Te veel maand, te min geld: Dís wat SA’ners prysgee

(Argieffoto: Holgers Fotografie/pixabay)

Suid-Afrikaners wat desperaat probeer om van een maand na die volgende kop bo water te hou, maak moeilike keuses oor wat om prys te gee net om die boeke naastenby te laat klop. En opnames wys gimnasiumlidmaatskap, begrafnispolisse en selfs mediese fondse bly nou al hoe meer in die slag.

Die Suid-Afrikaanse navorsingsmaatskappy TrendER/infoQuest het 300 verbruikers verlede maand gevra watter intekenings, kontrakte en polisse hulle oor die afgelope ses maande prysgegee het in ʼn poging om hul finansies te laat klop.

Byna een uit vier van die respondente (23%) het aangedui dat hulle hul lidmaatskap by die plaaslike gimnasium noodgedwonge gekanselleer het, terwyl 18% besluit het om hul DStv-intekening te staak.

(Grafika: Maroela Media)

Sowat 10% het besluit om nie meer hul huisinhoud te verseker nie en 9% het selfs hul mediese fonds oor die afgelope ses maande gekanselleer. Ewe veel respondente (9%) het aangedui dat hulle nie langer ʼn begrafnispolis kan beskostig nie en dié polis gestaak het in ʼn poging om geld te spaar.

TrendER/infoQuest se data toon voorts dat jonger verbruikers, tussen 18 en 35 jaar oud, meer geneig is om hul huishoudelike versekering en mediese fonds te kanselleer, terwyl diegene tussen 25 en 34 jaar meer geneig was om begrafnispolisse te staak.

Claire Heckrath van TrendER/infoQuest is bekommerd daaroor dat Suid-Afrikaners sogenaamde voorsorg-spaarprodukte prysgee net om te oorleef.

“Hoewel dit aanloklik kan wees om persoonlike versekeringspolisse te kanselleer om geld te bespaar, is dit belangrik om die potensiële risiko’s en gevolge te oorweeg. Dit is van kardinale belang om die potensiële risiko’s noukeurig te evalueer, met kundiges te beraadslaag en ingeligte besluite te neem op grond van individuele omstandighede.”

(Grafika: Maroela Media)

ʼn Opname in April wys dat Suid-Afrikaners se winkelmandjies óók deesdae ligter is in ʼn poging om geld te bespaar.

Amper een uit elke twee (47%) verbruikers (uit alle inkomstekategorieë) het aangedui dat hulle oor die afgelope ses maande minder koekies, lekkers en nagereg gekoop het.

Sowat 42% koop deesdae minder alkoholiese drankies, terwyl 41% van verbruikers aangedui het dat hulle die laaste ses maande minder vleis – hetsy rooivleis, hoender of vis – begin aankoop het. Dié verbruikers was almal in die laer inkomsteklas.

Intussen koop 39% van die respondente minder koeldrank en 33% minder suiwelprodukte. Sowat 28% koop die afgelope ses maande minder toiletware.

Vrugte en groente en pasta/rys is die kategorieë wat die minste geraak word. Ongeveer een uit elke vyf verbruikers het wel aangedui dat hulle hul besteding aan produkte in hierdie kategorieë afgeneem het.

“”Ongeag ouderdom en inkomste, Suid-Afrikaanse verbruikers is beslis in ʼn finansiële knyp wanneer dit kom by kos op die tafel sit vir hulself en hul gesinne,” sê Mogorosi Mashilo, besturende direkteur van TrendER/infoQuest.

(Grafika: Maroela Media)

Beurtkrag

Suid-Afrikaners wat desperaat probeer om van een maand na die volgende kop bo water te hou, maak moeilike keuses oor wat om prys te gee net om die boeke naastenby te laat klop. (Foto: Steve Buissine/pixabay)

En asof die alewige stygende lewenskoste nie erg genoeg is nie, begin beurtkrag Suid-Afrikaners óók groot geld kos.

TrendER/infoQuest het in April verlede jaar gemonitor watter uitwerking beurtkrag op die Suid-Afrikaanse verbruiker het. Die opname is in April vanjaar wéér gedoen en ʼn paar groot veranderinge is opgemerk.

Niks minder nie as 16% van die 300 respondente – vergeleke met verlede jaar se 11% – moes ʼn huisbraak verduur aangesien die sekuriteitsalarms onaktief was tydens beurtkrag.

Sowat 56% het nou noodgedwonge ekstra sekuriteitsmaatreëls by hul huise getref om hul veiligheid gedurende beurtkrag te verseker.

Drie uit elke vier Suid-Afrikaners (74%) het ook in die jongste peiling ten minste een huishoudelike toestel wat óf beskadig of vernietig is as gevolg van beurtkrag. Dit is byna 20% meer as die 57% van verbruikers wat verlede jaar aangedui het dat ’n huishoudelike toestel in hul huis weens beurtkrag die gees gegee het.

Die verlies aan yskasinhoud en skade aan hekmotors het óók toegeneem sedert April verlede jaar: vanaf 50% van respondente verlede jaar, tot 67% van respondente vanjaar.

Een uit elke drie respondente het aangedui dat hul onderneming wat hulle vanaf hul huis bestuur deur beurtkrag geraak word.

Sowat 27% het aangedui dat hul motorhek die gees gegee het weens beurtkrag.

Suid-Afrikaners moet ook deesdae uitgawes aangaan in ʼn poging om minder afhanklik van die beurtkragskedule te wees. Ongeveer 80% van die respondente het vanjaar aangedui dat hulle alternatiewe reëlings van een of ander aard getref het om beurtkrag die hoof te bied.

Sowat 60% het ʼn gasstoof geïnstalleer, 22% het ’n kragopwekker gekoop en 12% huur tans ʼn kragopwekker. Een uit vyf van die respondente (20%) het noodgedwonge ʼn omskakelaar (“inverter”) aangeskaf. Sowat 17% het sonpanele laat aanbring, terwyl 7% tans sonpanele huur om die ligte aan te hou.

Sowat drie uit vier verbruikers koop deesdae meer gereeld minder kruideniersware om te verhoed dat hulle kos mors weens beurtkrag. Twee uit drie respondente het aangedui dat die soort maaltye wat hulle deesdae voorberei, dramaties verander het.

Byna die helfte (48%) van respondente eet deesdae meer gereeld uit as gevolg van beurtkrag. Dieselfde hoeveelheid respondente het selfs aangedui dat hulle nou vroeër die huis verlaat om by die werk te kom en later terugkeer huis toe.

Beurtkrag het ook ʼn uitwerking op die skoolprestasie van kinders. Sowat 40% van ouers het aangedui dat hul kinders se prestasie verswak het omdat hulle nie saans in die donker kan studeer of huiswerk doen nie.

Die data toon ook dat verbruikers pessimisties is wat hul verwagtinge vir die toekoms van beurtkrag betref. Sowat 58% glo dat beurtkrag oor die volgende jaar net erger gaan word.

TrendER/infoQuest sê vroue is geneig om meer pessimisties as mans te wees, terwyl ouer Suid-Afrikaners ook meer negatief is as dié in die jonger ouderdomskategorieë.

Meer as die helfte van die respondente (52%)  het wel gesê dat hulle nou meer tyd saam as ʼn gesin deurbring en meer kommunikeer tydens beurtkrag.

Mashilo sê beurtkrag plaas duidelik druk op die verbruiker in ʼn reeds moeilike ekonomiese klimaat.

“Al hierdie faktore dra by tot die ‘nuwe normaal’ van die Suid-Afrikaanse verbruiker in ʼn omgewing wat blykbaar hier is om vir die afsienbare toekoms te bly.”

(Grafika: Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JvR ·

Dit word genoem n “reset”. Die wat die gepeupel wil paai, noem dit n ekonomiese reset. Maar dit het al die elemente van n “grand reset”. Dit het begin al in die 90’s, vroeë 2000’s begin momentum kry. Elke nou en dan afgeskaal sodat die skapies nie agterkom iets is fout nie. Die 2020 plaag was die begin van die einde. En nou is dit buite beheer. Selfs al wil die council of @@@@ dit stop. Dit kan nie meer gestop word nie. Die laaste grand reset was einde 1800’s. En glad nie op die skaal van die huidige een.

Carl ·

Ek koop al jare al ons kos by die Pretoria boeremark. Meeste kos direk van die boere en sommer baie goedkoop ook.
Melk is baie goedkoper daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.