Teleurstelling ná tifoon Namibiërs se Wêreldbeker-rugbydrome kelder

Lourens en Ronelle Rademeyer het van Windhoek gereis om Namibië se wedstryd teen Kanada in Kamaishi in Japan by te woon. Weens tifoon Hagibis is die wedstryd afgelas. (Foto: verskaf)

ʼn Egpaar van Windhoek keer teleurgesteld terug na Namibië, nadat tifoon Hagibis, wat groot verwoesting in die land gesaai het, die afgelope naweek se wedstryd tussen Namibië en Kanada gekelder het.

Ronelle Rademeyer (52), nuusredakteur van Republikein in Namibië, en haar man, Lourens (52), het spesiaal na Japan gereis om daar na die span se laaste groepwedstryd te gaan kyk. Die egpaar se seun, André (21), speel loskopstut vir Namibië.

“Dit was Namibië se groot kans om vir die eerste keer nóg in die Wêreldbeker-rugbytoernooi ʼn wedstryd te wen. Om perspektief te gee: Namibië het ʼn poel van omtrent 900 geregistreerde rugbyspelers waaruit hulle [die nasionale span] kies. Daar is net ʼn handjievol spelers wat beroepsrugby by klubs in die buiteland of by unies in Suid-Afrika speel. Die res is almal amateurs,” het Ronelle Rademeyer gesê.

Die All Blacks, in vergelyking, het ʼn geregistreerde rugbypoel van nagenoeg 150 000 spelers.

Die laaste groepwedstryde is die naweek besleg en Namibië keer dus nou onverrigter sake huis toe.

Die Rademeyers se seun, André, speel loskopstut vir Namibië. Hier is hy op die voorblad van ‘n plaaslike koerant, nadat teleurgestelde
ondersteuners die span by die stadsaal in Miyago met Namibiese vlae en baniere verwelkom het.

Rademeyer het gesê hulle het verlede week in Japan aangekom en aanvanklik het dit gelyk of die tifoon sou wegbeweeg van Kamaishi, waar die wedstryd tussen Namibië en Kanada gespeel sou word. “Kamaishi is omtrent ses ure noord van Tokio geleë. Ons was eintlik rustig in ons gemoed dat ons nie vreeslik deur die tifoon geraak gaan word nie,” het sy uit Japan vertel.

Kamaishi, die toernooi se kleinste gasheerdorp, is in 2011 deur ʼn verwoestende tsoenami, die gevolg van ʼn aardebewing, getref. Meer as ʼn duisend mense het omgekom en tot vandag word talle vermis. Die Kamaishi-gedenkstadion is opgerig op die perseel waar ʼn skool destyds platgevee is. BBC berig in die maande ná die dodelike tsoenami het inwoners planne beraam om die dorp weer ʼn doelwit en ʼn gevoel van trots te gee – en rugby was die middelpunt van dié plan. Die stadion is as deel van ʼn heropbouprogram opgerig.

Rademeyer het gesê die plaaslike inwoners se opgewondheid oor die wedstryd was byna tasbaar, maar die weer het nie saamgespeel nie.

Teen Vrydagmiddag was dit vir die Rademeyers – en die streek se inwoners – bykans ʼn gegewe dat hulle nie die tifoon gaan vryspring nie. Die onweerswolke het dig saamgepak. Hulle het Saterdag Namibië se kapteinsoefening bygewoon, by hul seun in sy hotel besoek afgelê en is daarna terug na hulle hotel in Miyago. “Die telefone het almal ewe skielik so ʼn snaakse deuntjie begin speel en toe flits daar in Japannees ʼn noodboodskap.”

Dit was ʼn sogenaamde kategorie 3-waarskuwing wat bejaardes aangeraai het om hul huise vir veilige skuilings te verlaat. “Ons het vir onsself gesê ons is nie bejaard nie, so ons is veilig.”

Die waarskuwing is later na kategorie 5 opgegradeer. Rademeyer het gesê hulle het meestal Engelse media dopgehou om op die hoogte van sake te bly.

Sy het vertel ʼn stormsterk wind het deur die nag gewaai en dit het hard gereën, maar verder was daar weinig ontwrigting. Hulle het die volgende oggend op nuuskanale eers die volle omvang van die tifoon se skade besef.

Onweerswolke pak Saterdag saam oor die Kamaishi-gedenkstadion in Japan. Tifoon Hagibis het die streek ‘n paar uur later getref. (Foto: Ronelle Rademeyer)

Daar is ook vroegoggend al aangekondig dat die Namibië-Kanada-wedstryd weens die storm afgelas is. Volgens haar was daar by die stadion net enkele omgewaaide bome in die parkeerterrein en modder in die strate. “Ons het vir mekaar gesê as jy ʼn span instuur, ruim jy binne ʼn uur daai gemors op en kan die wedstryd voortgaan. Teen 12:00 was dit heel oopgetrek, die son het geskyn, die blare het nie geroer nie en dit was windstil. Dit was ʼn lieflike dag.

“In ons stilligheid voel ons die wedstryd kon voortgegaan het,” het sy gesê.

“Ons was deurentyd veilig en het nooit regtig bedreig gevoel nie. Ons is verskriklik teleurgesteld dat die wedstryd nie kon voortgaan nie.”

Rademeyer het gesê dit was ook vir die Namibiese span en die talle ondersteuners wat vir die wedstryd na die dorp gereis het, ʼn enorme terugslag.

ANA berig die dodetal in Japan weens tifoon Hagibis het reeds tot 48 gestyg.  Nagenoeg 17 mense word steeds vermis en 100 is beseer.

Duisende toeriste is in die land vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi en Japan is skerp gekritiseer omdat noodboodskappe wat uitgestuur is, meestal nét in Japannees gedoen is, het The Japan Times berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

LR ·

I.p.v kla die span kon saam met Kanada se span inspring en met die opruiming help. Welgedaan Kanada, ware sportmanskap!

Karlahari ·

Rugby was deel van die plan om die dorp se trots te herbou.
Wat stop die twee spanne om n vrienskaplike wedstryd te speel in die stadion?
Nou of later. Ek is seker die internasionale rugby raad sal dit ondersteun as n welwillendheids gebaar?

Therese van Schalkwyk ·

Saam met Lourens en Ronelle Rademeyer teleurgesteld dat hierdie unieke geleentheid, en heel moontlik die énigste keer wat hul seun vir sy land by ‘n Wêreldbeker sou speel, afgelas is.
Dankie dat hulle storie met Maroela gedeel is, altyd lekker om te lees van persoonlike ervarings by sulke geleenthede. Dankbaar om my te distansieer van die belaglike leserskommentare hierbo en hoop die Rademeyers kry dit nie onder oë nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.