‘Teleurgesteld, nie verbaas’ – RP oor uitsluitingsbesluit

(Argieffoto: Flickr)

“Die Referendum Party (RP) is teleurgesteld, maar nie verbaas nie.”

Dít was die reaksie van die RP nadat hy ʼn formele brief van die Veelpartyhandves ontvang het waarin sy aansoek om by dié groep aan te sluit, verwerp word.

Die Handves, ʼn koalisie van onder meer die DA, VF Plus en Action SA, het Donderdag die RP se aansoek van die hand gewys.

Phil Craig, leier van die RP, sê hulle het kiesers tydens die bekendstelling van die party in November beloof dat hulle nasionaal saam met die Veelpartyhandves gaan stem in ʼn poging om die ANC te ontsetel.

“Ongeag hierdie besluit [om die aansoek te verwerp] sal ons daardie belofte nakom en saam met die Veelpartyhandves stem, of ons nou formeel toegelaat word tot die handves of nie. Ons is ʼn party wat ons beloftes nakom,” sê Craig.

Hy meen egter die besluit is ʼn swak weerspieëling op die Veelpartyhandves.

“Hulle erken self dat ʼn katastrofe Suid-Afrika in die gesig gestaar wat alle Suid-Afrikaners brandarm gaan laat. Intussen het geen geloofwaardige meningspeiling die Veelpartyhandves die geringste kans gegee om die nasionale regerende party ná 2024 te word nie.

“Ondersteuning vir die Veelpartyhandves is simbolies belangrik, maar om voor te stel – soos wat ActionSA in sy reaksie aan die RP gedoen het – dat dit die enigste oplossing is, is skrikwekkend naïef.

“Sou dit die enigste oplossing wees, is Suid-Afrika reeds gedoem,” sê Craig.

ActionSA het vroeër aangedui hy sal eerder die Veelpartyhandves verlaat as om met dié Kaapse onafhanklikheidsbeweging geassosieer te word. Action SA sê egter die Referendum Party se doelwit is alleenlik om die lewe van inwoners van die Wes-Kaap beter te maak, deur weg te breek van die res van Suid-Afrika. Dít terwyl die ANC alle Suid-Afrikaners “terughou” en dit landwyd – en nie net in die Wes-Kaap nie – gesien kan word. ActionSA meen egter hierdie mislukkings regverdig nie ʼn “skeuring” nie.

Craig het in reaksie op die besluit gesê daar is geen pasgemaakte oplossings nie, maar dat Kaapse onafhanklikheid vir die inwoners van die Wes-Kaap, “waarvan die meerderheid nog nooit vir die ANC gestem het nie, ʼn geldige en aantreklike oplossing is”.

“Ondersteuning van Kaapse Onafhanklikheid as ʼn oplossing vir die Wes-Kaap beteken nie dat die RP nie ander oplossings vir ander dele van Suid-Afrika kan ondersteun waar die politieke omgewing anders is nie.

“Met die sterk en dreigende moontlikheid van ʼn ANC/EFF-regering is die reg tot selfbeskikking die magtigste wapen vir diegene wat die verwoesting en vernietiging wat só ʼn regering ongetwyfeld sal ontketen, wil neutraliseer.”

Boonop beywer verskeie partye wat deel van die Veelpartyhandves vorm hulle reeds openlik vir verskeie vorme van selfbeskikking, sê Craig.

“In hul verwerping van die RP se aansoek, het ActionSA die strewe na Kaapse onafhanklikheid as ‘grondwetlik aanstootlik’ beskryf. Dit is eenvoudig belaglik.

“Die Grondwet en die internasionale handveste wat Suid-Afrika onderteken het, ondersteun uitdruklik selfbeskikking, waarvan afstigting een erkende vorm is.”

“Einde ten laaste het die Veelpartyhandves ondersteuning aan die RP afgekeur gegrond op ons begeerte om die mense van die Wes-Kaap formeel in ʼn grondwetlike referendum te vra hoe hulle op die einste dreigemente waarvoor die Veelpartyhandves geskep is, wil reageer.

“Die uiterste ironie is dat baie van die partye in die Veelpartyhandves die afwenteling van mag ondersteun.

“Blykbaar wil hulle dit weg van die ANC na hul eie amptenare afwentel, maar nie heeltemal so ver af as na die mense self nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Ore ·

Ek begin twyfel aan DA. Al die beskuldigings van arrogansie begin nou sin maak.

Althes ·

Die DA moet baie mooi hieroor dink. Want hierdie selfbeskikking is baie aantreklik vir mense.
Alhoewel dit die DA in baie moeilike situasie plaas met sy Veelpartuhandves.

Wicus ·

Op die langtermyn is die veelparty alliansie gedoem, dit mag dalk huidig help. Dit gaan oor waardes en sienswyses wat hemelsbreed verskil. Kom ek verduidelik, ek haal aan: “Action SA sê egter die Referendum Party se doelwit is alleenlik om die lewe van inwoners van die Wes-Kaap beter te maak, deur weg te breek van die res van Suid-Afrika.” Die oomblik as jy ‘n slaggat naby jou huis regmaak, word die vraag gevra hoekom nie by ons ook nie. ‘n Vriend het ‘n werker gehelp om ‘n steenhuisie te bou, wat gebeur toe, die plakker bure brand dit af want dis onregverdig vir die een om in ‘n steenhuisie te bly en hulle bly in sink geboue. “Struggle one, struggle all”.

Republikein in die Wes Kaap ·

Wicus, dis dieselfde met Afriforum se OnsSalSelf.

SwartBees ·

@ Wicus, jy slaan die spyker solied op die kop.

My vraag bly staan, met struggle one, struggle all mentaliteit, hoe beweeg mens voorentoe/weg van agter uitgang?

Phillip ·

Afriforum en Ons sal Self is n organiesasie en nie n politieke party nie
Republican in the Western Cape

Goldy ·

DA se gierigheid is al lankal te bespeur maar waarom die VF, julle was dan nog altyd betroubaar? Julle staan tog vir selfregering en kon nou by die eerste streek begin het.

Republikein in die Wes Kaap ·

Phillip, dit het niks te make met ‘n politieke party nie. Gaan lees weer Wicus se kommentaar. Struggle one, struggle all.

kaplyn ·

Kom ons beskou die aangeleentheid met insig. Dit is die verkeerde tyd om die referendum voor die verkiesing te hou. Wag tot na die verkiesing dan is ek seker die meerderheid van die Veelparty lede sal dit ondersteun. Moenie nou dom wees nie, dink voor julle handel! Een ding op ‘n slag! Baba treetjies! Geduld!

capie ·

Action SA sal veel eerder die hele land in chaos gedompel wil sien as wat een streek onafhanklik word , welvarend word en ander streke dieselfde doen . Met die DA het ek lankal moed opgegee. Hulle praat net wat mense wil hoor .

Republikein in die Wes Kaap ·

Korrek, kaplyn. Afstigters moet die fondasies eers in plek kry. Toets gemeenskappe se aptyt op kiesafdelingsvlak. Doen bemarking vir afstigting en plaas volledige planne vir ‘n nuwe bedeling op die tafel, insluitend risikos. Eers dan sal ‘n referendum werk. Kiesers sal nie weer val vir halfgebakte planne soos by Kodesa nie.

Witbaard ·

DA is weer besig om hulleself en die res van SA wat gekant is teen die ANC en eff, in die voet te skiet.

Staal ·

Asseblief mense, moenie dat julle emosies gesonde denke oorheers nie. Ons land het nie ‘n federale bestel nie. Die RP moet wakker skrik uit hul drome.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.