Tekort aan slangteengif ‘gʼn krisis’, sê laboratoriumdiens

Argieffoto (Foto: Lowveld Venom Suppliers/Facebook)

Na afloop van berigte oor ’n ramp wat dreig weens die tekort aan polivalente slangteengif, sê die nasionale gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) nou daar is geen rede tot paniek nie. “Inteendeel, produksie is sedert Desember verlede jaar verhoog,” het dié diens Woensdag in ʼn verklaring gesê.

Volgens die NHLS het hy as sodanig tussen 1 Desember verlede jaar en 31 Maart vanjaar altesaam 1 422 dosisse teengif oor die land heen versprei en het steeds dosisse wat tans in die produksiefase is. ’n Totaal van 1 077 teengifdosisse is van Maandag af versprei en ’n beperkte aantal dosisse word ook vir noodgevalle gehou.

Die NHLS erken wel dat beurtkrag ʼn invloed op die vervaardigingsproses van die teengif het, maar meen Suid-Afrikaners moet ondanks dié uitdagings nie paniekerig raak nie.

’n Groep van 27 kundiges op die gebied van slangbytbehandeling het Woensdag ʼn ope brief aan dr. Joe Phaahla, die minister van gesondheid, gerig om te pleit vir ingryping in die kragprobleem om te keer dat die tekort aan teengif op ʼn ramp afstuur.

Soos vroeër berig is konsekwente en betroubare kragtoevoer nodig om teengif te vervaardig en die voortdurende oorskakeling na kragopwekkers tydens kragonderbrekings, vertraag die vervaardigingsproses.

Die laboratoriumdiens sê sy belegging in rugsteunkragstelsels en hernubare energiebronne sal hom in staat sal stel om aan die energiebehoeftes van die vervaardigingsproses te voldoen.

“Die agterstand met die verskaffing van teengif – wat wel daar is weens die vertraging in die vervaardigingsproses – behoort binne ’n maand aansienlik verminder te word. Ons hoop dat die produksiekoers ná twee maande weer normaal sal wees,” het die NHLS Woensdagmiddag gesê.

“Ons bestuur, monitor en werk ook aktief aan noodmaatreëls, asook aan die ontwikkeling van oplossings om huidige knelpunte wat deur energie-onderbrekings veroorsaak word, te oorkom.”

Teengif word in Johannesburg deur die Suid-Afrikaanse Entstofprodusente (SAVP) vervaardig, wat ’n filiaal van die NHLS is.

ʼn Moontlike krisis dreig egter al amper ʼn jaar lank, met veeartse wat waarsku dat veral troeteldiere weens ʼn tekort aan teengif kan sterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

otter ·

ag maar natuurlik is dit nie n krisis nie. Die feit dat hulle se dit is skaars justify die groot markup wat hulle daarop sit. hulle verskoning is die loadshedding wat bog is.

Juanita ·

Ag asb, hoekom moet alles onder die matjie gevee word. Die 1ste wat ek vanoggend op ‘n sosiale platform gesien het was ‘n worshondjie wat deur ‘n pofadder gepik is. Die hondjie is by die veearts maar agv te kort aan teengif is die hondjie nou aan genade oorgelaat. Dit is kommerwekkend.

Johann ·

En só lieg die onbevoegdes hulself uit elke hoek in ‘n sirkel. Niks is ooit ‘n krises vanuit “the people” se perspektief.

JohanEtz ·

Soos gewoonlik, lieg die owerhede weer deur hul tande. Alles loop mos reg in die pragtige SA.

Delia ·

Wie lieg vir wie. Hulle vir ons of die bestuurders vir die mediapersoon van NHLS

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.