Telkom-diewe skuldig bevind

hof-hamer

Argieffoto

Drie mans is Donderdag in die Pretoriase landdroshof skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede nadat hulle ses jaar gelede ʼn Telkom-winkel in die Irene-winkelsentrum in Pretoria beroof het. Hulle het ook die ondersoekbeampte van die saak probeer omkoop om getuienis teen hulle te vernietig.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, sê die mans, Khangelani Tshalibe, Collin Moyo en Kumbulani Keizer Dube, het op 18 Oktober 2014 gewapend die Telkom-winkel ingestorm en die winkel beroof. Hulle het selfone ter waarde van meer as R100 000 gesteel.

ʼn Ondersoek deur die Yeoville-polisie in Johannesburg het tot die mans se inhegtenisneming gelei. Hul aansoek om borgtog is teengestaan en hulle het in aanhouding in Kgosi Mampuru in Pretoria gebly tot hul verhoor op 21 Junie 2015 begin het.

Peters sê tydens hul aanhouding het hulle die ondersoekbeampte, sers. Thabo Moatshe, gekontak en aangebied om hom te vergoed as hy getuienis teen hulle kan vernietig.

“Moatshe het onmiddellik die polisie se teenkorrupsie-eenheid gekontak en die drie verdagtes is vasgetrek net toe hulle ʼn sak met die R150 000 se omkoopgeld in die Boulders-winkelsentrum in Midrand wou ‘afgee’,” sê Peters. Verdere aanklagte van korrupsie is toe teen die verdagtes aanhangig gemaak.

Die verdagtes het tereggestaan op aanklagtes van roof met verswarende omstandighede, oortreding van die Wet op die Beheer van Vuurwapens, die besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie, die besit van vermoedelik gesteelde eiendom, korrupsie, geldwassery en dwarsboming van die gereg.

Die drie verdagtes sal na verwagting op 24 Augustus weer in die hof verskyn wanneer hulle gevonnis sal word.

Peters sê die bestuur van die polisie in Gauteng glo dat hierdie inhegtenisneming die werk van ’n georganiseerde groep misdadigers wat ’n paar jaar gelede selfoonwinkels geteiken het, in die wiele gery het.

Lt.genl. Elias Mawela, die polisiekommissaris van Gauteng, het die polisie se harde werk geloof wat op die ou einde daartoe gelei het dat geregtigheid geskied. Hy het ook Moatshe uitgesonder wat integriteit getoon het en nie die omkoopgeld aanvaar het nie.

“Dit is slegs met hierdie soort onwrikbare toewyding tot ondersoeke en hofverhore, sowel as ʼn hoë vlak van dissipline en etiese gedrag deur ons lede, dat ons die vertroue van die gemeenskappe wat ons dien, kan terugwen,” sê Mawela.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frank ·

6 jaar later????? Vertroue in ons kruppel Regstelsel? Hulle gaan seker loop want hulle het mos nou klaar hulle vonnisse uitgedien.

Misky ·

6 Jaar later en dit met sulke verdoemende getuienis….. Belaglik man en moes 6 jaar terug afgehandel gewees het!!!!

En die “vakansies” in tronke moet tot n einde kom. Harde arbeid en klippe kap wat as bakstene gebruik kan word, moet terugkom. Sit daar en geniet hul tyd op ons onkoste!!

Adeline ·

Wel wat ek aflei in die berig is dat die verdagtes een of ander tyd borgtog moes kry om vasgetrek te word deur hulle reëling vir aflewering van omkoopgeld…. dit wys dat die misdadigers in die RZA bewus is daarvan dat hulle beamptes en werkers van die sap(siens) kan omkoop en wegkom met kriminele oortredings… “crime pays”. RZA is ‘n kriminele paradys/hemel. Dankie vir die eerlike polisie wat nog vir geregtigheid staan.

marius ·

Hoe het hulle die geld aangebied terwyl hulle in hegtenis was ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.