Tekort aan rekenaars, internet belemmer skoolwerk by kinderhuis

Ter illustrasie (Foto: Waterford.org)

Die Abraham Kriel Kinderhuis (AKK Nylstroom) op Modimolle spook tans om in die akademiese behoeftes van ongeveer 170 kinders te voorsien.

Leerders keer stelselmatig terug skool toe, maar die kurrikulum en tuisaktiwiteite word steeds op aanlyn platforms aangebied.

“Ons is die afgelope paar weke deur talle uitdagings en struikelblokke in die gesig gestaar,” sê Gerda van der Merwe, uitvoerende bestuurder van die AKK Nylstroom. “Dit is nie ʼn eenvoudige taak om soveel kinders uit verskillende skole se werk te koördineer nie.”

Van der Merwe vertel dat sommige skole glad nie materiaal voorsien het nie, terwyl ander skole wel oefeninge gestuur het in ʼn poging om leerders te stimuleer. Van der Merwe en haar span by die kinderhuis het self ingespring om addisionele oefeninge vir die kinders uit te werk. Sy sê dat die onsekerheid oor skoolwerk, ʼn gebrek aan gehalte materiaal en ander tegnologiese uitdagings veroorsaak dat leerders agter raak met vanjaar se kurrikulum.

“Daar is van die kinders verwag om opdragte en toetse aanlyn te voltooi en dit vir onderwysers te terug te stuur. Ons huise is nie met internet toegerus nie en daarom kon talle kinders se skoolwerk nie op die voorgeskrewe manier voltooi word nie”, sê Van der Merwe.

Die ontvangsdame se kantoor is menigmaal as toetssentrum gebruik, omdat daar nie genoegsame rekenaarfasiliteite by die kinderhuis is om in almal se behoefte te voorsien nie.

Hoewel die kinderhuis oor ’n rekenaarsentrum beskik, kan die vyf beskikbare rekenaars nie meer die jongste sagteware hanteer nie. Dit bemoeilik die toegang tot inligting en die gebruik van rekenaars.

Huisouers wat wel oor rekenaars beskik se sagteware is ook nie toegerus om kinders te kan help nie. Gr. 10 tot 12 leerders wat rekenaartoepassingstegnologie as vak het, benodig Windows 10 om hulle werk te kan doen. Die kinderhuis beskik nog nie oor Windows 10 nie.

Daar was ook ʼn beduidende toename in werkopdragte wat gefotostateer moes word. Dit het ’n dramatiese styging in die gebruik van papier en drukkersink meegebring waarvoor daar nie begroot is nie.

“Sommige leerlinge het ook opdragte op hul selfone ontvang, maar nie al ons kinders beskik oor sulke toestelle of voldoende data om die inligting te ontvang nie. Dié wat wel selfone het, se toestelle is nie toegerus om die werksopdragte oop te maak nie.

“Indien ons fasiliteite wel toeganklik en voldoende was, sou hierdie probleme nie bestaan het nie. Ons streef daarna om ons rekenaarsentrum van geskikte toerusting te voorsien sodat genoemde probleme getakel en opgelos kan word,” sê Van der Merwe.

Probleme wat hiermee verband hou sal slegs opgelos kan word deur genoegsame rekenaars waarop die jongste sagteware geïnstalleer is en deur vir elke kinderhuis internettoegang te installeer.

Die kinderhuis doen ʼn beroep op die publiek om rekenaars te skenk of ʼn finansiële bydrae te lewer wat ʼn kind sal help met sy of haar akademiese ontwikkeling. Besoek die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Het al gehulp en sal weer hulp, maar wat wil die kinderhuis he? Wil hulle hulp he met klere, verblyf en kos, of soos nou vir rekenaars. Rekenaars tensy dit geskenk is is baie duur, maar klere, verblyf en kos kan ‘n klein donasie ver gaan.

Francois Le Cochon

Die AKK het R30 miljoen van oom At van der Merwe geerf, nadat hy op sy plaas vermoor was in 2012. Hulle kan sekerlik van hierdie geld gebruik om die rekenaars op te gradeer en fotostaat papier te koop.

Anel

Onthou, hulle kry GEEN bystand van die regering nie.

Pierre

Jy kan met Windows 7 verniet “upgrade” na Win10. Ek het al vele gedoen. Gebruik omtrent 3.7Gig se data. Dis natuurlik as jou Win7 wettig is. Doen dit nogsteeds vir my kliente.

Elmarie

REGSTELLING; Mnr Le Cochon – Abraham Kriel Kinderhuis Modimolle (NYLSTROOM) het nog nooit enige erflatings van miljoene van ene ooms of tantes ontvang nie. Maak asb seker van feite voor nonsens geskryf word. Eerstens is daar DRIE Abrahma Kriel Kinderhuis wat aldrie outonoom van mekaar bedryf word. Daar is in een in Potchefstroom (wat wel miljoene as erflating gekry het – hoeveel dit was weet ek nie en bespiegel nie oor sulke goed nie) , een in Langlaagte in Johannesburg en dan die een in Modimolle waaroor hierdie berig gaan. In plaas van om negatiewe of kritiese kommentaar te lewer… Lees meer »