‘Teenstrydighede’ in noedel-ondersoek kom aan die lig

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Miles Burke/Unsplash)

Grandisync CC, die vervaardiger van die kitsnoedels wat nou deur die nasionale verbruikerskommissie ondersoek word, sê hy is nie oortuig dat sy noedels wel drie kinders in die Oos-Kaap se dood veroorsaak het nie.

Boonop het die vervaardiger se prokureurs aan Maroela Media gesê die vervaardiger het dadelik sy eie ondersoek na die kinders se sterftes geloods en op ʼn aantal teenstrydighede afgekom.

Sinothando Ngwendu (11), Olwam Ngwendu (7) en die vier maande oue Athenkosi Ngwendu is dood kort nadat hulle ‘n pakkie noedels geëet het.

Hoewel die vervaardiger erken dat sy noedels wel in die spaza-winkel verkoop word waar die kinders die noedels glo van gekry het, beweer hy dat dit nie sy noedels is wat op die toneel aangetref is nie.

“Ons ondersoek het ook aan die lig gebring dat daar drie verskillende weergawes is van hoe die kinders aanvanklik die noedels in die hande gekry het.

“ʼn Verteenwoordiger van die gesin het gesê dat ʼn ‘vriend’ die noedels aan Sinothando gegee het, terwyl nog ʼn verklaring sê die oorledene het self die noedels by ʼn spaza-winkel gaan koop. ʼn Derde verklaring meld dat ʼn ander meisie na die winkel toe gegaan het, die noedels gekoop, voorberei en vir die drie kinders gegee het,” sê die prokureurs.

Dit blyk boonop dat die pakkie noedels wat die kinders glo siek gemaak het, knaagmerke aan die onderkant gehad het.

Die vervaardiger se prokureurs noem ook dat talle mense wat om dié winkel woon erken het dat hulle op dieselfde dag van die kinders se dood noedels by dieselfde winkel gekoop het, sonder dat dit hoegenaamd enige uitwerking op hulle gehad het.

“Nietemin het Grandisync CC sy produk vir uitgebreide toetse gestuur en die resultate sal aan die publiek bekend gemaak word sodra die toetse afgehandel is.”

Die vervaardiger oorweeg nou regstappe teen die kommissie, omdat hy glo die kommissie Howe-kitsnoedels verkeerdelik as sondebok uitgewys het.

Grandisync CC sê hy het reeds die spesifieke maak aan winkels onttrek.

“As ʼn voorsorgmaatreël is die betrokke besending onttrek, hoewel daar geen bewyse is dat dit ons produk is wat deur die kinders verbruik is nie.

“Die veiligheid van ons verbruikers is ons grootste belang, en as vervaardigers van ʼn produk is dit ons verantwoordelikheid om te verseker dat ons produkte veilig is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

FranWilder ·

vier maande oue kind wat noodles eet. Dit kan nie reg wees nie.

Ny ·

Dink ek nou presies dieselfde….
Dit kan enige 4 maande se dood beteken….

Miskruier ·

Kook dit sag en druk fyn met n vurk. Doodmaklik en dis goedkoop en hoef nie lank te kook nie.

Darts girl ·

Iewers is daar n slang in die gras, want kyk net 3 verskillende weergawes en daar was knaagmerke aan onderkant van die pakkie wat vir die kids gegee is. En dan wil ek graag weet hoe gee jy vir n 4 maande oue baba noodles om te eet??

Tubac ·

As dit ek was en die resultate is negatief, vee ek die vloer met die kommissie. Baie duidelik waaroor die hele saak gaan(KOMPENSASIE).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.