Tekort aan vragmotorbestuurders in SA dreig

(Foto: pixabay)

ʼn Tekort aan opgeleide vragmotorbestuurders kan lei tot rampspoedige tekorte aan belangrike voorraad – ook kos – en kan alle Suid-Afrikaners raak. Só waarsku Arnoux Maré, besturende direkteur van Innovative Learning Solutions, oor die gevaar wat ʼn tekort aan vragmotorbestuurders vir die verskaffingswaardeketting inhou.

Padvragvervoer is toenemend besig om spoorvervoer as voorkeurvervoermiddel verby te steek en dit vererger die probleme wat gepaard gaan met ʼn groeiende tekort aan gekwalifiseerde vragmotorbestuurders.

Meer as 150 miljoen ton vrag is tussen Januarie en Maart vanjaar per pad vervoer, terwyl net 40 miljoen in dieselfde tydperk op die land se spoorweë vervoer is. Syfers van die Stellenbosch Universiteit (US) en die Wêreldbank raam dat Suid-Afrika se logistieke sektor verantwoordelik is vir tot 11,8% van die land se BBP en dit onderstreep die belang van die bedryf vir die ekonomie.

“Ons goedere en voorraad verskyn nie net wonderbaarlik in supermarkte nie en die vragmotors waarmee dit aangery word, bestuur ook nie hulself nie. Die mense verantwoordelik vir die bestuur van die vragmotors is net so belangrik as die goedere wat hulle aflewer. Sonder bestuurders sal ons verkrygingskettings tot stilstand knars,” sê Maré.

Die Julie-onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng het opnuut benadruk hoe kwesbaar Suid-Afrika se vervoersektor is. Die oproer het van die land se besigste en belangrikste roetes tot stilstand gedwing en groot ontwrigting veroorsaak. Dit het ook die behoefte aan ʼn betroubare en doeltreffende vervoerstelsel gewys.

Maré sê daar is vanjaar ʼn tekort van 3 000 vragmotor- en busbestuurders in die Suid-Afrikaanse vervoerbedryf. Die gevolg hiervan is dat talle maatskappye onopgeleide en ongekwalifiseerde vragmotorbestuurders aanstel, ʼn stap wat ook ander padgebruikers in die gevaar stel.

“Die kommerwekkendste is dat die tekort beteken dat werkgewers nie kan bekostig om hul drywers te laat rus nie. Daar word van vragmotorbestuurders verwag om elke beskikbare oomblik agter die stuurwiel te wees, ten spyte van die veiligheidsgevolge.”

Dié tekort aan gekwalifiseerde vragmotorbestuurder is egter nie uniek aan Suid-Afrika is nie. Lande soos die VSA en die Verenigde Koninkryk (VK) sukkel met dieselfde uitdagings. Hierdie lande werf bestuurders van oor die wêreld, insluitend van Suid-Afrika en die aptyt vir buitelandse bestuurders om internasionale gapings te vul vererger die tekort in Suid-Afrika.”

Maré sê Innovative Learning Solutions het sedert verlede jaar meer as 8 000 voertuigbestuurders opgelei om die tekort te help uitwis. Benewens vragmotorbestuurders sluit dit ook bus- en taxibestuurders in.

“Sonder vaardige, toegewyde vragmotorbestuurders gaan die grootste deel van die ekonomie, en die lewe waaraan ons gewoond is, tot stilstand kom. Opgeleide en gekwalifiseerde vragmotorbestuurders verminder ongelukke en verliese en verseker dat landsburgers sonder vertraging hul noodsaaklike voorraad ontvang, terwyl dit terselfdertyd tot die ekonomie bydra,” sê Maré.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jacques

Mense wat aldag en heeldag kla oor vragmotors op ons paaie vergeet dat daar absoluut niks is wat mens om jou sien of aan kan raak waarby ‘n vragmotor nie een of ander tyd betrokke was of is nie, vanaf die grondstowwe tot die finale produkte en selfs die afval daarvan.

Riana

Groter probleem, mense word met petrol bomme bestook… what happen to our Rail System… o ja tengronde gegaan danksy die ANC

Aai

Daar is baie bestuurders maar hulle gaan nie hulle lewens op die spel sit omdat die staat hulle nie kan beskerm.

Phillip

Gaan oorsee my seun gaan ook oorsee so drae hy sy kode 14 en sy pdp maak die jaar klaar met gr 12

Blomme

Wie wil dan nog in dié Wilde weste country ń vragmotor bestuur? Jou lewe is net mooi niks werd in dié geweldadige land nie. Die arme trokdrywers moet ook in die nag reis… Ope prooi vir die skurke wat nie ń duit omgee nie en nog meer regte het as die drywers!