TB, MIV-toetsing goeie voorbereiding vir toetsing, sê kenners

Sosiale distansiëring in ʼn ry buite ʼn toetsingskliniek in Khayelitsha, Kaapstad (2 April 2020) (Foto: AP Photo/Nardus Engelbrecht)

Internasionale gesondheidsorgkenners is van mening Suid-Afrika het ʼn voordeel in die Covid-19-uitbreking ná jare se stryd teen MIV en tuberkulose: die kennis en infrastruktuur om massa-toetsing te doen.

Gesondheidsorgkenners benadruk die beste manier om die verspreiding van die virus te verlangsaam, is deur omvattende toetsing, die vinnige kwarantyn van mense wat positief toets vir die virus en om persone op te spoor wat met die betrokke persoon in kontak was.

“Ons het ʼn eenvoudige boodskap vir alle lande: toets, toets, toets,” het Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidorganisasie (WGO) en ʼn voormalige minister van gesondheid in Ethiopië, onlangs gesê.

Suid-Afrika het pas met mobiele toetsingseenhede in digbevolkte informele nedersettings begin waar ongeveer 25% van die land se bevolking van 57 miljoen woon.

Alhoewel meeste mense wat besmet word slegs geringe of matige simptome toon, kan die siekte veral gevaarlik wees vir ouer mense en diegene met bestaande gesondheidsprobleme soos diegene wie se immuunstelsels verswak is of diegene wat longsiektes onder lede het. Dit beteken talle persone in Suid-Afrika – met die wêreld se hoogste getal mense met MIV (meer as 8 miljoen) en een van die wêreld se hoogste getal mense met TB – staan ʼn groot risiko om ernstig siek te word.

“Sosiale distansiëring is byna onmoontlik waar ʼn groot familie in ʼn eenslaapkamer-plakkershuis woon,” het Denis Chopera, uitvoerende bestuurder van die sub-Sahara Afrika-netwerk vir TB/MIV-navorsing, bygevoeg.

“Dit is gebiede waar daar hoë konsentrasie mense is met MIV en TB wat moontlik ernstige simptome kan toon. Dié gebiede kan vinnig fokusareas word,” het Chopera, ʼn viroloog gebaseer in Durban, gesê.

Die jare se stryd teen dié siektes, het Suid-Afrika goed toegerus met ʼn netwerk van toetsingsentrums en laboratoriums in diverse gemeenskappe oor die land heen, sê kenners.

“Ons het toetsinginfrastruktuur, toetsinggeskiedenis en ervaring wat ongeëwenaard is in die wêreld,” sê Francois Venter, adjunkdirekteur van die Instituut vir Reproduktiewe Gesondheid aan die Universiteit van die Witwatersrand. “Ons durf nie dié geleentheid verkwis nie.”

ʼn Drie weke lange afsonderingsperiode is vanaf 27 Maart ingestel. “Dis nou die tyd om te toets en na te spoor. Ons moet by die gemeenskappe inkom en uitvind waar die fokusgebiede is. Met toetsing kan ons strategies ons hulpbronne fokus,” het Venter bygevoeg.

Suid-Afrika was een van slegs twee lande in Afrika wat vir die nuwe koronavirus kon toets toe dit in Januarie wêreldwyd begin versprei het. Nou kan minstens 43 van die kontinent se 54 lande, maar slegs met beperkte kapasiteit.

Wydverspreide toetsing was selfs ʼn uitdaging in Noord-Amerika en Europa, waar lande met groot uitbrekings slegs pasiënte getoets het wat in die hospitaal opgeneem is.

Suid-Afrika kan tans sowat 5 000 toetse per dag doen en sal sy kapasiteit teen die einde van April vergroot tot ongeveer 30 000 per dag, aldus die Staatsgesondheidsdiens. Gesondheidsorgkenners sê dié kapasiteit sal van die beste in Afrika wees en baie goed vergelyk met talle lande in die ontwikkelde wêreld.

Suid-Afrika toets reeds deur middel van deppers en ander konvensionele metodes, maar sal na verwagting binnekort toestelle ontvang wat vinnig resultate oplewer. Suid-Afrika gebruik al jare lank ʼn TB-toetsingstelsel wat genetiese materiaal onttrek en binne twee uur ʼn uitslag lewer. Dié stelsel, wat as GeneXpert bekend staan, het ʼn toets ontwikkel vir Covid-19 wat verlede maand deur die Amerikaanse voedsel-en-dwelmadministrasie (FDA) goedgekeur en Suid-Afrika sal na verwagting binne ʼn paar weke dié toetsstelle ontvang.

“Dit sal ons toetsingsperiode drasties verkort en die kleiner masjiene kan in mobiele voertuie geplaas word, ideaal vir gemeenskapstoetsing,” het dr. Kamy Chetty, uitvoerende hoof van die Staatsgesondheidsdiens, gesê.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het gesê die land “moet uitvind wat gebeur in ons digbevolkte gebiede, veral die informele nedersettings”. Hy het gesê gesondheidsorgwerkers sal steeds deur-tot-deur toetsing doen om alle persone te vind wat met Covid-19 besmet is.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria ·

Dit is goed om mense te toets, dit spoor siek mense op, maar gesondheidsorg in hospitale is pateties. “n Mens gaan na n staatshospitaal om sepsis en sekondêre infeksies op te doen. Ek sal nooit die regering of enige van hulle gesondheidswerkers vertrou nie. Daar sal kruisbesmetting wees tussen toetsers en getoetsdes. Kyk na die fotos. die toetsbeamptes sal nie nuwe handskoene aantrek na n toets nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.