Teenstand teen Malema binne EFF neem toe

EFF-leier Julius Malema. (Foto: EFF/Twitter)

In die aanloop tot die EFF se tweede nasionale kongres waartydens die partyleierskap verkies moet word, is teenstand teen die EFF-leier, Julius Malema, besig om toe te neem. Dit lyk wel nie of dié teenstand genoeg sal wees om hom eersdaags uit sy leiersposisie te ontsetel nie.

Die kongres, bekend as die Volksvergadering (People’s Assembly) vind van 13 tot 16 Desember by Nasrec, suid van Johannesburg plaas.

Afgevaardigdes van EFF-takke landwyd moet ʼn nuwe leier, onderleier, nasionale voorsitter, sekretaris-generaal en adjunk sekretaris-generaal aanwys. Die party se nuwe beleidsrigtings moet ook deur die kongres vasgestel word.

Tans is Malema die leier met Floyd Shivambu as sy adjunk. Die nasionale voorsitter is adv. Dali Mpofu, die sekretaris-generaal is Godrich Gardee en die adjunk sekretaris-generaal is Hlengiwe Mkhaliphi.

Malema het die afgelope week – eintlik die eerste keer sedert hy partyleier geword het – teenstand gekry toe die jeugformasie van die EFF (bekend as die Studentebevel) teen hom standpunt ingeneem het. Dit het gebeur nadat Malema die Studentebevel aangeval het.

Malema het ook te velde getrek teen vrouelede van die EFF wat na sy mening nie hul kant bring nie.

Eweneens het Malema in die openbaar sy mening uitgespreek dat Gardee nie die mas opkom as sekretaris-generaal nie, veral omdat die party se internasionale skakeling volgens Malema benede peil is.

Dit is egter sterk te betwyfel of die teenstand teen Malema enigsins sterk genoeg is om hom hoofbrekens te besorg. Dit sal voorwaar ʼn dapper man of vrou verg om openlik hom- of haarself as kandidaat teen Malema te stel. Gegewe Malema se steun op voetsoolvlak en die wyse waarop sy identiteit en dié van die EFF eksistensieel vervleg is, is dit onwaarskynlik dat hy geklop sal word in ʼn stemmery.

Alle aanduidings is dat die EFF-LP Marshall Dlamini, wat onder meer berugtheid verwerf het nadat hy met die staatsrede vanjaar handgemeen geraak het met ‘n parlementêre sekerheidsbeampte, Malema se keuse is om Gardee te vervang.

Sommige mediaberigte wil dit hê dat Malema ook stry gekry het met Shivambu, maar daar is geen aanduiding dat enigeen as ʼn kandidaat teen Shivambu wil staan nie, wat nog te sê in staat is om hom te klop. Buitendien is daar ʼn meningsverskil by bronne oor berigte of daar wel verwydering tussen Malema en Shivambu is.

Ook Mpofu is onder druk. Hy het reeds te kenne gegee dat hy dalk nie as nasionale voorsitter wil aanbly nie, en bronne naby aan hom beweer hy word ondermyn, onder meer deur takstrukture in KwaZulu-Natal en Mpumalanga.

Benoemings vir die leiersposisies word tans ingewag en sal by die kongres bevestig word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Ja nee! Die dag dat Malema soos Mugabe, Singapoer toe gaan vir mediese behandeling en nie weer terugkom, is die dag dat die EFF vrek. Malema is die EFF, en die EFF is Malema!

Griet

MOOI SO…!! Goed dat daar tweespalt binne die EFF ook is, ons hoop nounet, dit is regtig sooo en lei tot hul skeuring,! Sa het hulle, nie nodig nie

Merrie Perd

Korupsie, Veraad, oneerlikheid, ANC, EFF, Malema’s, Zuma’s, Magshula’s en ander soort-gelyke Comrades, sal NOOIT weggaan nie.
Is dit regtig die beste wat uit die meerderheid bevolking van RSA kan kom? Tot siens SA.

Daan Erasmus

As ek nou kan goeie raad gee, moet niks vir die EFF met hul konferensie op skuld gee nie. Jy gaan nooit jou geld kry nie.

Freddie

Wat van die EFF en sy Mafia bande? Gisteraand diep insig gekry in die Mafia se werking in Suid Afrika na die diamant berig van Namakwaland in Maroela Media. Lyk my die EFF word deur die Mafia ingespan sodat hulle meer geld kan maak uit onteiening sonder vergoeding, korrupsie, geldwassery en smokkelary. Regte SPECTRE van James Bond.