Teenkanting ná minister PanSAT ontbind

Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur (Argieffoto uit 2014) Foto: GCIS

Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur (Argieffoto uit 2014) Foto: GCIS

Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur wat Woensdag aangekondig het dat hy die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) ontbind het weens swak prestasie en ʼn gebrek aan leierskap, se besluit word uit talle oorde veroordeel.

Volgens die burgerregte-organisasie AfriForum bewys die ontbinding van die raad die regering se gebrek aan respek vir taalregte.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum en verantwoordelik vir taalkwessies, het Vrydag gesê dat PanSAT reeds ʼn geruime tyd in omstredenheid gehul is. “AfriForum het verskeie klagtes oor growwe taalregteskendings by PanSAT ingedien, sonder om enige reaksie daarop te ontvang. Bewerings oor finansiële wanbestuur en kaderontplooiing, ʼn gebrek aan deursigtigheid en aanspreeklikheid, asook lang tydperke sonder ʼn raad lê al jare lank die instelling lam. Die optrede van die onlangs aangestelde raad (wat pas ontbind is) om dit na behore te ondersoek, is skynbaar nou in die doofpot gestop,” het Bailey gesê.

“As die minister ernstig oor doeltreffendheid en die bevordering van veeltaligheid was, sou hy hierdie raad ondersteun en gesorg het dat PanSAT uiteindelik ʼn stabiele bestuursfase beleef. In plaas daarvan het hy die raad ontbind en dobber PanSAT nou opnuut leierloos rond, sonder duidelikheid oor die uitkoms van die forensiese ondersoeke na bestuur wat die raad gelas het.”

Bailey het verduidelik dat PanSAT geskep is om die taalregte van alle Suid-Afrikaners te beskerm. “Standpuntinname, soos dié van die personeel in Mei 2015 dat Gautengse skole se aanspraak op enkelmedium-moedertaalonderrig ‘rassisties’ is en op onregmatige bevoordeling neerkom, het egter bewys dat daar by die amptenary geen begrip vir basiese taalregte en die waarde van moedertaalonderrig is nie. PanSAT het op vele terreine sy plig teenoor alle Suid-Afrikaners versaak en pogings van die raad om die situasie om te keer, het op niks uitgeloop nie.”

Soos ook verskeie artikel 9-grondwetlike instellings, het PanSAT volgens Bailey ʼn “wit olifant” geword wat die illusie skep dat dit taalregte beskerm en bevorder, maar eintlik slegs ʼn groot personeelkorps in diens hou. “Die burgerlike gemeenskap moet hiervan kennis neem en self verantwoordelikheid aanvaar vir die toekoms van ons amptelike Suid-Afrikaanse tale in die land.  Van die owerheid se kant af kan ons nie op steun reken nie,” het sy bygevoeg.

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het gesê Mthethwa se skielike besluit is laakbaar en dra niks by tot die skepping en voortgesette bestuur van ’n regverdige taalbedeling in die land nie.

“PanSAT se nuwe raad, onder voorsitterskap van prof. Mbulungeni Madiba en ondervoorsitterskap van prof. Wannie Carstens, het die afgelope 18 maande in ’n volgende fase van PanSAT se bestaan alles in sy vermoë gedoen om sake by PanSAT reg te ruk en wanbesteding van geld en die ongeregverdigde aanstelling van personeel aan die kaak te stel,” het die ATR in ʼn verklaring gesê.

Volgens die ATR het die “nuwe besem” wat drastiese stappe verteenwoordig het, klaarblyklik nie die goedkeuring van die minister weggedra nie. “Stappe deur die nuwe raad en aanbevelings om wantoestande by PanSAT reg te stel, het blykbaar nie in vrugbare aarde geval nie. Sekere van die nuwe raad se stappe sou moontlik gelei het tot hofgedinge wat die minister waarskynlik met sy besluit wou vermy om verleentheid te voorkom. Die minister maak in sy besluit oor die ontbinding van die raad melding van onbegrip tussen sy departement en die raad. Positiewe besluite wat die afgelope tyd geneem is en aanbevelings wat gemaak is om PanSAT se sake reg te ruk, is waarskynlik nou deur die minister se optrede ongedaan gemaak.”

Die ATR meen dit beteken dat wantoestande sal voortduur tot nadeel van die ontwikkeling en bevordering van die inheemse tale van Suid-Afrika. “Die liggaam wat bestem was om ’n positief leidende rol in die nasionale taalbestuur van Suid-Afrika te speel, het vanweë interne struwelinge en wantoestande ’n sukkelbestaan gevoer. Die minister se inmenging is ’n verdere ondermyning van PanSAT se doeltreffendheid. Die opheffing van PanSAT is seker vir hom die enigste uitweg.”

Die Orania Beweging het op sy beurt gesê die afskaffing van PanSAT dui op die belangrikheid daarvan om eie instellings te vestig wat kan omsien na dit wat vir minderheidsgroepe in Suid-Afrika belangrik is.

James Kemp, een van Orania se woordvoerders, het gesê die beweging het in die afgelope 25 jaar van sy bestaan verskeie instellings daargestel om, in die afwesigheid van ondersteuning van die regering, belangrike dienste te lewer. Dit sluit instellings in wat omsien na erfenisbewaring, munisipale dienslewering en maatskaplike ondersteuning.

“Dit is noodsaaklik dat Afrikaners self seggenskap het oor hul taal. Hoewel PanSAT die potensiaal getoon het om ʼn bydrae te lewer tot die bevordering en beskerming van Afrikaans, berus die verantwoordelikheid eerstens by die moedertaalsprekers,” het Kemp gesê. “So het die regering ook ʼn verantwoordelikheid om ʼn omgewing te skep waarbinne meertaligheid en kulturele vryheid bevorder kan word, maar dit skep probleme as dié funksie uitsluitlik by die regering rus. Die afskaffing van PanSAT sal hopelik ʼn ligpunt inhou in die opsig dat dit gemeenskappe sal aanmoedig om self verantwoordelik te raak vir hul taal.”

Maroela Media het vroeër berig Pieter Mulder, leier van die VF Plus, het gesê Mthethwa se eensydige besluit is “ʼn reusefout wat ʼn yslike terugslag vir veeltaligheid in Suid-Afrika inhou.”

“Die vraag is of die forensiese verslag wat die PanSAT-raad laat opstel het oor vorige korrupsie en geldmisbruik by PanSAT, ʼn rol gespeel het in die skielike besluit van die minister om die raad af te dank,” het Mulder gesê. “Die verslag is nog nie bekend gemaak nie en die VF Plus sal daarop aandring dat dit nou openbaar gemaak word. Wat bevind die verslag? Skram die minister en die departement dalk weg van die onthulling van korrupsie en vermorsing in die verlede?” Lees die partye se volle reaksie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarel Strydom ·

My Vraag wat het Pansat gedoen. Wat was hulle funksie want ek glo nie hulle het ooit iets uitgerig nie. So met of sonder Pansat: situasie bly dieselfde.

Jan maak n Plan ·

Soos alles wat die regering sy vingers in het – een groot gemors.

Gwen ·

Waarom is die DA tjoepstil oor die ontbinding van PanSAT? Ek sal u sê waarom: omdat die DA in sy diepste wese nie ’n dooie duit omgee vir die Afrikaner en sy taal nie, en by uitbreiding ook nie vir Kleurlinge nie.

Ek hoop van harte die Afrikaanse DA-stemmers skrik wakker en sien dat ons (Afrikaanssprekers) se heil geensins by die DA lê nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.