Tekortkominge met welsynstoelae in parlement uitgewys

Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu (4 Maart 2020) (Foto: Armand Hough/African News Agency/ANA)

Die tekortkominge in die uitbetaling van maatskaplike toelaes deur die departement van maatskaplike ontwikkeling is vandeesweek in die parlement deur opposisiepartye uitgelig.

Dit is egter deur Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, geïgnoreer.

Zulu het in haar begrotingstoespraak bloedweinig nuwe inligting bekend gemaak, en grootliks slegs besonderhede herhaal oor bedrae van individuele welsynstoelae en bykomende koronavirus-toelaes.

Sy het hoegenaamd geen besonderhede verskaf oor hoe die uitbetalings van hierdie toelaes vorder nie, en het die oplaaiende gemeenskapspanning oor die nie-betaling van toelaes heeltemal verswyg.

Zulu het wel aangekondig dat die toewysing aan haar departement in die bykomende begroting opgeskuif is van R197 miljard na R223 miljard.

Voorts het sy weer die politieke geelwortel van ʼn basiese inkomstetoelaag genoem, sonder om aan te dui hoeveel dit sal bedra, wanneer dit dan beoog word en waar die geld vandaan moet kom.

Namens die DA het die LP Bridget Masango behoorlik teen Zulu uitgevaar, en uitgewys die departement van maatskaplike ontwikkeling se eie syfers bepaal daar is 3,5 miljoen huishoudings met voedselnood.

Dit is 14 miljoen mense, maar die staat help net 5,2 miljoen. Daar is dus agt miljoen mense wat krepeer van ellende terwyl hulle wag vir die departement om sover te kom om die noodverligtingstoelaag van R350 uit te betaal, om van ander toelaes nie eens te praat nie.

Masango het uitgewys dit is eers nadat die DA en gemeenskapsorganisasies hof toe is dat die departement opgehou het om nie-regeringsorganisasies te verhoed om warm kos af te lewer vir mense wat weens die grendelstaat besig was om van die honger om te kom.

Ook die hervatting van die skoolvoedingsprogram het eers gebeur nadat ʼn hofbevel vuur gemaak het onder Zulu se lustelose departement.

“En asof dit nie genoeg is nie, steel ANC-stadsraadslede armes se kospakkies. Hierdie minister is te laat vir Suid-Afrika,” het Masango afgesluit.

Masango se DA-kollega Alexandra Abrahams het reguit gesê die regering kan nie minder omgee vir die lot van die armes en kwesbares nie, en die IVP se Liezl van der Merwe het spesifieke voorbeelde van departementele laksheid opgerakel.

Namens die VF Plus het die LP Tammy Breedt gesê hardnekkige korrupsie kom voor in die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap (Sassa). Sy het die vertragings in die uitbetaling van die R350-noodtoelaag as “skokkend en hartseer” bestempel, en die wanaanwending van geld vir vroeë kinderontwikkeling betreur.

“Daar is te veel foute en leuens in hierdie departement, en te min wilskrag,” het Breedt gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Magda ·

ONBEVOEGD WEET NIE WAT SY NOG IN DAAI POSISIE DOEN NIE – FIRE HAAR ASB

Andre ·

Sluut net al daardie agterdeure en die probleem is opgelos.

JohanR ·

Watter een maak jou meer skrik as jy ‘n berig sien met ‘n foto daarby : 1. President Nkosazana Dlamini-Zuma ( Ou KopDoek) 2. Minister van Maatskaplike Ontwikkeling Lindiwe Zulu (The Last Fashionable Soldier) 3. Minister van Waterwese Lindiwe Sisulu (PruikKop) 4. Onder President Cyril Ramaphosa as hy weet net agter hom in die tv ateljee staan President Dlamini Zuma met ‘n sjambok, terwyl hy met die nasie praat?

Andrea ·

Johan jy praat die waarheid. Kyk na die verwarring, onsekerheid en verval in ons land. Hoekom neem hofsake so lank ?

Eiervrug ·

Nog so 3 dae se meetings dan sal hulle ‘n antwoord vir hierdie flater hê. Ek raai dit gaan Apartheid se skuld wees…

JohanR ·

Groen Haas…moet daar nie ‘n twaalf mens kommitee aangestel word nie teen R750000 stuk elk, om die saak te ondersoek? Die kaders moet eet!

Suzette ·

En dan word daar net meer en meer geld aan haar departement toegeken om in die bodemlose put te verdwyn….

Elsa ·

Het niemand meer trots in hulself of hul werk?

Sies wat n skande

Jacobus ·

Hierdie raak nou lank reeds na aan kriminaliteit. Mr Ramphosa die onbevoegde kaders versuim hulle pligte teenoor kwesbares. TREE OP.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.