Tekens van goue mol 87 jaar later gevind

Die De Winton- goue mol. (Foto: AFP)

Tekens van die sogenaamde goue mol is ná 87 jaar eindelik weer in Suid-Afrika aangeteken nadat baie kenners gevrees het dat dié diertjies heeltemal uitgesterf het.

Die laaste wetenskaplike waarneming van dié molspesie was in 1936.

Tekens van twee De Winton- goue molle is egter onlangs onder die sand op ʼn Suid-Afrikaanse strand gevind, het Esther Matthew, senior veldbeampte van die bedreigde natuurlewe-trust (EWT), Dinsdag gesê.

Die ontdekking volg nadat navorsers van die EWT en die Universiteit van Pretoria en ʼn Border Collie-snuffelhond genaamd Jessie maande lank soveel as 18 km se duinhabitat per dag gefynkam het op soek na tekens van die De Winton- goue mol se bestaan.

Die navorsers het egter nog nie die molle met ʼn oog gesien nie.

Dié blinde molle is buitensporig bedees. Hulle kies ontoeganklike areas om vir hul skuilplekke te grawe en het uiters sensitiewe gehoor om grondvibrasies waar te neem.

Die De Winton- goue mol. (Foto: AFP)

Daar is 21 spesies goue molle. Die De Winton- molle is opgespoor met behulp van omgewings-DNS-monsters soos vel, hare en uitskeidings wat in die sand op ʼn strand by Port Nolloth aan die noordwestelike kus gevind is.

Meer as 100 monsters is van die duine versamel.

De Winton se goue mol was een van die 25 diere op ʼn lys van verdwene spesies wat in 2017 deur die Re:wild- nie-regeringsgroep opgestel is.

Elf van die spesies is sedertdien weer waargeneem.

Christina Biggs, ʼn verlore spesie- spesialis vir Re:wild, het die span geloof vir hul volharding in die soeke na die goue mol.

“Hulle het geen sandduin onaangeroer gelaat nie en nou is dit moontlik om die gebiede waar hierdie bedreigde en skaars molle leef te beskerm,” het Biggs gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.