Tehuis vir skisofrenielyers moet deure dalk sluit

geestesgesondheid

Foto: About.itriagehealth.com

Toe Louise Zietsman se seun sowat 14 jaar gelede met skisofrenie gediagnoseer is, het sy haarself begin voorberei om haar werk as finansiële adviseur te laat vaar en sowat agt jaar gelede het sy uiteindelik ʼn tehuis vir skisofrenielyers op die been gebring.

Huis Elpidos is ʼn niewinsgewende organisasie wat oor drie verskillende eiendomme in Johannesburg beskik en huisves tans altesaam 17 skisofrenielyers.

Zietsman verduidelik dat die eiendomme, twee in Blairgowrie en een in Craighallpark, nie in haar besit is nie en dat sy dit huur.

“Volgens die departement van gesondheid was die een huis vroeër vanjaar nie op standaard nie. Ons het toe die inwoners daar laat uittrek en die eienaar is besig om die eiendom te laat opgradeer. Die inwoners trek weer middel Desember terug soontoe,” vertel Zietsman.

ʼn Tweede perseel is ook in gedrang nadat die departement van gesondheid gedreig het om nie dié huis se lisensie te hernu nie, aangesien die elektriese bedrading van die huis oorgedoen moet word. “Ná die Life Esidimeni-krisis is die departement baie strenger oor die lisensies en moet ons nou R60 000 opdok om ʼn elektriese sertifikaat van voldoening te kry. Ons moet ook onder meer aan die waterpype laat werk en brandblussers kry. Eers dan sal die lisensie hernu kan word,” verduidelik sy.

Die Life Esidimeni-skandaal het in 2016 opslae gemaak toe die dood van minstens 143 pasiënte by psigiatriese fasiliteite in Gauteng aan die lig gekom het. Dié pasiënte het onder meer aan hongersnood en verwaarlosing gesterf nadat hulle van Life Esidimeni-fasiliteite na ongelisensieerde instansies oorgeplaas is.

Zietsman vertel die pasiënte wat by Huis Elpidos woon is almal werkloos en die meerderheid van hulle betaal nie om daar te woon nie. “Een van my inwoners se pa is ʼn rukkie terug oorlede. Hy het altyd haar kostes gedek en sedert sy dood, bly sy gratis hier.”

Sy voeg by die oorhoofse koste van die tehuis maak dit vir haar bykans onmoontlik om die mas met die huurgeld op te kom. “Omdat die lisensies nie hernu word totdat die probleme met die huis nie uitgestryk is nie, ontvang ek ook geen subsidie van die staat nie.”

Zietsman vertel sy moet maandeliks die huur betaal asook sorg dat die personeel, wat uit ʼn gekwalifiseerde suster en skoonmakers vir die huise bestaan, betaal word. “Die inwoners kry ook drie maaltye per dag en hulle wasgoed word gewas.”

Sy verduidelik dat ʼn gekwalifiseerde suster uiters noodsaaklik is om die tehuis se take doeltreffend te kan verrig. “Die suster lê saam met my en die pasiënte besoeke af aan die dokters by die psigiatriese kliniek in Randburg, asook by die Helen Joseph- psigiatriese kliniek.

“Ons hanteer ook die pasiënte se medikasie self en een maal per week word dit gepak onder die suster se toesig. Dit is uiters belangrik dat dit onder haar toesig gedoen word aangesien daar geen foute mag insluip nie. Ons is ook altyd teenwoordig wanneer die pasiënte se medikasie toegedien word. Die pasiënte is lewenslank afhanklik van die medikasie.”

Een van die kenmerkendste tekens van skisofrenie is ʼn gebrek aan persoonlike higiëne. “Skisofrenielyers doen dikwels nie moeite om te bad en skoon aan te trek of tande te borsel nie, daarom lewer die suster ook weekliks praatjies oor onderwerpe soos persoonlike higiëne. Daar kom ook drie oggende per week ʼn leerlingsielkundige die inwoners besoek. Ons bied ook kunsklasse aan waar die pasiënte kan sit en kreatief wees met inkleurboeke of hulle kan knip en plak.”

Sy vertel elke huis het ook diere. “Ek glo aan diereterapie. Ons probeer dit regtig so huislik as moontlik vir die inwoners maak. Ek woon ook saam met hulle in die huis en ons woon saam soos ʼn huisgesin.”

Zietsman vertel dit was vir haar ʼn “ongelooflike slag” toe haar seun destyds met dié siekte gediagnoseer is. “Sy probleme het reeds in gr. 11 begin. Hy is vier jaar later, as tweedejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria, gediagnoseer met skisofrenie. Daar was ʼn lang tydperk waartydens ons nie geweet het presies wat hom makeer nie.”

Sy vertel skisofrenielyers moet ʼn spesifieke soort behandeling ontvang. “Familie verstaan nie altyd die siekte nie. Mense glo nie dat ʼn lyer nie kán werk nie en dink dat hy lui is en nie wil werk nie. Skisofrene het nie motivering om take aan te pak nie en kan nie regtig take voltooi nie. Hy [haar seun] was nog besig om te studeer toe hy gediagnoseer is en het dus nie sy graad voltooi nie. Watter soort werk sal hy kan doen?”

Nadat haar jongste dogter haar skoolloopbaan voltooi het, het Zietsman Huis Elpidos geopen. “Dit het klein begin en soos wat mense na my toe verwys is, het dit gegroei.”

Intussen het Zietsman die slegte nuus ontvang dat sy een van die persele sal moet prysgee omdat sy nie meer die huurgeld kan betaal nie. “Ek is raadop en het die publiek se hulp nodig om in te gryp, anders gaan ek my deure moet sluit en die pasiënte sal ʼn ander heenkome moet vind,” vertel sy hartseer.

Wat is skisofrenie?

Zietsman verduidelik skisofrenie is ʼn generatiewe chemiese wanbalans in die brein en hoewel dit behandelbaar is, is dit ongeneeslik. “Dit beïnvloed die wyse waarop die pasiënt dink en die wêreld sien en beleef. Mense wat aan skisofrenie ly het ʼn verwronge beeld van die werklikheid en hulle sien en hoor byvoorbeeld dinge wat nie bestaan nie. Hulle glo dat ander mense hulle gedagtes kan lees, hulle gedagtes kan beheer en saamspan om hulle leed aan te doen. In die geval van die paranoïese skisofrenielyer glo hulle tydens ʼn psigotiese episode dat die staat hulle vervolg of dat die Illuminati hulle dophou en dit veroorsaak uiteraard geweldig spanning.”

Wat veroorsaak skisofrenie?

“ʼn Mens word met dié afwykende geen gebore, maar dit word dan deur ʼn stressor geaktiveer. Dit word gewoonlik gedurende puberteit gediagnoseer en die bekendste stressors is genetiese oorerflikheid, stres en alkohol- en dwelmmisbruik,” verduidelik Zietsman.

Vroeë waarskuwingstekens van skisofrenie

  • sosiale onttrekking
  • agterdogtigheid
  • agteruitgang van persoonlike higiëne
  • plat, uitdrukkinglose gesigsuitdrukking
  • onvanpaste gelag of gehuil
  • onvermoë om te huil of blydskap te toon
  • depressie
  • slapeloosheid of te veel slaap
  • onvanpaste of irrasionele aanmerkings
  • vergeetagtigheid en onvermoë om te konsentreer
  • oordrewe reaksie op kritiek
  • verwarde manier van praat of die gebruik van vreemde woorde

Hoe word skisofrenie behandel?

Skisofrenielyers word behandel deur die daaglikse en lewenslange gebruik van anti-psigotiese medikasie. “Die medikasie het geweldige newe-effekte,” sê Zietsman.

Gesinsterapie word ook toegepas en die fokus word geplaas op die ondersteuning van die gesin om die siekte te verstaan en daarmee saam te leef. Individuele terapie word ook gegee om die pasiënt te leer hoe om sy of haar hoë stresvlakke te hanteer. “Hulle word ook geleer hoe om tekens van terugval vroegtydig te identifiseer en daaraan aandag te gee.”

Pasiënte kry ook opleiding in sosiale vaardighede. “Die verbetering van sosiale interaksie asook die opskerp van sosiale vaardighede verrig wondere vir die skisofrenielyer.”

Daar word ook hierdeur gepoog om die skisofrenielyer weer in die arbeidsmark terug te plaas, sê Zietsman. “Skisofrenie is ʼn baie duur siektetoestand, aangesien die meerderheid van die lyers nie kan werk nie. Baie van hulle is finansieel afhanklik van familie en die samelewing vir versorging. Die trane vloei elke keer as ek dink aan my kind en die ander inwoners wat so swaar kry as gevolg van die siekte.”

Enigiemand wat Huis Elpidos finansieel wil ondersteun kan ʼn e-pos stuur na Louise Zietsman by [email protected] of sy kan gebel word by 082 335 6272.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gesiggie ·

My hart gaan uit na jou Mev… jy het jou hart oopgemaak vir die mense wat hulp nodig het.. kan die staat nie ingruip? hul spandeer soveel geld aan onnodigge goed, hoekom nie die mens help wat regtig hulp benodig. Ek hoop van harte dat daar n Engel daar buite is wat jul sal help, sodat al die mense n plek het om te bly en die nodigste sorg ontvang. Sterkte en mag als goed gaan, die werk wat jul doen word raak gesien.

Tania ·

Dit is regtig ‘n verskriklike siekte. Geen person wat nog nie daarmee te doen gehad kan regtig besef hoe erg dit is nie. My ma het dit en sy het vas geglo mense skiet haar met mikrogolwe deur die vensters en sy het gebreekte stukkies spieel voor die vensters gesit. Sy het ook baie agresief geword en my en een van my niggies probeer verwurg, gelukkig is sy klein en nie baie sterk nie. En dis van die minder mal goed wat sy aangevang het. My een tante het ook dit gehad en haar en haar kind in die huis toegesluit en die gordyne probeer aan die brand steek om van die “stemme in die gordyne” ontslae te raak. Hierdie mense het baie hulp nodig en kan nie werk nie. Ons kinders kyk self na my ma en ek weet hoe baie moeilik dit is, jy moet altyd dubbel seker maak hulle drink hulle pille etc. Ek hoop regtig iemand help hierdie tehuis en miskien ‘n crowd-funding of sms donasie opstel?

Pop ·

Hierdie land maak my siek. ?groot bek oor witte iets doen. Maar hulle doen niks. 20 mense nog vermis. Kom mense, stuur geld dat die vrou haar goeie werk kan voortsit. As elke witvel net R10 gee is sy bo uit. Dankie tog vir mense soos mev zietzman. Jys n ystervrou. Ek stuur nou donasie!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.