Teenkanting oor aanstelling van nuwe Opod-hoof

Die minister van polisie, Bheki Cele. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die parlementêre polisiekomitee het die nominasie van Jennifer Dikeledi Ntlatseng goedgekeur as die nuwe hoof van die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod). Ntlatseng vervang Robert McBride as hoof van die eenheid.

Polisieminister Bheki Cele het gesê dit was ʼn lang en uitgerekte proses om ʼn geskikte kandidaat te vind. Ná drie pogings om ʼn nuwe hoof vir Opod te vind, het hy uiteindelik op Ntlatseng besluit. “Sy is eenparig genomineer as die beste kandidaat en die paneel het besluit om haar naam by die parlement in te dien vir oorweging.”

Lede van die parlement was gedurende die sitting onseker of daar weens moontlike wetlike probleme met die proses voortgegaan moet word, maar die komitee het ingestem dat die aanstelling solank kan voortgaan. Kragtens die wet moet ‘n nuwe Opod-hoof binne 12 maande aangestel word, maar die pos is reeds sedert Februarie verlede jaar vakant.

Andrew Whitfield, die DA se skaduminister van polisie, het gesê sy party veroordeel die besluit deur die komitee om Cele se nominasie te ondersteun. “Die DA ondersteun nie die aanstelling nie en glo die parlement is weer afgeskuif as niks meer nie buiten ʼn rubberstempel van die ANC.

Whitfield het bygevoeg daar is tans ʼn saak in die hof wat betref die hernuwingsproses van die voormalige Opod-hoof en die minister het self vroeër vanjaar die sperdatum misgeloop om ʼn nuwe hoof aan te stel.

“Ons herhaaldelike besware teen die gebrekkige nominasieproses is heeltemal geïgnoreer deur die komitee. Ons is van mening dat die nominasie van me. Ntlatseng as Opod-hoof teenstrydig is met artikel 6(5) van die Opod-wet wat bepaal die vakante pos moet binne 12 maande gevul word. Die hele proses is gebrekkig en in geheimhouding gevul en die keurpaneel is gelaai met ANC-politici. Dit laat ʼn wolk van verdenking en twyfel hang oor die nominasie- en aanstellingsproses.”

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het intussen ook gesê hy stem nie saam met die aanstelling van Ntlatseng nie, weens onder meer “ʼn nie-deursigtige en gebrekkige keuringsproses”.

Groenewald het gesê dit is duidelik dat die parlementêre portefeuljekomitee wat ʼn aanbeveling oor die aanstelling moes doen, Ntlatseng nie behoorlik geëvalueer het nie.

Ses kandidate vir die pos se aansoeke is afgekeur op grond van die feit dat hulle geen ondersoekende ondervinding het van polisieverwante sake nie. Tog is Ntlatseng aangestel sonder enige ondervinding in dié verband.

“Die VF Plus beskou die totale aanstellingsproses as gebrekkig. Die party het voorgestel die portefeuljekomitee moet sy eie kriteria oor kandidate kan opstel en moet ook in staat wees om onderhoude te voer met potensiële kandidate om ʼn ingeligte besluit te neem. Dit is daarom duidelik dat die aanstelling deur gestoomroller is met die ANC se meerderheid in die portefeuljekomitee omdat die minister nagelaat het om binne die voorgeskrewe tydsraamwerk iemand in die pos aan te stel.”

Die VF Plus het in die portefeuljekomitee gevra dat die minister ʼn omvattende verslag aan die komitee voorlê met redes vir sy versuim om die spertyd vir die aanstelling te eerbiedig. Die komitee het die voorstel aanvaar.

Daar is tans ook hangende hofsake oor die proses vir die aanstelling van die uitvoerende direkteur van Opod en die komitee het ook besluit dat die bestaande wet wat die uitvoerende direkteur aanstel, gewysig moet word om beter toesig van die portefeuljekomitee te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sobymykoolkop ·

Net nog ń kader wat die ander kaders teen vervolging moet beskerm

Sarel ·

Die ” Portefeulje Kommiteed” het geen tande nie. En batuurlik net soos met die OB sal Pro ANC aanstelling geniet. Dit is egte hulle voorreg.

Jaco ·

In die ou SA is sulke hoë poste meestal aan Broederbonders gegee. Die Broederbond was die geheime “think tank” agter die regerende Nasionale Party. Toegegee, bekwaamheid en ondervinding het óók toe ‘n rol gespeel, MAAR die beginsel was presies dieselfde as nou: pêlle en lede van die regerende party het voorkeur gekry by jobs in die staatsdiens. Dit het ook getel by groot Afrikanerbesighede soos SANLAM en Volkskas én dit het selfs getel vir aanstelling op die leíerskap van die 3 Afrikaanse susterkerke. Vandag se “hulle” het die beginsels van dié goed dus maar net by die ou dae se “ons” geleer.

Gerhard ·

Hmm, ja ou Jaco maar ten minste was ons bestel op daardie stadium gemeet aan die waardes van n 1e wereld land…nie hierdie agteraf piesang republiek van nou nie.

Jakes ·

As die betrokke kandidaat bevoeg was om die job te doen dan sou n mens nog kon argumenteer dat sy op meriete aangestel is maar heelaas sal dit nouliks die geval wees want haar meerdere in die polisie blyk self onbevoeg te wees gegewe die algemene toestand van die polisiediens.

Jack ·

Dis regtig nou n windlatery teen donderweer. Almal weet reeds hoe kaderontplooing die land al biljoene se skade berokken het. Die werklike doel agter alles is om n bankkrotstaat aan die kommuniste te oorhandig as burgerlike oproer nie eerste gaan wees om die vrotsige spul te troef nie. Armoede en honger lei altyd tot geweld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.