TB eis steeds meeste lewens

Tuberkulose (TB) is steeds die hoofrede vir sterftes in Suid-Afrika en 12% van sterftes sedert 2010 kan hieraan toegeskryf word.

Pali Lehohla, statistikus-generaal, het Donderdag ‘n verslag oor die land se mortaliteitskoers in die Vrystaat bekendgestel. “Statistiek toon dat TB die hoof natuurlike oorsaak van afsterwe is vir mans en vroue in alle provinsies, buiten die Vrystaat en Limpopo, in die ouderdomsgroep 15 – 64 jaar,” lui die verslag. Sterftes weens diabetes het met 3.8% tydens dié periode toegeneem.

Die verslag is saamgestel uit sterftes wat by die departement van binnelandse sake tussen 1997 en 2010 aangemeld is om die tendens in mortaliteit en oorsake van sterftes te bepaal.

Kefilwe Masiteng, adjunk direkteur generaal van Statistiek SA, het gesê minder mense is sedert 2009 dood. “’n Totaal van 543 856 sterftes is in 2010 aangemeld, wat ‘n afname van 6.2% is van die 579 711 sterftes wat in 2009 plaasgevind het,” het Masiteng gesê.

Volgens die verslag het die meeste sterftes, wat in 2010 aangemeld is, in KwaZulu-Natal en Gauteng plaasgevind onder swart mans tussen 30 en 39 jaar oud. “Die meerderheid van persone wat in 2010 gesterf het, het in die provinsie gesterf waar hulle woonagtig was. Sowat ‘n derde van die persone het by hul huise gesterf.”

Bykans 10% van sterftes in 2010 was weens onnatuurlike oorsake. “Meeste onnatuurlike sterftes was die gevolg van eksterne oorsake soos beserings weens ongelukke. Sterftes weens voertuigongelukke en aanranding het gesamentlik sowat 10% elk bygedra tot die totale aantal van onnatuurlike oorsake,” lui die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.