Té min betaal skoolgeld

Al hoe meer mense sukkel om skoolgeld by te hou. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Skoolgeld is die belangrikste bron van inkomste vir 95% van private skole en 85% van openbare skole, maar al hoe meer ouers wat sukkel om finansieel kop bo water te hou, is besig om ʼn groot uitdaging vir skole se kontantvloei te word.

Onlangse navorsing wys baie mense besnoei aan hulle diskresionêre besteding, terwyl ander bloot net sukkel om hul rekeninge ten volle te betaal.

Hiervolgens het meer as ʼn derde van ouers nie in 2022 hul skoolgeldrekening ten volle vereffen nie. ʼn Kwart het boonop glad nie betaal nie.

“Die druk het ʼn rimpeluitwerking op private en openbare skole wat skoolgeld vra,” sê die maatskappy TPN Credit Bureau. TPN het einde verlede jaar ʼn opname onder skole gedoen om te bepaal wat in hierdie stadium skole se grootste uitdagings is.

Benewens toelae, beurse, borgskappe en skenkings is skoolgeld skole se hoofbron van inkomste; tog het die betaling daarvan steeds nie na vlakke van voor die Covid-19-pandemie herstel nie.

Só lyk rekeninge

Teen die einde van verlede jaar was net 62,57% van skoolgeldrekeninge opbetaal, in vergelyking met 63,75% teen die einde van 2021. Wat kommerwekkend is, is dat 25% van ouers nie enige betalingsreëling getref het nie, lui TPN se bevinding.

Wat die betaling van skoolgeld betref, was 2020 die slegste jaar op rekord. Teen die einde van die derde kwartaal – op die hoogtepunt van die inperking – het net 50% van ouers hul kinders se skoolgeld ten volle vereffen en teen die einde van die jaar was net 56% van ouers se rekeninge op datum.

“Gewoonlik het ouers wat nog nie betaal het nie, die skoolgeld teen die einde van die jaar wanneer bonusse betaal word, betaal om toelating in die nuwe jaar te verseker,” sê Waldo Marcus, hoof van bemarking by TPN Credit Bureau.

“Die laat betaling plaas bykomende druk op skole se kontantvloei en hul vermoë om hul eie finansiële verpligtinge betyds na te kom.”

Die opname wys die skoolgeld by ʼn private laerskool wissel tussen R31 000 per jaar vir die laagste grade, tot R40 000 per jaar vir ouer leerders. Hoërskoolgeld beloop tussen R71 000 en R91 000 per jaar.

By openbare skole beloop koste sowat R14 000 vir laerskoolkinders tot gemiddel R25 000 per jaar vir ʼn hoërskoolleerder.

Die hoër koste van private skole is onbekostigbaar vir talle ouers terwyl huishoudings hul prioriteite al hoe meer moet hersien. Die opname het ook gewys dat private skole sukkel om hul klasse met genoeg leerders te vul.

“Meer as 40% van skole het aangemeld dat hulle vanjaar minder leerders as ʼn jaar gelede het. Slegs 29% van skole het gesê hulle het meer leerders as verlede jaar.”

Intussen groei die vraag na plek in openbare skole onophoudelik. Nagenoeg 50% van openbare skool-respondente het aangedui dat hulle vanjaar meer leerders aanvaar het as verlede jaar, terwyl 39% aangedui het dat die inname naastenby dieselfde is. Slegs 14% van openbare skole het vanjaar minder inskrywings gehad.

Volgens Marcus lyk dit of emigrasie ʼn aansienlike uitwerking op private skole het: Tot 31% van dié skole het aangedui dat meer leerders die skool weens immigrasie verlaat as in vorige jare.

“Openbare skole, aan die ander kant, sien ʼn verstadiging van die emigrasie-neiging met die helfte van openbare skole wat aanmeld dat minder leerders in 2022 weg is as in 2021.”

Alternatiewe inkomste

Hoewel skoolgeld die hoofbron van inkomste is vir die meeste skole (wat skoolgeld vra), het die opname ook gewys dat alternatiewe fondsinsameling ʼn belangrike bron van inkomste by meer as die helfte van private skole is.

Dié skole plaas skenkings as derde op hul lys van belangrike inkomstebronne.

Borgskappe is vir private en openbare skole nog ʼn belangrike bron van inkomste en die maatskappy sê dit wys dat skole heelwat staatmaak op die private sektor om onderwys te finansier.

Staatsubsidies en beurse is openbare skole se tweede belangrikste bron van inkomste.

Maatskappye wat skole borg, sal waarskynlik ook al hoe skaarser word. Baie ondernemings sny hul begrotings tot op die been weens die verhoogde koste van sake wat aan veral beurtkrag en ʼn algemene verlangsaming in die ekonomie toegeskryf word.

Die opname het ook gewys indien skole enige diskresionêre besteding sou kon doen, dit sou wees vir die aankoop van toerusting vir klaskamers (30%), die verbetering van onderwysers se vaardighede (16%), die aankoop van speelterreintoerusting (15%), belegging in IT en tegnologie (14%), besteding aan die skool se biblioteek en boeke (10%) en sporttoerusting (7%).

Nóg kopsere

Benewens die insameling van skoolgeld, is daar ook heelwat ander kwessies wat skole opkeil.

Dit sluit in leerders wat laat opdaag, behoorlike skoolvervoer en ʼn gebrek aan genoeg hulpbronne in klaskamers.

Die geestesgesondheid van onderwysers en leerders bly ʼn bron van kommer en angs en depressie onder leerders is as ʼn spesifieke bron van kommer in die opname genoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Nici ·

Ouers betaal inkomstebelasting asook BTW. Staatskole behoort genoeg staatssubsidie te kry om skole aan die gang te hou.

Nommer 7 ·

Nici, skoolgeld word slegs benodig om vir die uitgawes van ‘n skoolbeheerliggaam te betaal. Indien ‘n skool nie ‘n beheerliggaam het nie, is daar nie skoolgeld te betaal nie, maar by sulke skole gaan nie veel aan nie, net klasgee in klasse van 50 leerders.

Henry ·

toe ek op skool was het jy net vir boeke betaal. hoekom het skoolgelde so duur geraak sedert 1994

marius ·

Want kaders verkies luukse motors . En horlosies . En klere . En kitskos . En miljoeners wonings . En , en en …

Nommer 7 ·

Henry, daarom gee die minister ‘n konsessie afslag gegrond op ouers se gesamenlike inkomste, maar ouers maak nie hiervan gebruik nie.

Johan ·

Ek het onlangs my werk verloor en my vrou het 10jaar gelede haar werk verloor en beide sukkel steeds om werk te kry. Dus het ons geeb inkomste nie. Werk vir blankes is deesdae baie skaars.

Mnr De Beer ·

Dan word daar ook nog teen blankes gediskrimineer met SEB reels en wet. Ek hoop julle kom reg met werk

Marcello ·

Dit is omdat te veel mense vrygeskel word van skoolgelde, ek weet van ‘n geval waar die Pa en Ma werk, met ‘n inkomste van +- R17.000.00 ‘n maand, en hulle word vrygestel van Laerskool en Hoërskool. Want dit gaan mos lekker in die land, want nou moet die arme ander ouers moet maar betaall???

Nommer 7 ·

Mercello, in terme van Staatskoerant 29311, kwalifiseer ouers wat gesamentlik R700,000.00 of minder verdien, alreeds vir skoolfonds afslag bereken op ‘n skoolfonds van R25,000.00 per jaar. Hierdie konsessie toegewing gegrond op inkomste, is deur die minister goedgekeur. Met genoemde skoolfonds, sal ouers wat R20,800.00 pm en minder verdien, 100% afslag kry

marius ·

Skole is veronderstel om verniet te wees vir ALMAL . Daar kan nie eers potlode voorsien word nie . Hool !

Nommer 7 ·

maruis, wees bewus daarvan dat alle uitgawes wat deur ‘n skool verplig word, soos skryfbehoeftes, ook gesien word as skoolgeld. Dit help as dit kom by die formule om skoolgeldafslag te bereken soos gestipuleer in Staatskoetant 29311.

Sandra ·

Dis nie wie jy is nie maar wie jy ken. Jy kan meer as genoeg bekostig, maar my buddy dien op die skoolkomitee, sy hy gooi sommer sy stuiwer in en, walla, geen skoolgelde om te betaal nie. Diegene met wie dit broekskeur gaan ,skeur al verder om die skoolgeld te kan betaal om toe te sien dat hul kinders die nodige opvoeding kry. Ek trek baie swaar, maar tog betaal ek my skoolfonds, ek moet maar op ‘n ander plek sny.

Moedeloos ·

As jy bewyse het gaan rapporteer dit by jou Onderwys Departement want volgens my moet elke aansoek bewyse van inkomste en uitgawes vergesel voordat goedkeuring gegee word vir vrystelling.

Nommer 7 ·

Moedeloos, u is reg , slegs inkomste en uitgawes, NIE bates of ander inligting nie, aangesien skoolfonds slegs bereken word op inkomste en nie op bates nie. Tot en met 1998 kon skole ouers uitvra oor hul bates, nie meer daarna.

Mnr De Beer ·

Ek het destyds altyd gevra hoeveel skape en beeste skenk die ryk mammas en pappas wat nie skoolgelde betaal. Jy sal verbaas wees hoeveel skole doen die buddy buddy gedoente en anders moet betaal.

Amelia ·

Skoolfonse is te veel maak fondse minder sodat almal kan betaal bv skoolgeld is 2000 per maand maar net 1 knd kan dit bekostig maak eerder bv 1000 wat 2 kinders kan bekostig maar dink ook is geval van koffie ens moet voorsien word meeste werksers moet hul eie koop selfde met skryfbehoeftes en ek dink ook die een wat nie betaal nie se kind suig aan agter speen suig want as nie skoolfonds kan betaal nie kan dit dalk wees dat kind nie klere of geld het vir sport of uitstapies nie wat einlik niks met arme kind te doen het nie

Anel ·

Wat my dwars in die krop steek is waar skole kinders”koop”. En dit is gewoonlik rugbyspelers. Die arme kind wat akademies presteer kry niks. Hierdie kinders moet hard leer om te presteer omdat die ouers nie kan bekostig dat die kind ‘n jaar herhaal nie. En dan kan so kind nie nog aan sport deelneem nie want dit kos geld. So ‘n kind is dalk ook ‘n goeie atleet maar nou nie so goed dat die skool gaan kan geld maak nie, en dan word die kind se potensiaal nooit ontwikkel nie. Maar die rugbyspeler kry alles. Van klere en boeke en sporttoerusting tot koshuis verblyf. En sy ouers kan dit baie keer alles en meer bekostig.

Nommer 7 ·

Anel, dit wat jy noem word verbied deur Artikel 37(7)(c) van die SA Skolewet. Dit kom daarop neer dat die begroting gemanipuler word, deur ander ouerste laat betaal vir die ontvangers van beurse. Dit is die probleem met hoe” skoolgelde. Skoolhoofde en SBL’e begroot ruim vir onregmatige uitgawes, omrede hulle weet ouers is nie bewus van wetgewing nie.

domheks ·

Skool is verpligtend! Hoekom kan die cANCer regering nie skoolgeld afskaf nie? Dan het sekere skole nog die vermetelheid om te vra dat daar kinders is wat nie kos het nie, die ander ouers moet vir ‘n sekere aantal elke dag toebroodjies maak! Maar ander skole kry elke dag etes.

Nommer 7 ·

In terme van Artikel 37(6) van die SA Skolewet, mag skoolgeld slegs gebruik word vir gehalte onderwys. Skole se begrotings reflekteer miljoene wat nie voldoen aan Art 37(C) nie, en ouers keur dit goed. Ouers moet dus nie kla nie.

Nommer 7 ·

Lilian, ‘n Skool en ‘n Beheerliggaam (SBL) is twee verskillende regspersone. Elkeen kan afsonderlik dagvaar of gedagvaar word. Skoolgeld is ‘n ooreenkoms tussen die SBL en die ouers, nie tussen die skool en die ouers. Die regering het dus geen rol by die vasstelling van skoolgeld. Die regering maak wel wetgewing waaraan SBL’e moet voldoen om skoolgeld vas te stel. SBL’e voldoen nie altyd aan hierdie wetgewing nie, en ouers is onkundig hieroor. Daarom betaal ouers meer skoolgeld as wat wetgewing toelaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.