Tegnologie stuit stropers in hul spore

Argieffoto Foto: wwf.panda.org

Ses vermeende stropers is sedert die begin van vandeesmaand in die Kruger Nasionale Park vasgetrek deur middel van tegnologiese vorderings.

Isaac Phaahla, woordvoerder van die wildtuin, sê in ’n verklaring die stropers is gedurende drie afsonderlike operasies oor die afgelope paar weke in die park aangekeer. Die meeste van dié stropers is hegtenis geneem voordat hulle enige dier in die park leed kon aandoen.

Phaahla skryf die inhegtenisnemings toe aan onder meer toegepaste hoëtegnologie-opsporingstoestelle.

Danksy dié tegnologie is geen olifante ook vandeesmaand gestroop nie, ondanks 55 gevalle van stroperaktiwiteit wat aangemeld is.

Fundisile Mketeni, hoof- uitvoerende beampte van SANParke, sê tegnologie stel beslis die park in staat om die euwel van stroping in ’n mate te bekamp.

“Ons is nog steeds myle daarvan weg om stroping ten volle te stuit, maar daar is lig aan die einde van die tonnel. Ons belegging in tegnologie en invordering van intelligensie beteken die risiko vir stropers het toegeneem. Hulle weet as ons hul spoor kry, sal hulle hul vryheid verloor,” sê Mketeni.

Volgens Mketeni werk die park se veldwagters en honde-en-lugvleuel-eenheid onverpoos om die bedreiging van stropingsindikate meer doeltreffend te bekamp.

Al ses verdagtes is tans by die Skukuza-polisiestasie in aanhouding en sal binnekort in ’n hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kandas ·

Dis wonderlike nuus! Nou moet hulle net asb ordentlik gestraf word, anders gaan hulle eenvoudig maar net na ander wildreservate toe wat nie sulke gesofistikeerde opsporings toerusting het nie en gaan stroop die renosters daar. Wens alle dier stropers van watter aard ook al kon na Mars verban word……

PJ ·

As die stropers skuldig bevind word sal agbare Justisie minister lamola seker aansoek doen vir presidensièle kwytskelding soos met die “fees must fall” mannetjie

Giela ·

Fantastiese positiewe nuus vir ‘n slag. Hoop net nie die tegnologie wat gebruik word, word in die openbaar bekend gemaak nie anders gaan hierdie nuutgevonde sukses resep van korte duur wees sou die krimineel ‘n teenfoeter bewerkstellig.

Penellope Jones ·

Sjoe, dis goed om iets positiefs te lees – sterkte vir die pogings wat aangewend word om hierdie stropers te stuit!

Lynette ·

Dis nou goeie nuus. Ek sou net se los hulle net daar, die diere sal met hulle afreken.

Leon ·

Sê al lankal vir hulle om te begin tegnologie gebruik, maar nne, ons weet wat ons doen.

aj ·

Wys ons asb die gesigte van die stropers … ons ken hulle dalk?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.