Tegniese probleme veroorsaak chaos by grensposte

‘n Vragmotor by die Lebombo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek. (Foto: Timothy Bernard Hough/ANA)

Weens tegniese probleme by talle grensposte landwyd moet vragmotors en vrag selfs langer as gewoonlik staan terwyl grensbeheerbeamptes die oorgrensverwerking van vragmotors en vragte met die hand moet verwerk.

Luidens ʼn gesamentlike verklaring van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), die polisie, die grensbestuursowerheid (BMA), die Padvragvereniging (RFA) en die Suid-Afrikaanse Vereniging van Vragversendings (SAFV) word die N4-korridor na Maputo deur die Lebombo-grenspos die kwaaiste ontwrig en werk die owerhede onverpoos om die probleme uit te stryk en agterstande in te haal.

“Ons doen ʼn beroep op alle geraakte vervoermaatskappye en vragmotorbestuurders om geduldig te wees en selfbeheersing aan die dag te lê. Moenie op ʼn wyse optree wat die handhawing van die georganiseerde vloei van verkeer deur ons grensposte verder belemmer nie.”

Dit sluit in die verontagsaming van verkeersreëls, die versperring van rybane en die belemmering van ander vragmotors om te ry.

Luidens die verklaring is die handhawing van die ordelike en deurlopende vloei van vragmotors deur die grensposte noodsaaklik om die grensverwerking met die hand te doen terwyl die tegniese probleme uitgestryk word.

“In hierdie verband, en om verdere opeenhopings te vermy, vra ons ​​ook dat vragmotors wat nie ʼn kennisgewing het om na die grens aan te beweeg nie, nie die grens nader of daar stilhou terwyl hulle wag op klaringsdokumente nie.

“Ons doen ʼn beroep op almal om voorafklaring vir vragte te kry.”

Luidens die verklaring doen beamptes hul bes om dokumentasie so gou moontlik met die hand te verwerk sodat vragmotors deur die grens kan beweeg.

“Ons poog om wet en orde te handhaaf op die geraakte roetes, sowel as in grensbeheergebiede.

“Belanghebbendes kan verseker wees dat tegniese spanne heeldag werk om die probleme wat ondervind word op te los.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Moedeloos ·

Ek sal ook bohaai opskop as ek vir ure of selfs dae opgehou word by grensposte. Tyd is nie vir hulle n faktor nie, more is mos nog n dag. Dis brood en botter op mense se tafel wat daai vragmotors vervoer. Hul ry nie vir hul eie plesier nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.