Tegniese probleme by registrasiesentrums opgelos

Suid-Afrikaners kan die naweek registreer vir die verkiesing (Foto: DA KZN, Twitter)

Tegniese probleme wat Saterdagoggend met nuwe kieserbestuurtoestelle by verskeie registrasiesentrums landswyd opgeduik het, is nou opgelos.

Die aanlyn registrasiestelsel was ook vir ’n wyle afgeskakel weens die tegniese probleme. Dié stelsel was omstreeks 12:00 weer herstel.

Suid-Afrikaners kan hierdie naweek by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) registreer vir die munisipale verkiesing wat op 1 November plaasvind.

Registrasie vind Saterdag en Sondag tussen 08:00 en 17:00 by verskeie registrasiesentrums landswyd plaas.

Die verskillende partye moedig burgers aan om te registreer omdat dit die laaste kans is wat mense het om te registreer.

Volgens die DA moet die tegniese probleme wat vanoggend ondervind is mense nie ontmoedig om te registreer nie.

DA-lede by ‘n registrasiesentrum in KwaZulu-Natal (Foto: DA KZN, Twitter)

“Die DA sal aanhou om die OVK aan te spoor om hul tegniese probleme op te los en hul stelsels aan die gang te hou. Die DA is aan alle Suid-Afrikaners se kant om seker te maak dat die OVK doeltreffend funksioneer,” het Siviwe Gwarube, DA‑woordvoerder, gesê.

Duisende DA-ondersteuners, openbare verteenwoordigers, leiers en personeel is by verskillende registrasiesentrums om hul stem te laat hoor.

“Ons doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om nie hierdie geleentheid om te registreer, te verspeel nie. Om verandering te sien na hierdie verkiesing, om ’n regering te kies wat dinge doen, moet u geregistreer wees om te stem,” sê DA-leier John Steenhuisen.

Volgens die politieke party ActionSA, bied hierdie naweek Suid-Afrikaners ’n geleentheid om Suid-Afrika op ’n pad van ekonomiese voorspoed, veiligheid en gedeelde ontwikkeling te plaas deur middel van die herstel van die land se stede.

“Die enigste manier om Suid -Afrika reg te stel, is om elke Suid-Afrikaner voor te berei om die ANC uit te stem! Elke Suid-Afrikaner wat kwalifiseer, moet verseker dat hy geregistreer is om te stem. Die tyd vir praat is lankal verby en dit is nou tyd om op te tree,” het Herman Mashaba, leier van ActionSA, gesê.

‘n EFF-stempunt in die Vrystaat (Foto: EFF Free State, Twitter)


‘n ANC-stempunt (Foto: CoE ANC Cacus, Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willem ·

Ek het geregistreer maar als bly dieselfde!!!!anc skelms!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.