Tegnologiereuse se pandemie-beker loop oor

(Foto: iStock)

Ofskoon die koronaviruspandemie se bitter beker beswaarlik by ’n enkele sakeonderneming op die planeet verbygegaan het, glimlag die wêreld se tegnologiereuse, maskers en al, nou breër as ooit.

Benewens die feit dat oud en jonk reeds langer as ’n jaar toenemend op tegnologie se knoppie druk vir alles van virtuele vergaderings tot kuberklaskamers, verkoop aanlyn advertensies soos soetkoek (én saniteerder).

Facebook, wat byna al sy geld uit advertensies verdien, het die afgelope week ’n omset van $29,1 miljard vir die drie maande tot 30 Junie vanjaar bekendgemaak. Dit is ’n 56%-sprong teenoor dieselfde tydperk verlede jaar toe Covid-19 die wêreld se wind uitgemoker het. Sy kwartaallikse wins het meer as verdubbel tot byna $10,4 miljard.

Dié sosialemediagroep, met sy meer as 2,9 miljard aktiewe maandelikse gebruikers (7% meer as dié tyd verlede jaar), het egter gewaarsku dat die volgende paar maande allermins net likes en laggesiggies gaan wees.

Een van die derdekwartaalklippe op sy pad is ’n Apple-sagteware-opdatering ingevolge waarvan gebruikers uitdruklik vir apps toestemming moet gee om hul gedrag onder ’n vergrootglas te plaas en hul persoonlike inligting soos ouderdom, ligging, bestedingsgewoontes en gesondheidsinligting aan adverteerders te verkoop.

Intussen lag Apple self al die pad bank toe nadat iPhone-verkope op ’n jaargrondslag met 50% gestyg het tot $39,6 miljard. Dit is noemenswaardig omdat daar in dié tyd van die jaar gewoonlik ’n sluimering in verkoopsyfers is. Apple het boonop te kampe gehad met ’n wêreldwye tekort aan rekenaarskyfies.

Tesla, met sy Suid-Afrikaans gebore baas Elon Musk, het gedurende die tweede kwartaal ’n rekordwins van $1,1 miljard behaal. (Foto: iStock)

Google se houermaatskappy, Alphabet, het ’n omset van $61,9 miljard vir die kwartaal tot einde 30 Junie bekendgemaak – ’n verbysterende toename van 62% teenoor dieselfde tydperk verlede jaar. Die maatskappy se wins het meer as verdubbel tot $18,5 miljard.

Google word aangevuur deur die groot vraag na aanlyn advertensies aangesien verbruikers steeds meer tyd op hul slimfone en skootrekenaars bestee. Sy kernadvertensiesake het ’n omset van $50,4 miljard behaal, wat ’n toename van 69% verteenwoordig. Sy videoplatform, YouTube, se advertensie-inkomste het met ’n enorme 84% gestyg tot $7 miljard.

Microsoft het op sy beurt sy inkomste vir die tweede kwartaal vanjaar met 21% tot $46,2 miljard opgestoot. Sy bedryfsinkomste was $19,1 miljard, wat ’n styging van 42% verteenwoordig.

Google, Amazon, Apple, Microsoft en Facebook se gesamentlike markwaarde verteenwoordig tans meer as ’n derde van die hele S&P 500-indeks van die VSA se 500 grootste maatskappye. Volgens Forbes is daar boonop nou 365 miljardêrs wat hul rykdom uit tegnologie verdien het, vergeleke met 241 voor die pandemie.

Takealot, Suid-Afrika se grootste aanlyn kleinhandelaar en deel van die Naspers-groep, se inkomste het in die boekjaar tot einde Maart met 55% tot $606 miljoen toegeneem en dié winkel op wiele staan na berig word op die drumpel van winsgewendheid.

Tesla, met sy Suid-Afrikaans gebore baas Elon Musk, het gedurende die tweede kwartaal ’n rekordwins van $1,1 miljard behaal nadat hy in dié tyd meer as 200 000 motors vervaardig en afgelewer het. Dit is meer as dubbel die $438 miljoen-wins wat dié elektriesemotorreus in die eerste kwartaal vanjaar getoon het, en meer as tien keer die netto inkomste wat hy ’n jaar gelede op sy boeke gehad het. Tesla se markwaarde word op bykans $634 miljard gereken.

Takealot, Suid-Afrika se grootste aanlyn kleinhandelaar, het in die boekjaar tot einde Maart met 55% tot $606 miljoen toegeneem. (Foto: Verskaf)

Bykomende bronne: www.microsoft.com; techcrunch.com; www.theguardian.com en www.cnn.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JM ·

Dit maak ‘n mens naar om van al hierdie instansies se rykdomme te lees, as in gedagte gehou word hoeveel hongersnood daar wêreldwyd heers. Ongelykheid wêreldwyd is skrikwekkend.

FranWilder ·

Is dit regtig nodig om elke keer as Musk genoem word te sy hy is in SA gebore? Hy het lankal van SA vergeet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.