Tekort aan verpleegpersoneel vereis ‘dringende ingryping’

Foto: pixabay.com

Een verpleegster vir elke 403 mense. Die Solidariteit Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns sê uit dié statistiek is dit duidelik dat verpleegkunde as beroep in Suid-Afrika in gevaar is. “Die impak daarvan op goeie gesondheidsorg vir miljoene Suid-Afrikaners is byna ondenkbaar,” het Hennie Bierman, hoof van die Solidariteit Beroepsgildes gesê.

Bierman het gesê die lewering van gekwalifiseerde verpleegkundiges in al die verpleegkategorieë het sedert 2013 met byna 40% gekrimp. “Daar het sedert 2013 jaarliks ongeveer 8 535 minder verpleegkundiges tot die werksmag toegetree. Die privaat sektor trek ook swaar.”

Bierman het gesê ʼn swaar werkslading, lang ure, uitdagende werksomstandighede, ʼn gebrek aan ondersteuning en ʼn tekort aan finansies en toerusting dra by tot die tekorte. Volgens hom gaan die nuwe riglyne van die departement van staatsdiens en administrasie met betrekking tot vroeë aftrede nog groter probleme veroorsaak.

“Tans is daar meer verpleegpersoneel wat bedank of aftree as studente wat opgelei kan word om die werksmag te betree. Altesame 14 043 van die huidige verpleegkundiges kwalifiseer nou ingevolge die departement se nuwe beleid vir vroeë aftrede,” het Bierman gesê.

Hy het gesê dié verpleegkundiges het jare se ervaring en moet as mentors en meesters in die beroep vir ʼn jonger geslag optree. “Hulle moet eintlik minstens vyf na tien jaar nog in die bedryf staan en die beroep se hande sterk. Verpleegkundiges vorm die basis van die gesondheidsorgstelsel.”

Bierman het gesê deeglike beplanning en voorbereiding sal gedoen moet word om die druk en spanning op huidige verpleegpersoneel te verlig en die beroep tot wêreldstandaard te ontwikkel. Daar is in die laaste drie jaar geen nuwe private instelling geakkrediteer om verpleegkundiges op te lei nie en in sekere kategorieë het die akkreditasie by bestaande instellings verval.

“Die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV) het ook ʼn duidelike afname in afgestudeerde studente bevestig. In 2016 was die afgestudeerde studente 21 571 teenoor 13 036 in 2017. Dis ʼn afname van meer as 8 000 in een jaar,” het Bierman gesê.

Die gilde wil saam met die departement van gesondheid, die SARV en ander betrokkenes werk om volhoubare oplossings te vind, het hy gesê. Hy is ook besig om ʼn plan saam te stel met werkbare voorstelle om die tekort te verminder.

Die departement van gesondheid het onderneem om later kommentaar te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Robert ·

Betaal hul beter en toon meer respek (dokters en pasiënte) en daar sal nie probleme wees om tekort aan te vul nie. Nog ‘n probleem…Privaat hospitale jaag wins en stel minimum personeel aan, òf kry buitelanders op ‘n tydelike basis, want dan hoef hul nie pensioen en ander voordele te betaal nie.

Hennie ·

My Dogter was vas van plan om BCur hierdie jaar te gaan studeer na die voltooing van haar Matriek. Ongelukkig is sy wreed ontnugter deur die behandeling wat sy van die swart verpleegsusters ontvang het toe sy skadu-verpleeg het gedurende die skoolvakansie. Sy het dus besluit om eers die jaar in Europa te Au Pair, maar ek is bevrees sy’s verlore vir die verpleeg-beroep.

jennefer ·

Kan saamstem hieroor. Lekker manier om die vuil werk af te skuif op studente.

marous ·

Daar kan vir elke inwoner twee verpleegsters aangestel word maar dit sal niks help nie . As die hospitale disfunksioneel bly soos wat dit is , kan jy net sowel ‘n duikpak aan ‘n man wat in die Kalahari met ‘n boog jag , probeer verkoop .

John ·

Sekerlik is die meegaande foto nie in een van SA se staatshospitale geneem nie.

John ·

Daar gaan binnekort ingegryp word wanneer die nuwe mediese stelsel in werking gestel word… Ingryp in dit wat werk, nie daar waar chaos heers nie. Dit is die enigste manier wat die ANC aan kan dink om sake reg te stel… nog chaos skep.

Hanna Hoekom ·

Hier is baie Suid-Afrikaanse verpleegsters in die Midde Ooste wat moontlik nooit weer in Suid-Afrika sal werk nie. Ek is een van hulle. Meeste van ons is gespesialiseerd. Patetiese salarisse en blatante diskriminasie in die werksplek maak dit maklik om groener weivelde te gaan opsoek. Nou is die VSA baie van ons se volgende stap.

Charms ·

Na 8jr in die Midde Ooste het ek 3jr by die huis in S. A gewerk. Poste in die staat was gevries en ek het privaat ingeval. Met gastritis en stress is ek daar weg. Nou n jaar later terug in die Midde Ooste en geniet die werk met als wat daarmee gepaard gaan. Ek voel vir my kollega, want die staat sal nooit agter hulle kyk nie.

Slappe ·

Twaalf uur skofte en grondboontjie vergoeding…
My dogter het in Januarie na VAE emigreer. Sy betaal geen belasting ni, kleinseun se skoolgeld word betaal, vol behuisingtoelaag ens beteken n 4x verbetering in inkomste!

bollie ·

‘n Beroep waar jy nie hoef te worry dat jy gaan werk kry nie. Definitief maklik elders te wereld as dan nie in SA nie. My neef werk al vir omtrent 6 jaar op hierdie groot passasierskepe. Maak geld soos bossies en sien die wereld.

Billy. ·

Ons seun en sy vrou, wie ‘n verpleegster is, het sestien jaar gelede ge-emigreer na die VSA as gevolg van ‘BEE’ . Haar werks omstandighede is puik en sy verdien ‘n uitstekende salaris. Hulle is nou burgers van die VSA en beplan om nóóit weer terug te keer na SA nie. Hul kinders is in goeie staats skole en hul lewenswyse is Eerste Wêrelds: Alles werk!!

Gert van Wierdapark ·

Dis verblydend om te lees dat die Dept van Gesondheid later kommentaar sal lewer. Dis te verstane want as jy nie n weet wat die huidige stand van sake is nie, sal dit tans net kommin-taar wees. “Later” maak seker deel uit van die langtermyn-beplanning uit, so moenie asem ophou om dit voor ver-kiesings-dag te kry nie!

fred ·

ek was gister by die kliniek vir my 2 maandelikse check-up…ek hoor daar was 3 verpleegsters te kort..wie daar was doen n uitstekende job….hulle werk in moeilike omstandighede…

Ruan ·

Gekwalifiseerde mense emigreer op strepe want hulle het die skrif teen die muur reg gelees. Ons gesin is ook op pad.

Helene Heyns ·

Sommige van hulle…..meesal in staatshospitale is nie eers die naam van verpleegster werd nie. Lui, onverantwoordelik en onbeskof. Diegene wat werklik geroepe is om te dien, dra n dubbel las vir n minimum salaris.

Vryhand ·

Lang ure…min betaling..dis hoekom ek verpleeging gelos het..en vroer jare was daar span poging..saam hard gewerk…vandag kyk hulle wie die minste kan doen in hul werk

Loraine ·

Is kommerwekkend om te sien hoe dit deesdae in nie net staatshospitale gaan nie maar so ook in privaat hospitale. Diens is uiters swak. Daar geen meer goed opgeleide verpleegsters soos in ons dae wat hulle opleiding in verpleeg kolleges of universiteite gekry het nie. Kom nou sommer van straat en word in hospitale geplaas met bietjie opleiding party kan nie eers lees of skryf nie. Al ons goed opgeleide verpleegsters is oorsee neem hulle ook nie kwalik nie want hulle word na gekyk gewardeer en baie goed betaal vir lang ure wat hulle moet werk. Mis ons goeie opgeleide hardwerkende verpleegsters wat mens gladnie meer sien nie. Verpleegsters wat hulle werk goed en vinnig met deernis en simpatie gedoen het en veilig in hulle hande gevoel het. En in n span saamgewerk het. Verpleging is nie sommer net n werk nie jy moet lief wees
Vir wat jy doen en met mense kan werk. ek voel goeie verpleegsters moet baie meer betaal word want is n verantwoordelike harde en ondankbare werk.

Cornè ·

Wat van werklose Paramedics en gekwalifiseerde Noodhelpers om mee te begin en hul verdere indiensopleiding te bied?

Susna ·

Australia spog nie verniet dat hulle met die room van Suid Afrika se verpleegkundiges in Australia sit nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.