Tegniese span ‘werk onverpoosd’ ná substasie brand

Lerato Setshedi, uitvoerende hoof van City Power, en Nico de Jager, burgemeesterskomiteelid, by die substasie. Foto: Verskaf deur City Power

Die kragtoevoer na verskeie Johannesburgse woonbuurte wat sonder elektrisiteit én water gelaat is nadat ʼn groot brand Maandag by die Eikenhof-substasie ontstaan het, sal na verwagting teen 19:00 vanaand gedeeltelik herstel wees.

Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, het Dinsdagoggend gesê tegnici werk onverpoosd om herstelwerk by die substasie so gou as moontlik af te handel. Hy het verduidelik dat die substasie deur vier transformators gedryf word, waarvan een gebruik word vir die Rand Waterraad en nog een vir residensiële kliënte en sakeondernemings.

“Die transformator wat in die brand verwoes is, is die een wat aan Rand Water toegewys is. Weens die ernstige aard van die brand is die ander transformators egter ook geaffekteer. Een van hulle is gedeeltelik beskadig en die oorhoofse kragkabel het ook in die slag gebly.”

Volgens Mangena is die residensiële transformator wat krag aan Kibler Park verskaf reeds gisteraand getoets en kon een van die kragkabels daarom aangeskakel word en gedeeltelik krag aan die buurt voorsien. “Weens veiligheidsredes en die werk wat vanoggend voortgesit word, moes ons die kragkabel eers weer afskakel om die werk te voltooi,” verduidelik hy.

“Daar is nou ʼn nuwe transformator ingebring en dit word tans aanmekaargesit. Ons behoort net na 12:00 te kan begin om dit te toets en ons beraam dat herstelwerk op die residensiële lyne teen 19:00 vanaand afgehandel sal wees en kragtoevoer gedeeltelik na van die woonbuurte herstel sal word.

Die tegniese span van City Power besig met herstelwerk aan die Eikenhof-substasie. Foto: Verskaf deur City Power

“Omdat die Rand Waterraad se transformator heeltemal verwoes is, sal daar ʼn nuwe transformator opgerig moet word en dit gaan dus ʼn rukkie neem om kragtoevoer op daardie lyn te herstel. Ons verwag dat die werk op daardie lyn teen middernag afgehandel sal word en dan sal ons begin om die lyn te toets voordat die kragtoevoer weer aangeskakel sal word.”

Mangena het bevestig dat die span van City Power so vinnig as moontlik werk om die kragtoevoer te herstel en het by inwoners gepleit om geduld te hê.

Maroela Media het vroeër berig kragtoevoer na Naturena, Kibler Park, Alveda Park, Glenvista, Eikenhof en Loughrin is weens die brand onderbreek. Die Johannesburg-gevangenis is ook deur die kragonderbreking geraak. City Power het ook bevestig dat watertoevoer na sekere dele van Gauteng en Noordwes beïnvloed word aangesien Rand Water ten volle afhanklik is van die substasie vir kragvoorsiening.

Lerato Setshedi, uitvoerende hoof van City Power, en Nico de Jager, burgemeesterskomiteelid, is vandag by die Eikenhof-substasie om ʼn ogie oor die herstelwerk te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stuiwer ·

En steeds word daar nie gesê wat die brand veroorsaak het nie….wonder hoekom?

Neef ·

Mense die infra struktuur in die land was vir 20 jaar nie ge maintain of op gebou nie , daar is net aan gelas nou is hy besig om in te gee .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.