vermoor het.

“Hy het haar regterhand afgekap en haar liggaam in ’n stormwaterpyp langs die N1-hoofweg versteek,” lui die klagstaat.

Luidens die hofstukke het ʼn nadoodse ondersoek die oorsaak van Tazné se dood aan abnormale trauma aan die kop, nek en bors toegeskryf.

Pangaker, wat tot dusver in aanhouding by die Goodwood-gevangenis gehou is, sal binnekort na die Pollsmoor-gevangenis geskuif word.

Die saak is uitgestel tot 29 Januarie 2021.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Melanie ·

Waarom het die sadis haar handjie afgekap?? Ek het geen woorde nie, wat die arme ma en pa moes deurmaak!! Rus sag engel kind, die Here sal sake hanteer en jou mamma en pappa vertroos. Ek het geen simpatie vir die gemors nie en hoop alle aaklige dinge vir hom toe!!

Deon ·

Ek dink die hele probleem hier is n moordenaar wat uit op parool is, die feit dat hy sy eie seun vermoor het, dit se klaar n lot

Cornelius ·

Wat n siek persoon. Bring die doodstraf terug. N oog vir n oog en n tand vir n tand.

Inkpot ·

Nou gaan hy seker weereens uitkom op borgtog en nog misdade pleeg.
TISA. THIS IS SOUTH AFRICA

ES ·

Misdadigers wat skuldig bevind word van moord, verkragtig en enige ander seksuele misdrywe moet nooit parool kan kry nie.

Moordenaars en verkragters kan nie gerehabiliteer word nie. Dis is al keer op keer bewys.

Sarel ·

Parool nè….laat daardie Paroolraad die ki.d se begrafnis bywoon en sommer betaal ook. Anti- doodstraf ouens, julle is vreeslik stil ek hoor geen verduideliking csn julle nie.
Dit is nou ons Beskaafde wereld

MoederMamma ·

So van 2016 af het hierdie man gemaak en breek soos hy wou. 11 Klagte van verkragting wat nou eers gemaak is? Hoekom het sy familie hom toegelaat om aan te gaan? As hulle opgetree het, was hy waarskynlik weer opgesluit en was Tasné vandag nog lewendig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.