Teenstand teen ‘geloofspolisie’: Ronde een suksesvol

(Foto: pixabay)

Die parlementêre komitee het vandag oor die haatspraak-wetsontwerp vergader. Dié wetsontwerp, bekend as Pepuda, sal waarskynlik geraak word deur die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die Qwelane-saak. Volgens die uitspraak is die definisie van haatspraak, soos in die bestaande Pepuda-wet, te wyd en moet dit meer met die Grondwet belyn word.

Karin Hand, projekbestuurder van Begrond, sê dit is nog ’n klein oorwinning teen die omstrede Pepuda-wetsontwerp.

Pepuda is die wysigingswetsontwerp rakende die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie. Die akroniem “Pepuda” kom van die Engelse benaming “Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Amendment Bill 2021”.

Hierdie wet, soos dit tans lui, word reeds as ʼn gevaar vir geloofsvryheid beskou. Die nuwe wysigings van die Gelykheidswet bedreig egter die reg op vryheid van spraak en het radikale implikasies vir vryheid van geloof vir individue sowel as geloofsinstansies.

“Die nuwe voorgestelde Pepuda-wetswysiging wil ten diepste vir Christene voorskryf om dit wat hulle nog altyd as die waarheid gesien en gesê het, te verander,” het dr. Wikus Buys, uitvoerende direkteur van Begrond, vroeër gesê. “’n Nuwe onderstebo-tipe waarheid word nou voorgehou. Christus word nie meer as die enigste waarheid gestel nie, maar die mensdom se eie sienings mag nou alleen die waarheid genoem word. Ons kan dit nie toelaat nie.”

Die publiek het tot 30 Junie kans gehad om kommentaar te lewer op die Wysigingswetsontwerp. Begrond het Christen-gelowiges opgeroep om die voorgestelde wysiging van die Gelykheidswet teen te staan omdat dit as ’n gevaar vir geloofsvryheid beskou word.

“Ons is verheug oor die oorweldigende reaksie vanuit die geloofsgemeenskap wat deelgeneem het om die voorgestelde wysigings op die wetsontwerp teen te staan en wil die publiek bedank vir hul reaksie,” voeg Hand by. “Die nuwe wysigings van die Gelykheidswet bedreig die reg op vryheid van spraak en het radikale implikasies vir vryheid van geloof vir individue sowel as geloofsgebaseerde instellings.”

Begrond het in Junie kragte saamgespan met ’n inisiatief van FOR SA (Freedom of Religion South Africa) – die drukgroep wat geloofsvryheid beskerm en uitbou. Bo en behalwe die bykans 90 000 unieke reaksies op die DearSA-platform as gevolg van dié inisiatief, is daar altesaam meer as 150 000 voorleggings by die departement van justisie ingedien.

“Dit is ’n reuse-oorwinning om met die eerste ronde van voorgestelde wysiging van die wetsontwerp te wys dat die publiek ernstig voel oor die saak van geloof en nie wil hê dat die regering moet inmeng met gelowiges se vryheid van geloof, of vryheid van spraak nie. Dit is egter slegs die begin van die proses en ons wil die publiek vra om nie te verslap in hulle erns om elke geleentheid te gebruik tydens die proses van wetswysiging nie,” het Hand bygevoeg.

Hoe werk dit wanneer wetgewing verander wil word?

  • Stap 1.1: Ministeriële departement

(Pepuda/die Gelykheidswet se wysigingswetsontwerp is tans hier in die proses)

Daar word ’n voorgestelde wetsontwerp (vir ’n nuwe wet) of ’n voorgestelde wysigingswetsontwerp (vir veranderinge tot ’n bestaande wet) deur die betrokke departement geskryf. Die departement moet die wetsontwerp aan die publiek bekend maak vir die publiek om kommentaar daarop te lewer.

Hierna volg ’n konsultasieproses waartydens die publiek geleentheid het om op die voorgestelde veranderinge te reageer. Na afloop van die tydperk, moet die departement deur elke aansoek werk en besluit watter reaksies hulle in die voorgestelde wetsontwerp gaan insluit en watter aanpassings gemaak gaan word.

Intern moet die departement dan die hersiene weergawe deur ’n proses laat gaan om te verseker dat die wetsontwerp voldoen aan o.a. die Grondwet. Vandaar gaan dit na die kabinet vir goedkeuring.

  • Stap 1.2: Kabinet

Indien die kabinet dit afkeur, gaan dit terug na die departement om weer hersien te word.

As die kabinet die voorgestelde wetsontwerp goedkeur, kan die departement die wetsontwerp in die parlement ter tafel lê en is dit dan die werk van die parlement om die wetsontwerp verder te vat. Dan begin die parlementêre proses loop waarna dit verwys word na albei Huise van die Parlement.

  • Stap 2.1: Nasionale vergadering (NV)

Eerstens gaan die wetsontwerp na die nasionale vergadering waar dit aan ’n portefeuljekomitee geallokeer sal word. Dié komitee gaan weer deur ’n konsultasieproses waartydens die publiek weer kommentaar kan lewer. Gewoonlik is daar dan ook ’n geleentheid vir mondelinge voorleggings.

  • Stap 2.2: Nasionale Raad van Provinsies (NRVP)

Indien die wetsontwerp deur die Nasionale Vergadering (NV) se relevante portefeuljekomitee aanvaar word, word die wetsontwerp aan die relevante komitee van die Nasionale Raad van Provinsies oorhandig. (Dit is die tweede huis van die parlement.) Hierdie komitee sal weereens die wetsontwerp oopstel vir publieke kommentaar.

Die proses het dus ’n aantal stappe, maar dit is moeilik om te bepaal hoe lank dit gaan neem. Voortgesette deelname met elke stap is kritiek. Die departement van justisie het aangedui dat hulle die Pepuda-wysigingswetsontwerp voor die einde van vanjaar wil finaliseer om in 2022 dit in die parlement ter tafel te lê. Daar is dus haas van die regering se kant af om die wetgewing in plek te kry.

  • Stap 3: Presidensiële handtekening

Eers nadat die wetsontwerp deur beide huise van die parlement is, gaan dit na die president om in die Grondwet opgeteken te word. Hierna word die wet bekragtig.

Tweedens is dit belangrik dat die publiek die volgende in ag neem tydens enige reaksie op voorgestelde wetsveranderinge in die toekoms:

  1. Petisies word nie oorweeg nie en word as ’n enkele reaksie beskou.
  2. Unieke voorleggings met ’n individu se naam en reaksie as een getel.
  3. Unieke bewoording in die voorlegging om te verduidelik waarom die persoon ten gunste of daarteen gekant is, weeg swaarder.

“Begrond wil graag die publiek se aandag daarop vestig dat die uitbreiding van vryheid van spraak, soos voorgestel deur Pepuda-wetgewing, nie slegs teen Christenskap, of geloof is nie,” waarsku Hand. “Daar is verwarring onder sekere lede van die publiek wat ten gunste van die veranderinge is, wat nie besef dat dié verandering die vryheid van spraak as geheel gaan inperk nie, asook die vryheid van spraak téén vryheid van geloof.”

Die wetgewing moet dus in konteks verstaan word as ’n algehele inperking op wat ons tot dusver as publiek kon uitleef, glo en deel, ongeag gelowig van aard of daarteen. “Begrond bevestig ons verbintenis om die Christelike vryheid te mag uitleef en om hierdie vryheid ook openlik in die samelewing te verdedig.|

  • Begrond as ʼn Christelike Navorsingsinstituut fokus daarop om deur die ontginning van Bybelse denke riglyne te bied om die samelewing op ʼn Christelike fondament uit te bou en te versterk. Begrond staan ook die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap by om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
jou gewete

Wel gedaan

Sarel

Daar is te veel mense , buite die Regering wzt die Bybel wil Moderniseer volgens huidige menslike standaarde waar ‘n beslissing deur wereldse instellings meer gewig dra as God se woord. Wanneer God se Woord Oud Modies geraak het met die stelling ” tye het verander”

Dawie

Julle bedoel seker “Rondte Een” in die opskrif. Goed soos balle is daardie ronde goed …. wel, in meeste gevalle.

Tiptol

Dit is baie kommerwekkend. Ons moet vasstaan.

Porseleintjie

Jesus Christus is die Enigste Weg, die Waarheid en die Lewe. Nou sal elke Christen se geloof getoets word. Staan vas of buig voor afgode?